Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Klante wat afslag-pryse soek, vreet Makro se wins

Massmart, wat Game en Makro besit, het in die halfjaar tot einde Junie die impak op sy wins gesien weens klante se soeke na afslagpryse op kos en drank.

Massmart, wat Game en Makro besit, het vanaf Maandag ’n nuwe uitvoerende hoof, die Amerikaner Mitch Slape.

Die genoteerde kleinhandelaar se verkope het met 5,5% tot R43,8 miljard gestyg, maar hy het ’n handelsverlies gely weens die druk op sy winsmarges wat deur hierdie verbruikersgedrag meegebring is, en die groep se uitgawes wat skerper as sy verkope gestyg het.

Guy Hayward, uitvoerende hoof, sê dit is die eerste handelsverlies in 20 jaar.

Dit het die gevolg dat die maatskappy nie ’n tussentydse dividend verklaar het nie.

Hy het die bedryfsomgewing in die halfjaar as “gruwelik” beskryf en dat dit gekenmerk is deur stadiger verkoopsgroei in die laaste kwartaal.

Volgens hom is dit kommerwekkend dat Paasnaweek in die laaste kwartaal van die halfjaar geval het, vergeleke met die eerste kwartaal verlede jaar. “Dit beteken die tweede kwartaal moes verbeter het, maar dit het nie. Dit gee ’n idee van hoe moeilik die handelsomgewing is.

“Iets wat ons gesien het wat nie onverwags was nie, is namate verbruikers gesukkel het met hul kontant, het kos- en drankverkope bestendig gebly, maar die verkope van duursame produkte het in die tweede kwartaal gedaal.”

Die verkope van kos en drank het met onderskeidelik 6% en byna 14% gestyg, terwyl duursame produkte, soos huishoudelike toestelle en elektronika, met net 0,6% vir die hele halfjaar gestyg het.

Platsak verbruikers het proporsioneel meer op promosies bestee en dit het verdere druk op marges veroorsaak.
Guy Hayward van Massmart

Die groep se bruto winsmarge het met 36 basispunte oftewel R160 miljoen gedaal omdat kos en drank, wat laer marges het, ’n groter deel van sy verkope uitgemaak het.

Boonop het verbruikers meer produkte op promosie begin koop. “Platsak verbruikers het proporsioneel meer op promosies bestee en dit het verdere druk op marges veroorsaak. Klante koop op promosies om geld te probeer bespaar.”

Die groei in uitgawes is beheer, maar die uitgawes het steeds met bykans 12% gestyg. Die grootste bydrae hiertoe is personeelkoste en huurgeld. Ander bedryfskoste, wat hierby ingesluit is, het met 19% gespring weens hoër koste vir sekuriteit en die koste van kragopwekkers se instandhouding gedurende die twee maande waarin beurtkrag plaasgevind het.

“Die kombinasie van swak verkope, druk op marges en uitgawes wat vinniger as verkope gegroei het, het ons handelswins voor rente en belasting met 100% afgetrek tot ’n verlies van R1,4 miljoen.” Dit is ’n groot omkeer van die handelswins van R664 miljoen in die vorige jaar.

“Die resultate weerspieël ook die foute wat intern begaan is, wat saam met die heersende swak ekonomie tot die onbevredigende resultate gelei het,” sê Hayward, wat vroeër sy bedanking aangekondig het.

Die nuwe uitvoerende hoof, Mitchell Slape, begin September. Hy het Donderdag die aanbieding in Johannesburg bygewoon. Slape is tans uitvoerende hoof van Walmart in Japan. Walmart is Massmart se grootste aandeelhouer.

Die interne foute was swak voorraadbestuur en die implementering van die SAP-stelsel by Game wat vertraag is. “Stappe word gedoen om die probleme reg te stel onder leiding van die nuwe bestuur in die betrokke sake-eenhede.”

Meer oor:  Makro  |  Game  |  Massmart  |  Mitch Slape  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Winkelgroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.