Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kaap Agri ‘vermy Covid-19-ysberg’
Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri.

Dis lekker om in die landbou te wees, sê Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, oor die groep se jongste resultate en vooruitsigte vir die volgende jaar.

Ondanks die koronavirus-inperking wat die landboumaatskappy se verkope veral in die tweede helfte van sy afgelope boekjaar tot einde September geknou het, kon Kaap Agri tog sy omset met 1,5% tot R8,6 miljard verhoog en het sy herhalende wesensverdienste per aandeel met 4,6% tot 392,52c gegroei.

Met goeie reënval in die koringstreke word ’n stewige koringoes in die Swartland verwag. Die vrugteseisoen van 2020, wat volgens Walsh oor die komende ses tot 18 maande goeie verkope van die groep se landbouprodukte kan oplewer, was ook goed.

Danksy die salarisopofferings van die personeel, onder wie direkteure en die topbestuur, kon die groep daarin slaag om sonder enige afleggings deur die ergste van die inperkings te kom.

Personeellede het drie maande lank tot 15% van hul maandelikse vergoeding prysgegee as ’n noodmaatreël om die groep se kontantposisie te beskerm, het Walsh verduidelik. Die jaarlikse verhogingsdatum is ook uitgestel as ’n manier om kapitaalbronne te bespaar.

Een van Kaap Agri se Agrimark-winkels in die Boland.

“Ons kon die Covid-19-ysberg vermy en die onderneming stabiliseer.”

Slotdividend

Kaap Agri het soos ’n paar ander maatskappye ook aanvanklik teen ’n halfjaardividend te midde van die onsekerheid oor die pandemie besluit, maar teen die jaareinde het die groep wel besluit om ’n slotdividend van 50c per aandeel (teenoor die vorige jaar se 90c per aandeel) te verklaar.

Verkope by Kaap Agri se vulstasies, geriefswinkels en kitskosrestaurante is sleg geraak deur die inperking, veral weens die verbod op die verkoop van sigarette en ander nienoodsaaklike produkte tydens die aanvanklike strenger inperkingsvlakke.

Brandstofverkope was ook laer.

Die groep het in die eerste halfjaar besluit om sy vulstasie-afdeling – The Fuel Company – nie meer so vinnig uit te brei as wat beplan is nie. ’n Strategiese hersiening is gedoen van watter persele ’n groter kans het op winsgewendheid en watter dalk verkoop moet word.

G’n dieseltekorte

Hoewel ernstige dieseltekorte rondom Junie en Julie in die binneland voorgekom het, veral weens raffinaderye wat weens die inperking gesluit was en die brandstofpypleiding van Transnet wat weens inbrake en diefstal gesluit is, het Kaap Agri geen probleme met brandstofvoorsiening ondervind nie. Walsh verduidelik dat Kaap Agri reeds vyf jaar gelede begin het om sy eie voorsieningskanale te skep, en in werklikheid die afgelope tyd boonop nuwe klante kon werf omdat daar altyd genoeg brandstof by al sy afsetpunte was.

Handelsnaam

Die binnekant van die Agrimark winkel in die Paarl.

Die groep het die nuwe boekjaar intussen met ’n opgeknapte embleem en handelsnaamstrategie betree. Al die verskillende bestaande handelsname soos Wesgraan, Pakmark, Liquormark en Kaap Agri Mechanisation sal nou met die Agrimark-handelsnaam gekombineer word. Dit is om geld te bespaar en ’n meer herkenbare eenvormige bemarkingsbeeld uit te dra.

Pakmark voorsien verpakkingsmateriaal aan die vrugtebedryf, Wesgraan lewer graansilodienste aan die koringbedryf en bemark ook aartappelmoere uit die Sandveld- en Ceres-omgewing. Kaap Agri Mechanisation verkoop en diens trekkers en ander landboumasjinerie, en Liquormark is ’n drankwinkelkettinggroep. Kaap Agri besit ook TEGO Plastics, wat plastiekkratte vir die vrugtebedryf vervaardig.

Meer oor:  Kaap Agri  |  Covid-19  |  Werkskepping  |  Ekonomie  |  Boerdery  |  Brandstof  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.