Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kitskos bly pad na Famous Brands se beursie
Steers bly een van Suid-Afrikaners se gunstelinge wanneer dit by kitskos kom. Foto: Argief

Suid-Afrikaners se voorliefde vir kitskos, en hul plat beursies, is wat Famous Brands se beursie laat bult.

Dit was veral restaurante, soos Steers, Debonairs Pizza, Fishaways en Milky Lane, wat steeds die geld laat inrol.

Famous Brands het Dinsdagoggend sy resultate vir die jaar tot einde Februarie op die JSE se nuusdiens Sens gepubliseer.

Suid-Afrikaners se liefde vir pizza en Steers-burgers is glo teen dié tyd groter as hul liefde vir die alombekende Wimpy-burger.

Wimpy het egter, ná ’n paar jaar van groot uitdagings, wel weer vooruit begin boer.

Wanneer dit by Famous Brands se Signature-handelsname kom, was daar egter beduidend meer druk.

Restaurante soos Tashas, Vovo Telo, Mythos, Paul, Turn ’n Tender en NetCafé val in dié groep.

Famous Brands sê gedurende die jaar moes hy 17 van dié restaurante sluit.

In die algemeen het Famous Brands se restaurante in Suid-Afrika goed gepresteer.

Hul inkomste het met 9% tot R974 miljoen gegroei. Dit is teenoor ’n jaar gelede.

Bedryfswins is egter 1% laer op R472 miljoen.

Die winsmarge het ook van 53,2% tot 48,5% gedaal.

Die groot rede vir dié daling is omdat die maatskappy meer in tegnologie belê het by restaurante soos Steers, Debonairs Pizza en Wimpy, terwyl hy pryse by dié restaurante met minder as die inflasiekoers verhoog het.

Wanneer daar na verkope gekyk word, het restaurante se verkope met 6,4% gestyg. Dit is egter wanneer alle restaurante, nuwes en dié wat deur die loop van die jaar gesluit is, in ag geneem word.

Wanneer daar nét na restaurante gekyk word wat die vorige jaar óók in bedryf was, dan het verkope met net 2,4% gestyg.

Internasionaal

Famous Brands se restaurante in die res van Afrika en die Midde-Ooste het ook goed presteer.

Die groep het 322 restaurante in 16 lande in dié gebied.

Die maatskappy sê hy het deur die loop van die jaar hard gefokus om meer direk betrokke te wees by restaurante wat hy self in dié gebied bedryf.

Inkomste uit restaurante in dié gebied het tot R314 miljoen gestyg. Dit is teenoor die R273 miljoen van ’n jaar tevore.

Die bedryfswins het van R22 miljoen ’n jaar tevore tot R55 miljoen gestyg.

Die gebied verteenwoordig 8,7% van die groep se inkomste.

Debonairs Pizza, Steers, Mr Bigg’s, Wimpy en Mugg & Bean was verantwoordelik vir 93% van die inkomste wat uit dié gebied gegenereer is.

Gedurende die boekjaar is 28 nuwe winkels oopgemaak, 41 is gesluit en 26 is opgeknap.

In Brittanje het sake ook nie te goed verloop vir Famous Brands nie.

Die maatskappy sê daar was veral druk op sy restaurante waar mense kan aansit vir ete.

Die 67 Wimpy-restaurante wat hy daar het, se inkomste het wel met R122 miljoen gestyg. Dit is teenoor die R133 miljoen in 2019.

Bedryfswins het met 31% tot R23 miljoen gestyg.

Gourmet Burger King was ’n doring in die vlees vir Famous Brands.

Die restaurante het ’n verlies van £600 000 gely. Dit is teenoor die verlies van £4,6 miljoen in 2019.

Die maatskappy het 24 van sy winkels deur die loop van die jaar verkoop. Daar is nog 72 in bedryf.

Famous Brands het op 2 April aangekondig dat hy nie verder enige finansiële steun aan dié groep gaan gee nie.

Syfers

Die maatskappy het in die jaar tot einde Februarie ’n wesensverdienste per aandeel van R4,17 gelewer. Dit is ’n styging van 32% teenoor die R3,16 van ’n jaar te vore.

Basiese verdienste per aandeel styg met 175% tot R3,62. Dit is teenoor die basiese verlies per aandeel van R4,84 ’n jaar tevore.

Die groep se inkomste styg met net 1% tot R7,78 miljard.

Hierdie portefeulje bestaan uit 24 restauranthandelsmerke, wat verteenwoordig word deur ’n netwerk van 2 791 franchise- en 107 restaurante wat deur die maatskappy self besit word. Die restaurante is in Suid-Afrika, die res van Afrika en die Midde-Ooste en in Brittanje geleë.

Famous Brands waarsku dat sy prestasie tot Februarie 2020 nié as ’n riglyn gebruik moet word vir die komende boekjaar nie. Dit is omdat hy sy restaurante in Suid-Afrika en Brittanje, asook ander lande, moes sluit weens die staat van inperking wat in dié lande gegeld het.

Famous Brands het ook besluit dat, hoewel hy finansieel goed presteer het, hy nié ’n finale dividend gaan verklaar nie en hy eerder die kontant gaan hou.

Famous Brands het Dinsdag net meer as 1% hoër teen R34,42 op die JSE verhandel, kort nadat markte geopen het.

Meer oor:  Wimpy  |  Famous Brands  |  Gourmet Burger Kitchen  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.