Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Klerewinkels pleit om te open voor winter begin
Klerewinkels is gesluit gedurende die staat van inperking. Foto: PIxabay

Die groot genoteerde klerewinkelgroepe het ’n dringende beroep op Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, gedoen vir die heropening van klerewinkels voor die winter.

Die Federasie van Nasionale Klerekleinhandelaars (NCRF) verwys na die aankondiging Donderdagaand van pres. Cyril Ramaphosa oor hoe die staat van inperking opgehef gaan word.

Die land gaan vanaf 1 Mei van die staat van ergste inperking, vlak 5, na vlak 4, wat slegs effens ligter is, verskuif.

Inligting wat in ’n konsepvoorstel vervat is wat die afgelope week uitgelek het, toon dat klerewinkelgroepe nie tydens vlak 4 gaan sal open nie, maar eers in vlak 3.

Die NCRF verwys na ’n gesamentlike voorlegging van die klerewinkelgroepe en winkelsentrums dié week wat ’n gedetailleerde aksieplan bevat hoe winkels geopen kan word terwyl personeel en klante steeds teen Covid-19-besmetting beskerm word.

Michael Lawrence, uitvoerende direkteur van die NCRF, sê hulle het verskeie dokumente gesien oor hoe die fases gaan werk. “Daar is groter sekerheid dat ons eers in vlak 3 open, maar daar is ’n paar aanduidings dat dit dalk vlak 4 kan wees.

“Klere is nou in vraag omdat dit nodig is vir die winter,” sê hy in die brief.

“En wat maak swanger vroue, wat maak jy met groeiende kinders, wat ongeag die seisoen waarin ons is, klere benodig? Mense benodig ook beddegoed vir die winter.”

Lawrence sê hulle wil aanlyn verkope moontlik maak, maar wil die fisieke winkels ook open.

Aanlyn verkope bedien net ’n sekere deel van die bevolking – ryker mense in stedelike gebiede met goeie data en waar aflewering doeltreffend werk.

Die NCRF doen ’n beroep “vir die funksionele opening” van klerewinkels.

LEES OOK: Gaan die winkelpoppe sonder winterklere wees?

Die voorstel is dat sekere soort klerehandelaars in Mei hul deure begin oopmaak.

“Dit moet sowel aanlyn as fisieke winkels wees. Aanlyn winkels los nie die grootste probleem op van toegang vir die grootste getal mense nie. Aanlyn verkope is ’n luuksheid in Suid-Afrika.”

Net die groot vyf genoteerde winkelgroepe naamlik Woolworths, Pepkor, Foschini, Truworths en Mr Price, het direk 150 000 mense in diens wat tans nie werk nie.

Dié werksekerheid van die mense is toenemend in gevaar hoe langer die inperking duur. Boonop is daar nog ten minste 100 000 personeel in die winkels se verskaffingsketting wat op die oomblik stilstaan.

“Dit is ’n kwartmiljoen poste wat direk en indirek van die bedryf afhanklik is, en miljoene se lewensbestaan.”

Hy sê hulle is veral bekommerd oor die vervaardigingsektor en hoe lank dié bedryf kan stilstaan voordat dit ’n stille dood sterf.

“Die risiko van ’n onherroeplike ekonomiese invloed op plaaslike verskaffers en diensverskaffers in die waardeketting styg daagliks eksponensieel tydens die verlengde inperking. Die noodsaak om klere in vlak 4 in te sluit, kan nie genoeg beklemtoon word nie.”

Die verkoop van sekere klere word reeds toegelaat soos vir babaklere tot 36 maande. “Dit is fundamenteel onmededingend om net sekere winkels soos kruidenierswarewinkels toe te laat om ’n verdere, moontlik selfs ’n volle reeks klere te verkoop.

’n Voorstel is vandeesweek saam met die winkelsentrums aan Patel verskaf oor hoe daar met handel begin kan word na die inperking.

Hy het gesê hulle het baie goeie modelle van hoe winkels geopen kan word wat lae inkomstegroepe bedien wat insluit dat bestellings by die winkels geplaas kan word en dan opgelaai kan word.

“Dit kan op ’n wyse gedoen word wat mense se gesondheid beskerm.

“Dit gaan baie anders wees as waaraan ons gewoond was,” het hy gesê.

Ramaphosa het gesê in vlak 4 moet die bedrywighede wat open nie meer as ’n derde van personeel hê nie.

Volgens hom sal die kleinhandelaars dit kan doen met die model wat voorgestel word.

“Dit is nie ’n onbestuurbare omgewing nie. Om die waarheid te sê, sal dit dalk meer bestuurbaar wees as die kruidenierswarewinkels s’n.”

Die voorstel wat vandeesweek aan Patel verskaf is, bevat die riglyne van hoe winkels veiligheid kan verseker.

Daarin is gevra dat:

  • Kleinhandelaars wat aanlyn verkope doen van 27 April hul aflewerings begin doen.
  • Dat die voorbereiding in winkels en winkelsentrums 27 April begin om te begin verhandel, ingesluit om voorraad, logistieke, en skoonmaak gereed te kry met beperkte personeel. Dit sal insluit die sake-eenhede wat opleiding moet doen oor veiligheid en om die regte beskermende klere en maskers en maatstawwe in die winkels te kry.
  • ’n Sagte opening van 1 Mei af met alle winkels wat beperkte ure oop is.
  • Winkelsentrums sal getalle monitor om sosiale afstande te verseker.

Die handelsure wat voorgestel is, sluit in spesifieke tye vir: mense wat ’n hoër risiko loop, soos swanger vroue, ouer klante en dié met mediese sertifikate wat hul risiko toon; vir verpleërs en hospitaalpersoneel, en polisielede

  • Beperkte handelsure met ’n maksimum van 07:00 tot 20:00. Oor naweke sal die winkels om 17:00 sluit, is die voorstel.

Die riglyne sluit in hoe personeel gemonitor sal word wat siek is, gesigmaskers wat verpligtend sal wees en dat klante aangemoedig sal word om maskers te dra.

Die voorstel bevat ook ’n ontleding van wat as hoë risiko beskou word.

“Ons sê daar is geen bewyse dat kleinhandelpersoneel in winkels enigsins kwesbaarder is as regeringswerkers wat nie met klante werk nie.”

Meer oor:  Edcon  |  Tfg  |  Pepkor  |  Edgars  |  Mr Price  |  Foschini  |  Truworths  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaars  |  Klere  |  Klerekleinhandel  |  Klerewinkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.