Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
KAP maak voorsiening vir PG Bison se gekonkel

Die nywerheidsmaatskappy KAP Industrial gaan in sy jaarstate voorsiening maak vir ’n voorwaardelike aanspreeklikheid vir die beweerde samespanning waarby sy bosbou- en houtprodukgroep PG Bison betrek word.

’n Foto wat saam met die verklaring op KAP Industrial se webtuiste oor PG Bison verskyn het. Dit toon van PG Bison se bedrywighede. PG Bison is in 2004 deur Steinhoff gekoop.

Gary Chaplin, uitvoerende hoof van KAP Industrial, het by ’n aanbieding aan beleggers oor die resultate vir die halfjaar tot einde Desember gesê dis in dié stadium onmoontlik om te kwantifiseer hoe groot die voorwaardelike aanspreeklikheid is.

Die Mededingingskommissie het in November ’n klagte oor beweerde samespanning in die bosbou- en houtbedryf teen PG Bison na die Mededingingstribunaal verwys. ’n Boete van 10% van PG Bison se jaarlikse omset word gevra.

Dit hou verband met beweerde samespanning oor pryse wat tussen 2009 en 2016 plaasgevind het tussen PG Bison en ’n mededinger, Sonae Arauco.

LEES OOK: Houtkartel vasgevat oor jare se gekonkel

Chaplin het beleggers verwys na die meer omvattende verklaring op KAP se webtuiste oor die aangeleentheid.

Daarin is gesê die Mededingingskommissie het in Maart 2016 ’n klagte oor prysvasstelling teen PG Bison en Sonae Arauco South Africa begin ondersoek. Tydens ’n klopjag is sekere dokumente en inligting bekom.

PG Bison het daarna met interne ondersoeke sekere gedrag ontdek wat as ’n oortreding van die Mededingingswet beskou kan word.

PG Bison het die kommissie “dadelik in kennis gestel daarvan” en in April 2018 aansoek gedoen vir vrystelling van vervolging ingevolge die kommissie se beleid oor toegeeflikheid.

Luidens die verklaring het die besluit om PG Bison te vervolg gevolg op ’n skikkingsooreenkoms wat in Maart 2019 met Sonae gesluit is. Die ooreenkoms is Junie 2019 aangekondig.

Die kommissie het PG Bison in Oktober ingelig sy aansoek om vrystelling van vervolging is van die hand gewys.

In November 2019 is aangekondig die Mededingingstribunaal het die skikking met Sonae goedgekeur wat ingestem het om ’n boete van R46,9 miljoen oor drie jaar te betaal.

PG Bison het daarna die aansoek in die hooggeregshof gebring om die besluit van die kommissie te hersien en ter syde te stel.

Maar 18 maande later is ons aansoek vir toegeeflikheid van die hand gewys en is besluit om ons te vervolg.
Gary Chaplin

Daarna, op 13 November, het die kommissie ’n klagte teen PG Bison na die tribunaal verwys waarin beweer word dat die maatskappy tussen 2009 en 2016 betrokke was by samespanning. ’n Boete van 10% van PG Bison se jaarlikse omset word vir die oortreding voorgestel.

PG Bison het op 11 Desember 2019 ’n aansoek gebring by die tribunaal om die verhoor oor die klagte op te skort hangende die hooggeregshofsaak.

Die kommissie het intussen aangedui hy gaan nie die aansoek teenstaan nie.

Volgens Chaplin het hulle vir 18 maande met die kommissie saamgewerk.

“Maar 18 maande later is ons aansoek vir toegeeflikheid van die hand gewys en is besluit om ons te vervolg.”

PG Bison is in 2004 deur Steinhoff gekoop en het in 2012 deel van KAP Industrial geword. Steinhoff het die meerderheidsaandeelhouer van KAP geword.

Luidens KAP se verklaring was die gedrag “onbekend aan PG Bison en KAP se direksie en uitvoerende bestuur”, nie gemagtig nie en “’n absolute oortreding van die groep se etiese kode en kultuur”.

Wie is PG Bison?

PG Bison is ’n groot onderneming in KAP Industrial se stal.

Sy inkomste het in die halfjaar R1,8 miljard beloop en sy bedryfswins R364 miljoen.

KAP Industrial besit talle ondernemings waaroor in drie afdelings oor verslag gedoen word.

PG Bison het ook bosboubedrywighede en saagmeule in die Suid-Kaap.

Houtpanele en verwante produkte word by aanlegte in Ugie en Piet Retief vervaardig.

Van sy bekende produkte is SupaWood, MelaWood, BisonBord, DecoBord, Thesen en Woodline.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.