Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Klante koop dat die verf spat by Cashbuild

’n Nuwe laag verf laat jou sommer beter voel.

cashbuild
Een van Cashbuild se boumateriaalwinkels in Pretoria.

Dis wat duisende klante van Cashbuild kort voor Kersfees ook gedink het. Die boumateriaalgroep het in die week voor Kersfees byna 1 miljoen liter verf verkoop, sê Werner de Jager, uitvoerende hoof.

Dit het gehelp om Cashbuild se verkope in die halfjaar tot einde Desember met 21% tot R6,7 miljard op te stoot.

Te midde van die inperking verlede jaar het baie mense tuisprojekte aangepak soos om hul tuiskantoor in te rig of om oumawoonstelle te bou. Die verwagting was dus dat produkte soos vloerteëls en verf fluks sou verkoop. De Jager sê wat bemoedigend is, is dat ook basiese boumateriaal soos vensterrame, konstruksiehout en sement steeds goed verkoop het, wat wys dat fisieke bouwerk voortgeduur het.

Tradisioneel is sement die enkele grootste verkoper by Cashbuild en verteenwoordig dit 23% van sy omset, gevolg deur strukturele hout soos vir dakrame wat 10% verteenwoordig en venster- en deurrame sowat 9%, sê De Jager.

Cashbuild se halfjaarsyfers:

Cashbuild se halfjaarsyfers

  • Omset klim met 21% tot R6,7 miljard.
  • Bedryfswins groei met 92% tot R576 miljoen.
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 102% tot R15,41.
  • Halfjaardividend styg met 66% tot R7,24.
  • Kontant groei met 101% tot R2,8 miljard.
  • Netto batewaarde per aandeel groei met 15% tot R96,40.

Hoewel die res van die boekjaar steeds onseker lyk te midde van die pandemie, is verkope in Januarie vanjaar en die eerste twee weke van Februarie reeds 24% beter as ’n jaar gelede, sê De Jager.

Cashbuild het in die halfjaar drie nuwe winkels oopgemaak. Volgens De Jager is dit minder as wat hulle beplan het, maar die Covid-19-pandemie het meegebring dat van die eiendomsontwikkelaars se projekte in die slag gebly het.

In die komende halfjaar verwag Cashbuild wel om ses nuwe winkels te open, vir ’n totaal van nege nuwe winkels vir die jaar.

Die groep het ook 11 Cashbuild-winkels en een P&L-ysterwarewinkel opgeknap, terwyl twee Cashbuild- en P&L-ysterwarewinkels na ’n nuwe perseel verskuif is. Een Cashbuild- en drie P&L-ysterwarewinkels is in die oorsigtyd gesluit weens huurooreenkomste wat verstryk het.

Cashbuild kon danksy goeie kostebeheer en verbeteringe in winsmarge sy wesensverdienste per aandeel met 102% tot R15,41 verhoog en ’n halfjaardividend van R7,24 is verklaar, wat 66% beter as ’n jaar gelede is.

Beleggers het gehou van wat hulle sien en Cashbuild se aandeelprys het Dinsdag op die JSE met byna 7% tot bo R320 gestyg.

    Meer oor:  Cashbuild  |  Verf  |  Boubedryf  |  Sement  |  Maatskappyresultate
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.