Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Knysna-brande knou Santam se wins
'n Veldbrand naby Karatara, buite Knysna, ten tyde van die ramp vroeër vanjaar. Foto: Jaco Marais

Santam beskryf die verwoestende brande in Junie in die Knysna-omgewing, asook die storm in Kaapstad in dieselfde maand, as die ergste rampe nóg in Suid-Afrikaanse versekeringsgeskiedenis.

Santam-kliënte het sowat R800 miljoen se eise ingedien wat verband hou met dié rampe, waarvan R72 miljoen verband hou met eiendomskade in Kaapstad weens die storm.

Dit het deels bygedra tot die krimp in Santam se onderskrywingswins vir die halfjaar tot einde Junie tot 4,2%. Dit beteken Santam sit gemiddeld net 4,2c in sy sak vir elke R1 wat ’n polishouer aan sy versekeringspremie bestee. Die res word gebruik vir uitbetalings en administrasiekoste. Santam se wins vir die halfjaar is steeds 6% hoër op R808 miljoen.

Die impak van die rampe op Santam se netto onderskrywingsresultate was R234 miljoen. Die totale versekeringskade van die brande is op sowat R3 miljard geraam.

As die Knysna-brande en Kaapse storm uitgelaat was, sou Santam se onderskrywingswins dieselfde as verlede jaar op 6,4% gewees het.

In syfers
  • Verdienste per aandeel styg met 8% tot R6,83.
  • Tussentydse dividend van R3,36 per aandeel.
  • Netto versekeringseise styg met 15% tot R7,252 miljard.
  • Netto premie-inkomste styg met 9% tot R10 miljard.
  • Onderskrywingswins van 4,2% teenoor die vorige jaar se 6,4%.
  • Santam het ’n teiken om sy onderskrywingswins tussen 4% en 8% te hou.

Santam sê dit was die ergste brand sedert die Groot Vuur van 1869 toe ’n brand van die Suid- tot Oos-Kaap gewoed het.

Santam sê “die werklike waarde van versekering kom na vore in sulke tye van uiterste verlies en swaarkry”. Die groep se eise-afdeling het bykans onmiddellik opgetree en ’n tydelike kantoor in Knysna opgerig van waar assessors uitgestuur is.

Die oorspronklike oorsaak van die brande is volgens Santam nog die onderwerp van verskeie ondersoeke, en die onsekerheid hou implikasies in oor hoe sy herversekeringsmarkte die verliese hanteer - as een of twee voorvalle. Santam meen die ramp moet as een verliesvoorval gehanteer word, maar het dit weens die hangende onsekerheid vir eers as twee voorvalle in sy finansiële resultate weerspieël.

Lize Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam, sê die groep se sterk diversifiseringstrategie het gehelp as buffer teen die effek van die Knysna-ramp op sy finansiële resultate.

Lize Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam.

Santam se beleggingsinkomste was R918 miljoen in die halfjaar, heelwat hoër as die R555 miljoen van ’n jaar gelede.

Lambrechts verwag ’n moeilike tweede helfte van die boekjaar weens die trae ekonomiese groei wat mense ontmoedig om nuwe versekerbare bates aan te koop.

Santam vorder met sy internasionale diversifisering, en die bruto premies wat van buite Suid-Afrika ontvang is, het met 21% tot R1,554 miljard gestyg.

Santam se oorname van RMB Structured Insurance het tot stewige bedryfsresultate bygedra. Die onderneming is herdoop tot Santam Structured Insurance.

Santam se aandeelprys was Donderdagoggend net effe hoër op R255,41.

Meer oor:  Santam  |  Korttermynversekering  |  Versekeraars  |  Versekering  |  Knysna-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.