Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kommissie se 'nee' kos miljoene

Die Mededingingskommissie se besluit om nie Grand Parade Investments (GPI) se verkoop van Burger King goed te keur nie, het potensiële verliese van meer as R171 miljoen vir GPI-aandeelhouers besorg.

Die Whopper, Burger King se vlagskip-hamburger. Die Mededingingskommissie wil nie hê Burger King Suid-Afrika moet nuwe eienaars kry sonder swart eienaarskap nie.

Dít is op grond van die skerp val in die aandeelprys van GPI van R3,10 Maandag tot R2,70 op Woensdag ná die kommissie se aankondiging.

Die meerderheid van GPI se aandeelhouers is uit voorheen benadeelde gemeenskappe.

Die aandeelprys het wel teen Donderdagoggend tot R2,80 herstel, maar is steeds byna 10% laer as Maandag se hoogtepunt.

Die kommissie se besluit is “pervers”, volgens Dean Macpherson, DA-parlementslid en DA-woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging.

Die kommissie het aangevoer hy kan nie die transaksie goedkeur nie omdat dit die bemagtigingsaandeelhouding in Burger King Suid-Afrika tot 0% verlaag.

“Dit het niks met mededingingskwessies te doen nie, maar alles met rasse-boontjietellery,” meen Macpherson. Dit skep ’n “ongelooflik gevaarlike presedent en devalueer prakties elke onderneming in Suid-Afrika”.

“Dit stuur ’n waarskuwingsein na buitelandse beleggers dat hulle nie sake kan doen in Suid-Afrika sonder swart ekonomiese bemagtiging nie.”

Macpherson meen dit is verstommend dat die kommissie dit goed vind om ’n belegging van R600 miljoen te keer wanneer die land dit so nodig het.

Die kommissie se besluit sal die werknemers van Burger King en die soveel as 28 000 swart aandeelhouers van GPI benadeel, sê Macpherson.

Die DA sal GPI aanbeveel om die besluit by die Mededingingstribunaal te beveg en indien nodig hof toe te gaan.

GPI en die beoogde nuwe eienaars van Burger King SA en Grand Foods – die vleisaanleg wat hy saam met sy meerderheidsbelang in Burger King SA wou verkoop – het aanvanklik uitgebreide voorstelle en verbintenisse gemaak om in werkers en in swartbemagtigde verkryging te belê. Maar dit blyk die kommissie wou nie byt aan hul planne nie en het steeds aanbeveel dat die transaksie afgekeur word.

GPI het gehoop om die transaksie teen einde Junie te kon afhandel. Die verkoop van sy 95%-belang in Burger King sou volgens hom broodnodige buitelandse investering gelok het om Burger King verder in Suid-Afrika uit te brei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.