Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kan jy jou huurders dwing om te ent?

’n Werkgewer van Midrand moes ná die toetrede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie die afgelope week sy dreigement terugtrek om werkers wat teen 1 September nog nie teen Covid-19 ingeënt is nie uit die maatskappybarakke te sit.

astrazeneca, inenting
In verskeie lande word gedwonge inentings ’n werklikheid, maar daar is baie grys gebiede. Foto: Reuters

Regskenners sê egter dié kwessie is nog ’n grys gebied.

’n Herrie het losgebars nadat ’n brief van Bondev aan veiligheidswagte in sy diens die afgelope week op Twitter geplaas is. Die brief, gedateer 9 Julie, dreig hulle met uitsetting tensy hulle ingeënt is.

Bondev het toe verduidelik dat die beamptes nie permanent in die kwartiere woon nie, maar net daar mag oorslaap as hulle nie tussen skofte wil huis toe gaan nie.

In ’n gesamentlike verklaring met die Menseregtekommissie het Bondev later gesê die saak is vriendskaplik opgelos sonder dat enigiemand uitgesit of teen sy wil ingeënt is. Die dreigbrief is teruggetrek.

Tog is die kwessie volgens prof. Koos Malan van die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria nie so klinkklaar nie.

Die regering het onlangs riglyne gepubliseer waarvolgens werkgewers Covid-19-inenting verpligtend kan maak in die werkplek. Werknemers wat sonder goeie rede weier en selfs diegene met goeie redes, kan hul werk verloor as die werkgewer nie elders vir hulle voorsiening kan maak nie.

Huurders

Die vraag is of verhuurders in ’n poging om ’n veilige omgewing vir hul huurders daar te stel, veral in hoëdigtheid-omstandighede soos koshuise, ouetehuise en hostelle, dieselfde vereiste aan hul huurders mag stel.

Sulani Jooste en Mark McIntosh van die regsfirma Webber Wentzel meen dit sal moeilik wees vir ’n verhuurder om so ’n vereiste in ’n bestaande huurooreenkoms in te voeg sonder om dit op skrif te stel en tensy die regering ’n regulasie uitreik wat dit vereis.

Volgens Pèter Wassenaar, prokureur van Kriek, Wassenaar en Venter Ingelyf, is die verhouding tussen verhuurder en huurder kontraktueel van aard. Die verhuurder sal slegs die huurder se inenting al dan nie kan reguleer as die huurkontrak daarvoor voorsiening maak dat hy sulke reëls mag skep.

As die regering egter regulasies uitreik om inenting in so ’n situasie te vereis, sal die verhuurder dit kan afdwing, maar waarskynlik net in gemeenskaplike areas.

Verhuurders kan byvoorbeeld reeds die rampbestuursregulasies in hul gebruiksreëls vir gemeenskaplike areas inlyf, om by voorbeeld die dra van maskers af te dwing, maar dra geen verantwoordelikheid vir sy huurders se optrede in uitsluitlike gebruiksareas soos die woonstel of kamer self nie.

Wassenaar sê namate verhuurders hul risiko in die lig van die Covid-19-pandemie probeer bestuur, kan inentingsklousules toenemend in nuwe kontrakte ingesluit word. Die afdwingbaarheid daarvan hang egter af van hoe dit bewoord is.

Hy meen daar is niks daarmee fout om tydens die onderhandelinge vas te stel of die voornemende huurder sy inenting gehad het en indien wel, dit in die kontrak te boekstaaf nie. As dit later aan die lig kom dat die huurder daaroor gelieg het, kan die verhuurder die kontrak beëindig.

Die verhuurder kan weier om ’n huurkontrak te sluit met iemand wat nie ingeënt is nie, sê Wassenaar.

Hy meen dit is ook aanvaarbaar dat die twee partye ooreenkom dat die huurder ’n spesifieke entstof neem. So ’n bepaling sal egter baie spesifiek moet omskryf op watter entstof ooreengekom is.

Verhuurders wat vir hulself vir die toekoms ’n algemene diskresie in die kontrak wil insluit, sal hulle egter vasloop, meen Wassenaar. “Die realiteit is dat die Covid-19-virus gereeld muteer en dat verskeie tipes inentings van tyd tot tyd in die mark sal wees. Die verhuurder se diskresie oor watter virusse hy sal wil bekamp en watter inentings sy huurder sal moet neem, sal onredelik wyd en arbitrêr wees.”

Wassenaar meen dit sal ongrondwetlik en ongeldig wees om in ’n kontrak aan een party die reg te gee om binne sy diskresie oor die skending van ’n ander party se liggaamlike integriteit te besluit – of om as gevolg van daardie party se nienakoming voordele onder die kontrak te weerhou.

Volgens Malan is daar twee stelle botsende regte ter sprake. Aan die een kant die huurder se reg op liggaamlike integriteit, privaatheid, vrye uitdrukking en kontraktuele regte; aan die ander kant die verhuurder se plig om ’n veilige omgewing vir die huurder te skep.

Hy sê ’n hof sal eerstens die feitelike situasie oorweeg soos byvoorbeeld die ouderdom van die huurders en of dit hulle meer kwesbaar maak en die mate van wisselwerking tussen hulle.

Tweedens sal die regte van die betrokkenes teen mekaar opgeweeg word. Hy meen as die risiko groot genoeg is, kan die hof ’n verhuurder wat inenting vereis, ondersteun, mits hy op ’n billike wyse kennis gee aan huurders van die vereiste en as hulle nie instem nie, vir hulle genoeg tyd gee voordat hulle die eiendom moet ontruim.

Die Johannesburgse vereniging van eiendomseienaars en -bestuurders (JPOMA), wat gesamentlik meer as 40 000 wooneenhede aan meer as 200 000 huurders in die middestad verhuur, het aan Rapport gesê hulle sal huurders aanmoedig om hulle te laat inent, maar dit nie probeer afdwing nie.

Meer oor:  Huurders  |  Verhuurders  |  Inenting  |  Gedwonge Inentings  |  Inentings  |  Verpligte Inenting  |  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.