Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Klerewinkels skud hul vere reg vir heropening

Onsekerheid het Donderdagoggend nog onder van die groot klerewinkelgroepe geheers oor wanneer hulle hul deure in Mei gaan heropen.

’n Man met ’n gesigmasker op stap verby ’n Woolworths-tak waarvan die klereafdeling Donderdag nog gesluit was. Foto: Nellie Brand-Jonker

Ander het egter gesê hulle heropen reeds Vrydag, sodra vlak 4 van die staat van inperking begin. Hiervolgens mag baba-, kinder en winterklere, asook beddegoed, verkoop word.

Die meeste klerewinkelgroepe kon nie die afgelope maand handel dryf nie, maar nadat ’n toegewing vir die verkope van babaklere gemaak is, het sommige winkels wel daarvan verkoop.

Pepkor sê die meeste van sy Pep- en Ackermans-winkels open Vrydag op die vakansiedag om te voldoen aan die verwagte vraag, maar sal daarna nie weer op Sondae of vakansiedae oop wees nie.

Baie winkelgroepe sê egter hulle moet eers hul werknemers oplei oor die nuwe regulasies en beskermende klere aan hulle verskaf voordat winkels heropen sal word.

Winkelure gaan ook verander en mense moet voordat hulle winkel toe gaan seker maak dis wel oop.

Die Mr Price-groep kon by navraag nie sê wanneer hy heropen nie omdat hy nog “klarigheid” gesoek het.

Verbruikers stap Donderdag verby ’n H&M-tak in Canal Walk. Foto: Nellie Brand-Jonker
’n Man met ’n gesigmasker stap met sy kruideniersware verby die Cotton On-winkel in die V&A Waterfront.Foto: Nellie Brand-Jonker

Nie Truworths of The Foschini Group (TFG) of Woolworths het op navrae gereageer nie.

Pick n Pay se winterklere sal van 1 Mei in alle hipermarkte, supermarkte en klerewinkels beskikbaar wees.

Massmart, wat Game en Makro besit, sê al sy winkels verkoop van 1 Mei die toegelate produkte kragtens vlak 4. Dit sluit in kantoortoerusting, skoolbenodighede, rekenaars en winternoodsaaklikhede soos komberse en verwarmers.

Edcon, wat Jet en Edgars besit en in sakeredding gaan weens die finansiële verknorsing waarin hy is, sê hy open van sy winkels op 1 Mei onder streng gesondheid- en veiligheidsregulasies.

“Alle Jet- en Edgars-winkels sal oop wees, met die uitsondering van Edgars Home, Edgars Beauty en ander selfstandige winkels, onderhewig aan verhuurooreenkomste,” sê Grant Pattison, uitvoerende hoof.

Mense stap Donderdag 30 April met maskers verby die Edgars in Canal Walk. Die Edcon-groep is ’n groot geldelike verknorsing wat vererger is deur die inperking. Hy doen nou om sakeredding aansoek. Die winkels gaan open as ooreenkomste met verhuurders bereik kan word. Foto: Nellie Brand-Jonker

“Die gesondheid van werkers en klante bly ’n prioriteit en daarom het ons streng maatreëls getref om te verseker dat winkels net heropen as hulle die nodige persoonlike beskermingstoerusting ontvang het.

“Dit kan beteken dat sommige winkels eers ’n paar dae later heropen.”

Personeellede sal ook opgelei word in Covid-19-protokolle voordat die winkels heropen.

Selfs nadat die winkels heropen is, sal opleiding voortduur.

As deel van die winkelgroep se ontsmettingsprotokol sal handontsmettingsmiddels by alle kasregisters beskikbaar wees vir personeel en klante en by oppervlakke waaraan baie mense raak.

Die winkels sal meer gereeld skoongemaak word.

Die winkels sal net van 09:00 tot 16:00 oop wees omdat die minimum personeel in die winkels gaan wees.

Pep sê die meeste van sy winkels sal oop wees. Winkels moet veilig wees vir personeel en klante voordat dit heropen word. Ook by Pep gaan ander handelsure geld. Die winkels sal Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 oop wees en Saterdae gaan van 09:00 tot 13:00.

Donald Kau, kommunikasiehoof van die V&A Waterfront, sê Foschini, Woolworths se klerewinkel, Truworths, H&M, Cotton On en Mr Price het te kenne gegee hulle open Vrydag.

Die Foschini-winkel in die V&A Waterfront in Kaapstad het Donderdagoggend geen winkelpoppe in sy winkelvensters gehad nie, maar werknemers het later opgedaag om die winkel vir sy heropening te begin regkry. Die uitverkoping-borde is nog van voor die inperking Foto: Nellie Brand-Jonker
Winkelvensters van die Foschini-winkel in die V&A Waterfront was Donderdag dolleeg. Foto: Nellie Brand-Jonker
’n Werknemer van die Foschini-winkel in die V&A Waterfront in Kaapstad begin Donderdagoggend die vertoonvensters regkry vir die winkel se heropening Vrydag. Die werknemers was die afgelope maand kragtens die staat van inperking tuis. Foto: Nellie Brand-Jonker

By dié winkelsentrum – wat gemiddeld 70 000 daaglikse besoekers kry en in piekseisoen gemiddeld 180 000 per dag – het die getal daaglikse besoekers met tot 90% geval tot tussen 5 000 en 6 000 per dag.

Kau sê ander winkels in die kategorieë telekommunikasiedienste, kinder- en winterklere en winterbeddegoed, heropen ook Vrydag, soos CNA en Exclusive Books vir skryfbehoeftes.

“Die lys kan verander omdat baie kleinhandelaars nog besluit of hulle gaan heropen.”

Goeie nuus vir kinders is dat die immergewilde Yokico-skryfbehoeftegroep sy winkels in die Wes-Kaap van 2 Mei af heropen.

Ook Yokico sê hy tref alle moontlike voorsorgmaatreëls om personeel en klante veilig te hou.

“Ons het ’n gedetailleerde gesondheid- en veiligheidprotokol voorberei waarby streng gehou sal word in die winkels en pakhuise.”

Net skryfbehoeftes sal egter verkoop kan word. Sy gewilde produkte soos rugsakke, beursies en speletjies mag nog nie verkoop word nie.

Clicks se grimering-afdeling was Donderdag nog soos regulasies vereis toegespan. Clicks kon nie Donderdag sê of grimering reeds van Vrydag verkoop sal kan word nie. Foto: Nellie Brand-Jonker
Grimering kon nie tydens vlak 5 van die inperking verkoop word nie. Clicks kon Donderdag nog nie sê of hy dit wel tydens vlak 4 mag verkoop nie. Foto: Nellie Brand-Jonker
Personeel van Sheet Street in Canal Walk Donderdag besig om voorraad reg te kry. Sheet Street is deel van die Mr Price-groep. Foto: Nellie Brand-Jonker


Meer oor:  Pick N Pay  |  Pepkor  |  Clicks  |  Truworths  |  Pep  |  Woolworths  |  Foschini  |  Ackermans  |  H&M  |  V&A Waterfront  |  Canal Walk  |  Inperking  |  Covid-19  |  Klerewinkels  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaar  |  Klerekleinhandel  |  Winkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.