Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kommissie kyk na skeepsrederye se pryse

Die Mededingingskommissie het bevestig hy ondersoek tans ’n paar klagtes oor die buitensporige pryse van skeepsrederye tydens die koronaviruspandemie wat hy ontvang het.

Houerskepe in die Ngqura-hawe naby Port Elizabeth in die Oos--Kaap.

Die kommissie het egter nie geantwoord op versoeke vir meer besonderhede van dié klagtes en presies hoeveel al ontvang is nie.

Dit kom te midde van invoerders in Kaapstad wat kla dat die skeepsrederye “belaglike” ekstra tariewe vra bloot om vragdokumentasie te verander.

Dit is in gevalle waar skeepsrederye weens die Covid-19-verwante opeenhopings en agterstande in die Kaapse hawe eerder verby vaar en hul vrag in die hawe van Port Elizabeth of Ngqura gaan aflaai.

Gerhard Martin, uitvoerende direkteur van Cape Foods, sê die skeepsredery Mediterranean Shipping Company (MSC) het hom aanvanklik ’n sogenaamde COD-tarief (change of destination) van $500 en ’n sogenaamde EMC-tarief van 150 gevra om die vragdokumente te verander omdat sy vraghouers in die Ngqura-hawe by Port Elizabeth pleks van in Kaapstad afgelaai is.

Dit werk uit op meer as R11 000 per vraghouer teen huidige wisselkoerse, en volgens Martin is dit gelykstaande aan 70% van die totale verskepingskoste van Europa na Kaapstad.

Daarby kom verdere dokumentasie- en hanteringsgelde van R1 868 en boonop bergingskoste van Transnet vir die tydperk dat die houer in Ngqura staan en wag. Die skeepsredery is kontraktueel verplig om op eie koste die houers van Port Elizabeth na Kaapstad te vervoer, en die bergingskoste is nie vir die kliënt se rekening nie.

Martin meen daar is geen dringendheid by die skeepsrederye om die houers Kaap toe te bring nie want hulle maak geld uit kliënte wat hul goedere dringend benodig. As die kliënt die goedere vroeër wil hê, moet hy self vir die bergingskoste betaal.

Martin voer aan dit kom op uitbuiting neer en is strydig met die wet wat verbied dat enigiemand ’n buitensporige wins uit die pandemie maak.

Volgens Martin is nege vraghouers van sy onderneming al sedert 4 Julie in Port Elizabeth en moes hy al twee houers dringend teen ’n koste van meer as R38 000 per vraghouer na Kaapstad bring.

Martin het by die Wes-Kaapse regering en die handelsbevorderingsagentskap Wesgro gaan kla. Hy het wel later by die regte mense by MSC uitgekom en kon afslag kry.

Rosario Sarno, besturende direkteur van MSC in Suid-Afrika, het in reaksie gesê die kliënt moes eerder eers MSC se bemarkingspan genader het, want MSC het tot dusver tydens die pandemie sy bes gedoen om kliënte met afslag op standaardtariewe tegemoet te kom. Talle ander kliënte het al versoeke ingedien vir verligting van tariewe en dan is die koste aangepas.

Sarno vermoed die probleem het dalk ingesluip omdat die agent wat Martin gebruik het, tans van die huis af werk.

Sarno verduidelik die COD-tarief is nie bloot ’n eenvoudige dokumentasietarief nie, maar neem ekstra bedryfskoste en vragbewegings in ag wat gewoonlik vereis word as die bestemming van ’n vragbesending verander word.

Maersk
'n Argieffoto van die MV Maersk McKinney Moller, een van die Deense redery Maersk se groot houerskepe. Maersk sê dis nie hy wat enige ekstra koste op verskeping in die Covid-19 pandemie hef weens vertragings in Kaapstad nie. Foto: Reuters

Volgens Kerry Rosser, kommunikasiebestuurder van die Deense redery Maersk in Afrika, het dié redery nie enige nuwe heffings ingestel sedert die pandemie na Suid-Afrika versprei het nie, en geen opeenhopingsheffings is ook nog ingestel nie. Sy verduidelik die meeste heffings hierbo genoem, is standaardverskepingsgelde. Sommige word deur Transnet gehef en deur die redery van die vrageienaar verhaal.

Die standaard-COD-tarief is volgens Maersk tans $300.

Maersk het die vertragings in van die hawens fyn dopgehou en in April al gebeurlikheidsplanne ingestel om seker te maak dat die seevrag steeds vervoer word, het Rosser gesê.

Maersk het sy hoofskeepsdiens tussen Europa en Suid-Afrika byvoorbeeld verdeel in ’n roete wat Kaapstad oorslaan en net na Durban en Port Elizabeth vaar, en ’n aparte een wat net tussen Europa en Kaapstad loop.

Die redery CMA CGM het wel in Junie ’n ekstra opeenhopingsheffing van $550 per 20-voet-vraghouer vir vrag na Kaapstad ingestel weens die vertragings daar. Skepe moet soms langer as ’n week buite die hawe wag voordat hulle kan vasmeer, wat vir die redery ekstra koste en ’n verlies aan inkomste beteken.

Meer oor:  Cape Foods  |  Maersk  |  Msc  |  Skeepsvervoer  |  Covid-19  |  Vraghouer  |  Hawens  |  Skeepsrederye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.