Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kabinetskuiwe se rimpels raak kleinsake
Ben Bierman, besturende direkteur van Business Partners.

Suid-Afrikaanse kleinsakeondernemings voel nog nie die volle impak van die onlangse kabinetskuiwe en die kredietafgradering wat daarop gevolg het nie.

Dít het die verwagte ekonomiese herstel op sy kop gekeer, sê Ben Bierman, besturende direkteur van Business Partners, ’n finansieringsmaatskappy vir kleinsake in Suid-Afrika en uitgesoekte Afrika-lande.

“Daar lê ’n uitdagende tydperk vir kleinsake in die besonder en vir die sakesektor in die algemeen voor,” het Bierman met die bekendmaking van Business Partners se jaarresultate gesê.

Oor die afgelope jaar het dié finansier 327 beleggingstransaksies in die kleinsakesektor goedgekeur wat meer as R1,14 miljard beloop het.

In die proses is 12 395 werkgeleenthede geskep.

“Dít is geen geringe prestasie in die konteks van die gedempte makro-ekonomiese omgewing wat in dié tydperk geheers het en die wisselende werkloosheidsyfer wat ondervind word nie.”

Maar kleinsakevertroue is aan die afneem en die resultate dui ook op groeiende kommer onder die sektor oor hoe hy sy skuldlas gaan verlig as die politieke onsekerheid voortduur, waarsku Bierman.

In die jaar onder oorsig het Business Partners se slegte skuld ook taamlik skerp met 87,5% tot R63,9 miljoen gestyg.

Die vlak van nood onder ons kliënte is hoër, en dit het gevolglik tot ’n skerp styging in krediet-verliese gelei.
Ben Bierman, besturende direkteur van Business Partners

“Die vlak van nood onder ons kliënte is hoër, en dit het gevolglik tot ’n skerp styging in kredietverliese gelei.”

Bierman sê dit het ná twee opeenvolgende moeilike jare duidelik begin word presies hoe groot die makro-ekonomie se impak op ondernemings was.

Die teiken wat Business Partners vir die jaar se finansiering gestel het, was R1,2 miljard en die totale finansieringsbedrag van R1,147 miljard wat toegestaan is, is dus ’n raps minder as verwag.

In die vorige boekjaar is 371 beleggings ter waarde van R1,104 miljard goedgekeur.

Die ekonomiese onsekerheid en gebrek aan groei vereis groter noulettendheid en omsigtigheid wanneer besluite geneem word, sê Bierman.

“Dit het duidelik geword dat kleinsakeondernemings groter druk ervaar en dit was belangrik om voldoende steun ná die belegging te bied.”

Die maatskappy het ook sy uitgawes onder dié moeilike omstandighede goed beheer.

Business Partners se totale inkomste het met 11,9% tot R613,4 miljoen gestyg, van die vorige boekjaar se R548,2 miljoen. Die netto toeskryfbare wins vir die jaar kom op R207,1 miljoen te staan, wat ’n styging van R20,8 miljoen teenoor die vorige jaar is.

Wat die vooruitsigte vir die volgende boekjaar betref, sê Bierman dit is noodsaaklik dat daar beleids- en politieke sekerheid kom.

“As ons na Business Partners se kleinsake-indeks kyk, het vertrouensvlakke verlede jaar stadig maar seker begin styg, maar in die eerste kwartaal van 2017 het dit weer skerp afgeneem, ’n duidelike illustrasie van die omvang waartoe onstabiliteit kleinsakeondernemings ondermyn en keer om te groei, meer mense in diens te neem en hul kontantvloei te beheer.”

Meer oor:  Business Partners  |  Kleinsake  |  Ekonomie  |  Kmo's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.