Kim Pratley, besturende direkteur van Pratley, het op 64-jarige ouderdom gesterf.

Kim Pratley, wat tot met sy afsterwe die besturende direkteur van Pratley was. Foto: Verskaf
Die maatskappy, wat Pratley se pa, George “Monty” Pratley, in 1948 gestig het, sê die verlies tref hom baie hard.
Pratley, wat gom en verwante produkte vervaardig, is wêreldberoemd vir sy innoverende uitvindings.
Een van sy produkte, Pratley Putty, is selfs deur die Amerikaanse ruimte-agentskap, Nasa, op ’n ruimtetuig gebruik wat in die 1960’s maan toe gegaan het.
Die Suid-Afrikaanse Munt het in 2019 met die 50ste gedenking van die maanlanding ’n munt uitgereik waarop na Pratley Putty verwys word. Dit is die enigste Suid-Afrikaanse produk wat al op die maan was.
Pratley het op 27 die leisels oorgeneem toe sy pa in 1983 oorlede is.
Die maatskappy word nou aan Pratley se seuns, Andrew en Charles, nagelaat.
“As ’n onderneming betreur ons die heengaan van ons geliefde vader, toegewyde besturende direkteur, mentor, vriend en kollega. Sy heengaan laat ’n diep gat in die lewe van almal by Pratley en almal wat hom geken het,” sê Andrew.
“Hoewel ons in dié tyd treur en ons verdriet tasbaar is, is ons ’n baie veerkragtige maatskappy wat deur die jare van krag tot krag gegaan het.
“Ons is wêreldleiers in die dinge wat ons doen en die produkte wat ons vervaardig. Ons sien uit na ’n baie blink toekoms vir Pratley, met verskeie opwindende dinge in die vooruitsig. Ons fundamentele beginsels, beleid, etiek en suksesresep is ’n bewys en ons bly rotsvas,” sê Charles.