Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Klaar met Coco Pops? Kellogg's het nuwe pap
Baby Shark is ’n gewilde karakter op YouTube en binnekort ook ’n televisiereeks op Nickelodeon. Foto: Verskaf

As jy sukkel om die kleinspan soggens gevoed te kry, is babahaaipap dalk net die oplossing.

Kellogg’s het pas in samewerking met Nickelodeon ’n nuwe tipe ontbytpap spesiaal vir jong kinders uitgereik.

Baba haaitjies en ander seediere pryk op die boks.

Maar dis nie sommer net enige haai en vissies nie. Die pap word nou uitgereik in aanloop tot die bekendstelling van ’n nuwe animasiereeks op Nickelodeon vroeg aanstaande jaar.

Baby Shark’s Big Show!, ’n beplande reeks van 26 episodes gemik op voorskoolse kinders, is ’n uitvloeisel van ’n suksesvolle reeks kort episodes op YouTube.

Die gewildheid daarvan het Nickelodeon se aandag getrek en hy het besluit om dit in ’n volwaardige televisiereeks te omskep.

Die reeks volg Baby Shark (soos die babahaai genoem word) en sy beste vriend, William.

Die kanaal hoop om kort voor lank ’n hele franchise van produkte om die karakters te skep, soortgelyk aan die uiters suksesvolle Britse animasiereeks vir jong kinders, Peppa Pig.

Hasbro, die Amerikaanse onderneming wat reeds verskeie speelgoed en speletjies vervaardig, het in Desember 2019 die regte tot Peppa Pig vir $3,8 miljard bekom.

Pinkfong, deel van die Suid-Koreaanse opvoedkundige onderneming SmartStudy, is die vervaardiger van die reeks Baby Shark-video’s op YouTube.

Sy YouTube-kanaal het reeds meer as 37,5 miljoen volgelinge en sy video’s is saam al meer as 16,7 miljard keer gekyk.

Die Baby Shark-konsep is gegrond op ’n bekende kinderliedjie wat glo uit die vroeë 20ste eeu dateer.

Pinkfong het sy eie karakters en musiekvideo daarom geskep. Sy eerste Baby Shark-video het in Junie 2016 verskyn en was gou baie gewild. Meer video’s het toe gevolg.

Opvoeders prys Pinkfong vir die manier waarop Baby Shark sowel pret as opvoedkundig is vir voorskoolse kinders.

“Dit leer kinders eenvoudige konsepte met innemende liedjies en rympies,” het Emily Ashby, ’n ontleder by Common Sense Media, gesê. Dié onderneming beoordeel nuwe opvoedkundige tegnologieë en programme sodat ouers ’n ingeligte besluit daaroor kan neem.

Intussen het Tasania Parsadh, kanaalhoof van Nickelodeon in Afrika, bevestig Baby Shark sal ook plaaslik te siene wees.

Oor die samewerking met Kellogg’s sê Parsadh dis die onderneming se mikpunt om van die wêreld ’n meer “pret en spelerige” plek te maak. Daarom hoop sy ouers kan saam met hul kroos sing en dans op die maat van die Baby Shark-liedjie terwyl hulle ontbyt eet.

Kellogg’s het laas in 2018 nuwe weergawes van Rice Krispies, Coco Pops en Strawberry Pops in Suid-Afrika bekend gestel.

Dit is nie goed deur verbruikers ontvang nie.

Die oorgang van enkelgraan na volgraan in sowel Coco Pops as Strawberry Pops het verbruikers nie aangestaan nie.

Maar die verandering aan Rice Krispies – wat met Rice Krispies Vanilla vervang is – het die meeste woede ontlok.

Kellogg’s het bykans ’n jaar later geswig en weer die “ou” Rice Krispies plaaslik beskikbaar gestel, maar teen ’n premiumprys aangesien dit van Brittanje af ingevoer moet word.

Volgens Kellogg’s bevat sy nuwe Baby Shark Froot Loops 40% minder suiker as ander tipes, maar dis onduidelik waarmee hy dit vergelyk.

Die Baby Shark Froot Loops bevat 11,4 g suiker per porsie terwyl die “gewone” Froot Loops 10,5 g suiker per porsie bevat.

Die nuwe pap is reeds by supermarkte beskikbaar.

Meer oor:  Kellogg's  |  Maatskappye  |  Pap  |  Kinders  |  Opvoeding  |  Ontbyt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.