Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Klere: Inperking kos TFG byna R3,2 mjd. se omset

In die twee weke in Maart vóór die staat van inperking in Suid-Afrika afgeskop het, het The Foschini Group (TFG) se verkope reeds met 34% geval.

Foshini
Foschini se winkel in die East Rand Mall in Kempton Park. Foto: East Rand Mall

TFG het Vrydag vir die eerste keer ’n aanduiding aan beleggers gegee van hoe die inperking in Suid-Afrika, Brittanje en Australië sy verkope geraak het.

Beleggers wag op sy jaarresultate vir die boekjaar tot einde Maart, wat soos by talle ander kleinhandelgroepe ook amper ’n maand later as verlede jaar op 18 Junie uitgereik sal word. ’n Handelsoorsig vir Maart en ’n handelsoorsig vir die boekjaar is Vrydag uitgereik.

TFG het ook ’n aanduiding gegee van hoeveel verkope hy moontlik in April verloor het nadat net aanlyn verkope in van die lande waar hy bedrywig is, toegelaat is.

April se omset is “beduidend laer as April 2019 s’n”. Luidens die handelsoorsig was die omset in die eerste vyf weke van sy vorige boekjaar (dus die ooreenstemmende tydperk as die eerste vyf weke van die staat van inperking vanjaar) R3,2 miljard.

Suid-Afrika

Voordat die staat van inperking afgeskop het, het TFG Afrika (Suid-Afrika en ander Afrika-lande) sterk groei in verkope in Maart beleef.

Van 1 tot 14 Maart het sy omset met 8% gestyg. Van 15 Maart af, toe die regering ’n pleidooi aan Suid-Afrikaners gerig het om ’n veilige afstand van mekaar te handhaaf nog voordat die staat van inperking begin het, het sy verkope met 34% gedaal.

Al sy bedrywighede in Suid-Afrika is van 27 Maart tot 30 April gestaak, insluitende sy klerefabrieke. Die fabriek in Maitland in Kaapstad het op 27 April heropen om maskers vir personeellede te begin maak.

Klereproduksie gaan in die komende dae begin.

Die res van sy winkels en aanlyn verkope het van 1 Mei af geleidelik heropen.

Hy verwag dat sy omset in Afrika in die boekjaar tot einde Maart met 3,3% gaan styg.

Dié winkels dra 63,8% tot die totale groepomset by.

Brittanje

In Brittanje is die impak van die pandemie vroeër ervaar. Die omset van TFG se winkels hier het van 1 Maart tot 14 Maart met 22% gedaal en vir die res van die maand met 94%.

Brittanje was van 23 Maart af in ’n staat van inperking, maar aanlyn verkope is nie geraak nie. Sekere sektore kon van 11 Mei af bedrywighede hervat, maar nog nie fisieke klerewinkels nie. “Dit is bemoedigend dat aanlyn verkope die afgelope weke versterk het,” sê die groep.

TFG Londen het suksesvol toegang gekry tot finansiering van die Britse regering vir personeellede wat tydelik nie kon werk nie. Ander hulp is ook gekry.

Die omset in Brittanje sal na verwagting met 4,5% in die boekjaar daal.

Australië

In Australië het die omset in die eerste helfte van Maart met 7,7% gestyg en in die tweede helfte met 57,6% gedaal.

Die maatskappy het al sy winkels in Australië op 27 Maart gesluit in ooreenstemming met inperkings en regulasies oor die handhaaf van ’n veilige afstand wat die Australiese regering ingestel het. Aanlyn verkope is toegelaat en was bo verwagting.

Die Australiese regering het op 8 Mei ’n stelselmatige heropening van die ekonomie aangekondig en van sy winkels is heropen. Na verwagting sal al sy winkels in Australië teen einde Mei oop wees. Na verwagting sal die omset in die boekjaar tot einde Maart 9,6% hoër wees.

  

Spesifieke vraagstukke

  • Huurkontrakte

TFG sê hy onderhandel nog met verhuurders in al die lande waar hy bedrywig is om ooreenkomste te sluit wat billik is vir die tyd van inperking en daarna. “Dit gaan nog ’n ruk duur om die gesprekke af te handel weens die baie huurkontrakte wat betrokke is, maar ons is tevrede met die aanvanklike reaksie.

“Dit is duidelik dat eiendomsgroepe en kleinhandelaars gemeenskaplike grond sal moet vind om huurgeld in die pas te bring met die huidige en toekomstige vraag van verbruikers, tot voordeel van albei partye.”

  • Kontant

Die groep het ook byna gesprekke afgehandel met sy leners en het ver gevorder om bykomende skuldgeriewe van R2,5 miljard te kry. Leners het ook afstand gedoen van kontrakvereistes op lenings wat in September nagekom moes word en het kontrakvereistes vir Maart 2021 gewysig.

TFG het bestellings van verskaffers of gekanselleer of uitgestel om te keer dat voorraad opbou.

Projekte is ook op ys geplaas en voorspelde kapitaalbesteding word met R1 miljard verminder.

  • Salarisse

Geen salarisverhogings word vanjaar toegestaan nie.

Suid-Afrikaanse werknemers se volle salarisse en voordele vir April en Mei sal egter betaal word.

Die direksie se direkteursgelde en salarisse is ook tydelik verminder.

In die handelsoorsig word niks oor afleggings gesê nie.

Meer oor:  Tfg  |  Foschini  |  Staat Van Inperking  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Klere  |  Vlak 3  |  Klerekleinhandel  |  Vlak 4  |  Klerewinkels  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.