Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Klopjagte op ouditeure hier nadat wet gewysig is

Die Wysigingswet op Ouditberoepe wat beskryf word as ’n “noodsaaklike instrument in die stryd teen staatskaping en korrupsie”, is deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken.

Imre Nagy
Imre Nagy, nuwe waarnemende uitvoerende hoof van Irba. Foto: Verskaf

Die wysigingswet gee die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) meer magte wanneer ondersoeke gedoen word, soos dat klopjagte op ouditeure uitgevoer mag word.

Irba is ’n onafhanklike statutêre reguleerder wat toesig hou oor ouditstandaarde in Suid-Afrika.

Ramaphosa het op 23 April die wet onderteken en dit is op 26 April in die Staatskoerant gepubliseer.

Die vakverbond Cosatu het die stap verwelkom en sê hy ondersteun die vinnige implementering van die “progressiewe wysigingswet” deur die regering.

“Ouditeure het ’n wetlike en vertrouensplig om goeie bestuur in sowel die openbare as private sektor te verseker. In talle kommissies van ondersoek na staatskaping is getoon in watter mate ouditeure nie net aandadig was nie, maar ook in baie gevalle die plundering van staats- en private ondernemings help vergemaklik het,” sê Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu.

Hy meen die wet is noodsaaklik in die stryd teen korrupsie en staatskaping.

Irba sê die wet gee hom die nodige magte om sy mandaat doeltreffender uit te voer en verwyder sommige van die beperkinge van die Wet op Ouditberoepe van 2005 voor die wysiging.

Die beroep is die afgelope jare geteister deur opspraakwekkende korporatiewe ineenstortings en onthullings wat ouditeure betrek het en wat die gebreke met oudits in sommige gevalle beklemtoon het.

“Namate die negatiewe sentiment toegeneem het, het die reguleerder besef dat dit nodig is om sy wetstoepassingsprosesse te verbeter.”

Imre Nagy, waarnemende hoof van Irba, sê die organisasie het die nasionale tesourie in 2017 genader met die voorgestelde wysigings aan die wet wat hom in staat sou stel om die publiek se kommer oor die stand van die beroep aan te pak en hom te help om sy mandaat op ’n doeltreffender wyse uit te voer.

Nagy sê die wysigings kom op ’n belangrike tyd vir Irba, wat hard werk om vertroue in hom en die beroep te herstel. Die wet is gewysig ná ’n drie jaar lange parlementêre proses, wat begin het deur die voorgestelde wysigings as deel van die Wysigingswetsontwerp op Finansiële Aangeleenthede bekend te stel. Die wysigings is uiteindelik in Februarie verlede jaar weer in die parlement deur die Wysigingswet op die Wet op Ouditberoepe bekendgestel.

Benewens die versterking van Irba se onafhanklikheid, ondersoek- en tugprosesse, maak die gewysigde wet voorsiening vir:

• Die bevoegdheid om persele te betree en te deursoek om inligting te bekom wat relevant tot ’n ondersoek is;

• Die bevoegdheid om persone te dagvaar wat inligting het wat nodig is vir ’n ondersoek;

• Die bevoegdheid om klagtes wat nie met ’n oudit te make het nie te verwys vir ondersoek aan geregistreerde, geakkrediteerde bedryfsliggame; en

• Strenger boetes met betrekking tot die ondersoeke en tugprosesse.

Volgens Parks was daar “twyfelagtige elemente in die ouditbedryf” wat die belangrike bepaling oor klopjagte wou keer.

Bernard Agulhas, voormalige uitvoerende hoof van Irba, het verlede jaar gesê die kompleksiteit van ondersoeke en die beperkinge waaraan die liggaam onderhewig is, lei tot vertragings in die verkryging van inligting van die betrokke partye in ondersoeke. “Die groter magte, wat insluit om lasbriewe uit te reik en klopjagte uit te voer, sal Irba help om die nodige bewyse vir sy ondersoeke te kry.”

Cosatu is egter bekommerd dat die wysigingswet nie ver genoeg gaan nie omdat die rotasie van ouditeure by maatskappye nie ’n wetlike verpligting gemaak is nie.

Die vakverbond het lank op talle openbare verhore in die parlement voorspraak gemaak daarvoor.

Dit is wel ’n amptelike reël van Irba dat die eksterne ouditeure van maatskappye elke tien jaar verander moet word.

Cosatu wou ook hê die tydperk moet tot vyf jaar verminder word.

Parks sê Cosatu se kommer hieroor moet beskou word teen die kommerwekkende probleme met Irba se bestuur wat onlangs ervaar is.

LEES OOK: Irba kry nuwe waarnemende hoof ná skandaal

Die ganse direksie van Irba is onlangs deur Tito Mboweni, minister van finansies, ontbind nadat talle direkteure bedank het. Die bedankings het gekom nadat Jenitha John in Junie verlede jaar as uitvoerende hoof aangestel is. John se aanstelling is gekritiseer omdat sy nie-uitvoerende direkteur van Tongaat Hulett se ouditkomitee was in ’n tydperk toe miljarde rande se ongerymdhede met sy boeke plaasgevind het.

Meer oor:  Cosatu  |  Irba  |  Matthew Parks  |  Ouditbedryf  |  Ouditeure
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.