Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Koffiepryse kry blaaskans van rand, sê AVI
AVI het sowat vyf plaaslike en internasionale koffiehandelsmerke in sy stal. Dit sluit Lavazza in.

Die sterker rand en laer pryse vir koffiebone kan plaaslike liefhebbers van ingevoerde koffie se beursies dalk ’n blaaskans gee.

AVI – ’n gediversifiseerde verbruikersware en voedselprodusent, is die tuiste van koffiehandelsname soos House of Coffees, Douwe Egberts, LavAzza en Ciro asook van warm drankies soos Hug in a Mug – sê die stewiger wisselkoers ondersteun stabiele verkoopspryse.

In die halfjaar tot einde Desember het AVI se wesensverdienste per aandeel met 7,5% tot R3,26 verbeter en die groep skryf sy prestasie toe aan ’n sterker rand in die laaste ses maande van verlede jaar wat die druk op sy insetkoste taamlik verlig het.

“Gevolglik was daar min verhogings van die verkoopprys terwyl die deurlopende versterking van die rand die prys stabiel behoort te hou,” sê die groep in ’n verklaring.

AVI se koffie-inkomste en bedryfswins was laer in die eerste helfte van verlede jaar weens aansienlik groter druk van mededingers in die marksegment vir kitskoffie. Dié druk is egter teengewerk deur Hug in a Mug se goeie vertoning.

So styg AVI se inkomste, wins

  • Inkomste styg met 2,3% tot R7,3 miljard.
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 9,4% tot 507,7c.
  • Bedryfswins styg met 8,7% tot R1,53 miljard.
  • Kontant uit bedrywighede is 12,1% hoër op R1,87 miljard.
  • Tussentydse dividend van 175c per aandeel is verklaar. (8% hoër)

Die groep sê hy het die pryse van sommige van sy handelsname vir gemengde kitskoffie laat verlede jaar verlaag om die aanvraag te versterk.

“Die sterker rand saam met laer pryse vir koffiebone wat ons in die tweede helfte van die jaar verkry het, sal die geleentheid skep om volumes te verhoog.”

AVI is ook die tuiste van sommige van Suid-Afrika se geliefkoosde koekies – soos Bakers-koekies en Provita.

Die inkomste uit sy beskuitjies het met 3,1% gedaal in die ses maande tot einde Desember.

Dít is weens laer verkoopvolumes en platsak verbruikers wat eerder goedkoper alternatiewe verkies het, lui AVI se verklaring.

Hoër botterpryse is deels teengewerk deur laer meelpryse en ’n beter wisselkoers.

AVI se bedrywighede strek ook verder tot parfuum (Coty), skoene (onder meer Green Cross) en skoonheidsprodukte, terwyl hy ook I&J se bevrore voedsel vervaardig.

In die kategorie vir persoonlike sorg het sy Indigos-afdeling (onder meer Coty en Yardley) se inkomste met 4,7% verbeter danksy groei in sekere marksegmente asook prysverhogings in die tweede helfte van 2017.

Die inkomste uit skoene en klere het met 5,7% tot R1,26 miljard gegroei. Dit is veral danksy ’n stewige vertoning deur sy luukse handelsname Spitz (6,8% hoër) asook Carvela en Lacoste wat beter gevaar het danksy die sterker rand en pryse wat nie sedert April 2016 gestyg het nie.

Sy gewilde Green Cross-handelsnaam kry stewige mededinging van ander handelsname en swak verkope van sy somerreeks het verkoopsvolumes geknou, sê AVI.

Die visbedrywighede wat onder die I&J-handelsnaam bedryf word, het in die ses maande tot einde Desember ’n inkomste van R1,14 miljard gelewer. Dit is 4,8% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

“Inkomstegroei kan aan hoër verkoopsvolumes en hoër kleinhandelpryse toegeskryf word, terwyl daar ook nie weer ’n onbeskermde staking was soos in 2016 nie.”

AVI verwag dat die handelsomgewing in die tweede helfte van sy boekjaar steeds onder druk sal wees.

Hy waarsku dat die verhoging in die BTW-koers besteding verder sal demp.

“Die onlangse politieke ontwikkelings is wel positief maar sal nie verbruikersbesteding wesenlik oor kort termyn beïnvloed nie,” lui die groep se verklaring.

Meer oor:  Avi  |  Koekies  |  Rand  |  Koffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.