SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kommissie kan Ford steeds aankla oor Kuga
Een van die Ford Kugas wat begin brand het.

Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het gesê die gesprekke met die motorvervaardiger Ford om ’n skikkingsooreenkoms te bereik, is deel van die proses om die maatskappy te vervolg vir die voorvalle waarin tientalle Ford Kugas aan die brand geslaan het.

Die kommissie het op vrae gereageer na aanleiding van ’n berig in die Sunday Times. Dié koerant het berig die slagoffers van die brande was geskok om te hoor Ford is in gesprek met die kommissie om te skik oor die saak.

Dit kom nadat die NVK einde April gesê het hy is gereed om die Verbruikerstribunaal te nader om Ford aan te kla weens verskeie oortredings van die Verbruikersbeskermingswet.

Dit hou verband met sowat 50 voorvalle van Ford Kuga 1.6 EcoBoost-motors wat aan die brand geslaan het.

Ford moes in 2017 sowat 4 500 van die motors herroep en het daarna nog twee keer motors herroep.

Die radiostasie Cape Talk het einde April berig oor ’n onderhoud met Trevor Hattingh, wat toe nog woordvoerder van die NVK was. Hattingh het aan Cape Talk gesê nadat die kommissie sy ondersoek afgehandel het, is die voorlopige verslag daaroor aan Ford verskaf om daarop te reageer.

“Hulle het gereageer, maar ons is nie oortuig nie en ons het besluit om die vervolging voort te sit.”

Hattingh het toe gesê die aansoek sal binne drie weke voor die tribunaal gebring word.

Hy het gesê ’n boete kan tot 10% van die jaarlikse omset van die maatskappy wees.

’n Uitspraak in die hofsaak oor die geregtelike doodsondersoek van een persoon wat dood is toe sy Ford Kuga aan die brand geslaan het, word in Oktober verwag.

Sunday Times het Sondag die onderhandelings met Ford om ’n skikking te bereik as ’n “verrassende stap” en ’n “ommekeer” beskryf in die NVK se besluit om Ford aan te kla.

Thezi Mabuza, adjunkkommissaris van die NVK, het as volg op vrae gereageer:

1. Kan jy bevestig Ford is in gesprek met die NVK om te skik?

“Die NVK is in gesprek met Ford Motor Company SA met die oog op die opstel van ’n skikkingsooreenkoms.”

2. Wanneer het die onderhandelinge begin?

“Dit het in Junie vanjaar begin.”

3. Wat het gebeur met die voorneme van die NVK om Ford aan te kla?

“Dit is deel van die proses van vervolging aangesien die skikkingsooreenkoms, wanneer dit gefinaliseer is, nog aan die Nasionale Verbruikerstribunaal voorgelê moet word.

“Die Verbruikersbeskermingswet maak daarvoor voorsiening dat in enige stadium van ’n ondersoek en selfs nadat ’n aansoek by die tribunaal aanhangig gemaak is, kan die partye instem tot ’n skikkingsooreenkoms. Die ooreenkoms word dan deur die tribunaal bevestig as ’n bevel.”

4. Het die NVK met Ford gekommunikeer oor die uitslag van die ondersoek?

“Die NVK het sy bevinding met Ford Motor Company SA gedeel.”

5. Gaan die uitslag van die ondersoek openbaar gemaak word?

“Nie in hierdie stadium nie. Die bevindinge sal deel wees van die dokumentasie wat na die tribunaal gaan. Dit sal in daardie stadium openbare inligting wees.”

Minesh Bhagaloo, woordvoerder van Ford Suid-Afrika, het op vrae of die maatskappy in gesprek is met die NVK om te skik, bloot die volgende kort verklaring uitgereik: “Ons wag op die kommunikasie van die NVK vir die uitslag van hul ondersoek. Tot dan kan ons nie kommentaar lewer nie.”

Hy wou nie opvolgvrae beantwoord nie.

Ford het ook gesê hy werk ten volle saam met die kommissie. “Ons gaan te alle tye in ooreenstemming met die riglyne vir veilige herroeping ingevolge die Verbruikersbeskermingswet te werk.”

Ebrahim Mohamed, kommissaris van die NVK, het in Maart 2018 in die parlement voor ’n portefeuljekomitee terugvoering gegee oor die herroeping van die Ford Kugas en sy ondersoek na die gebeure.

Mohamed het gesê die ondersoek het drie breë doelstellings. Die oorkoepelende doel is om te bepaal of Ford “verbode gedrag” getoon het deur die Ford Kuga 1.6 EcoBoost in die Suid-Afrikaanse mark bekend te stel.

Verder moes die ondersoek bepaal of verbruikers ingevolge die wet sal kan optree teen Ford.

Volgens Mohamed wil die NVK ook bepaal uit watter land die Ford Kugas kom. Hy het verwys na vrese wat in die media uitgespreek is dat dit in ander markte herroep is en toe in Suid-Afrika beland het.

Mohamed het gesê die NVK ondersoek moontlike oortredings ten opsigte van verbruikers se reg tot veilige en gehalteprodukte.

Hy het toe gesê daar was ’n “onentoesiastiese reaksie van Ford vergeleke met die beweerde vinnige reaksie in ander markte”.

Die Verbruikersbeskermingswet maak daarvoor voorsiening dat in enige stadium van ’n ondersoek en selfs nadat ’n aansoek by die tribunaal aanhangig gemaak is, die partye kan instem tot ’n skikkingsooreenkoms.

Daarna, in Junie 2018, het Mabuza aan ’n komitee van die Nasionale Raad van Provinsies gesê die ondersoek is in April 2018 afgehandel en die kommissie het Ford die geleentheid gegee om op die bevindinge te reageer.

Volgens haar wou Ford dit tot einde Julie vertraag om sy terugvoering te gee. Sy het gesê dit was onaanvaarbaar vir die kommissie, wat besluit het om die saak na die tribunaal te verwys.

Dis onseker hoekom dit amper ’n jaar geduur het tot die punt dat die NVK-woordvoerder, Hattingh, weer gesê het dit gaan na die tribunaal.

Mabuza het verlede jaar in die parlement gesê die kommissie is bewus van Ford se verbintenis tot sy belegging in Suid-Afrika, maar wil nie ’n “kompromis” aangaan nie.

Ford het in 2017 aangekondig hy gaan R3 miljard belê om van sy aanlegte in Suid-Afrika uit te brei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.