Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hernude kommer oor 140000 poste by Edcon
Pattison
Edgars is nie onder beleg nie, het Grant Pattison, hoof uitvoerende beampte van Edcon, vroeër gesê.

Die klerewerkersvakbond Sactwu vrees 140 000 poste kan in gedrang wees as die moedermaatskappy van Edgars en Jet nie binne die volgende dag die noodfinansiering kry om hom van ondergang te red nie.

Sactwu het nie in sy verklaring verduidelik hoekom die volgende dag so belangrik is nie.

Die vakbond doen ’n beroep op die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) om dringend hul beursie oop te maak om die ramp te voorkom.

“Ons doen ’n beroep op die WVF en die OBK om dringend ’n finansieringsplan te versnel om Edcon te red. Daar is nie tyd om te wag nie.”

Vrae is aan Edcon gestuur en die berig sal opgevolg word wanneer terugvoer gekry word.

Etienne Vlok, ’n senior navorser van Sactwu, wat oor die verklaring kommentaar gelewer het, sê die vakbond is bekommerd oor hoe lank dit duur vir finansiering om goedgekeur te word.

Volgens hom het Sactwu ’n week en ’n half gelede saam met Saccawu ’n voorlegging aan die WVF se direksie gedoen.

Verteenwoordigers van Edcon het dit glo ook bygewoon.

“Dit was baie duidelik dit is vreeslik dringend dat finansiering gekry moet word.”

Volgens hom is ’n memorandum verlede Donderdag deur ’n klein afvaardiging van die vakbonde aan die OBK oorhandig om hom aan te spoor om vinniger op te tree.

“Nog steeds is dit nie uitgesorteer nie.”

Vlok sê hul rowwe berekening toon as Edcon sou ondergaan sal die WVF in die komende agt maande tussen R2,9 miljard en R3,9 miljard se werkloosheidsversekering aan mense moet uitbetaal wat hul werk verloor. Dit is op grond van direkte en indirekte poste wat verlore sal gaan.

Die finansiering wat gesoek word is tussen R1,2 miljard en R1,8 miljard.

“Dit is duidelik dat dit goedkoper sal wees vir die WVF om Edcon te red.”

Vlok het weer verwys na ’n peiling wat hulle in 2018 gedoen het wat bevind het Edcon is die grootste aankoper van klere wat plaaslik vervaardig word.

Sowat 40 000 mense werk vir Edcon en nog omtrent 100 000 indirekte werkers kan deur die ondergang van die maatskappy geraak word.

Business Day het verlede week berig sekere ontleders sien Edcon as soortgelyk aan die SAL en dat dit toegelaat moet word om onder te gaan en gelikwideer moet word hoe pynlik dit ook al gaan wees.

“Is dit die OBK se werk om mislukte private-ekwiteitstransaksies te hulp te snel?” het Anthony Clark, ’n ontleder, gevra.

Meer oor:  Edcon  |  Afleggings  |  Klerebedryf  |  Maatskappye  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.