Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kitskos-pioniers tree uit
Van links is Theofanis Halamandaris, Periklis Halamandaris en Panagiotis (Peter) Halamandaris, stigterslede van die Famous Brands-groep.Foto: Famous Brands

’n Familie wat diep spore in die Suid-Afrikaanse kitskosbedryf getrap het, gee nou die leisels oor aan die volgende geslag.

Famous Brands, wat onder meer die Steers-restaurante in sy stal het, het bekend gemaak dat drie direkteure, Panagiotis Halamandaris, (70), Theofanis Halamandaris, (66), en Periklis Halamandaris, (62) uitgetree het.

Die Halamandaris-familie het Steers begin en die braairestaurant-konsep in Suid-Afrika bekend gestel. Dié restaurantgroep het later Famous Brands geword en meer handelsname tot sy portefeulje gevoeg.

“Die direksie wil graag sy waardering uitspreek vir hul aansienlike bydrae sedert hulle die maatskappy in 1971 gestig het, asook hul bydrae in die direksie die afgelope 23 jaar sedert die maatskappy in 1993 genoteer is,” lui die verklaring wat  Famous Brands uitgereik het.

Die groep het in 1960 met ’n enkele Steers-restaurant begin. Hierna het die Halamandaris- en Halamandres-stigtersfamilies gewoeker in die kitskosbedryf in Suid-Afrika en word hulle wyd gehuldig as die baanbrekers van dié bedryf in Suid-Afrika.

Panagiotis (Peter) Halamandaris was ’n stigterslid van die groep in 1971. Hy het oor die jare in verskeie portefeuljekomitees van die direksie gedien en was voorsitter van Famous Brands toe dit genoteer is.

Sedert 2007 het hy as nie-uitvoerende voorsitter gedien tot sy uittrede in 2013. Hierna het hy ’n nie-onafhanklike en nie-uitvoerende direkteur geword.

Theofanis Halamandaris het hom in 1974 by Peter aangesluit en is as direksielid aangestel toe die maatskappy genoteer het. Hy was drie jaar lank die besturende direkteur voordat hy in 2001 as uitvoerende hoof aangestel is. Hy het in 2010 uitgetree en toe adjunkvoorsitter van die direksie geword. In 2014 het hy ook ’n nie-onafhanklike en nie-uitvoerende direkteur geword.

Periklis Halamandaris, die derde van vier stigterslede, het die groep se bedrywighede buite die landsgrense uitgebrei. Hy is ook in 1994 tot die direksie verkies maar het in 1999 bedank om na sy eie sakebelange om te sien. In 2001 is hy heraangestel as nie-onafhanklike en nie-uitvoerende direkteur.

Peter Halamandaris het met sy uittrede gesê sowel die Halamandaris- as die Halamandres-stigtersfamilie bly toegewyd tot Famous Brands se sukses.

“Ons behou ons 27,6%-belang in die maatskappy en die bestuur het ons volle ondersteuning.”

Nicolaos (Nik) Halamandaris (43), Peter Halamandaris se oudste seun, is as nie-onafhanklike en nie-uitvoerende direkteur in die direksie aangestel.

Hy het volgens die verklaring uitgebreide ondervinding in die voedselbedryf en was die afgelope twee dekades ’n franchisenemer van verskeie van die groep se vernaamste handelsname.

Famous Brands se aandeelprys het die afgelope jaar nie te waffers vertoon nie en tot op datum met 37% gedaal. Ná die aankondiging van die Halamandaris-uittrede het die prys verder verswak en Vrydag op sy laagste vlak vir die jaar, R97,06 geopen.

Meer oor:  Steers  |  Famous Brands  |  Maatskappye  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.