Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kommissie se pak slae vir supermarkte uitgestel

Die Mededingingskommissie gaan nie meer die drastiese voorstelle van sy voorlopige verslag oor die Groot Vier supermarkte opdwing nie. Die kommissie gaan nou eers sy finale verslag voltooi, wat na verwagting teen September gaan wees.

Die Groot Vier supermarkte is in die kollig met die Mededingingskommissie, maar het nou 'n blaaskans tot September voor streng nuwe maatreëls op hulle afgedwing word.

Die voorlopige verslag het Shoprite, Woolworths, Pick n Pay en Spar van teenmededingende praktyke beskuldig met betrekking tot huurkontrakte. Die voorlopige verslag het aanvanklik geëis dat hulle teen 28 Junie ophou om die eksklusiwiteitsklousules in hul huurkontrakte met winkelsentrums op te dwing.

Lulana Mtanga, leier van die ondersoek, wat reeds in 2015 begin het, het die voorlopige verslag op 29 Mei bekend gestel. Vanaf die bekendstelling tot 28 Junie kon supermarkte en ander belanghebbendes kommentaar lewer en verdere voorstelle doen.

Volgens Yongama Njisane, senior ekonoom van die Mededingingskommissie, beteken die omvang van die terugvoering wat ontvang is, dat die verslag nou eers op 30 September afgehandel sal kan word.

Alle voorstelle en spertye is nou opgeskort totdat die verslag in sy finale vorm bekend gestel word.

Njisane sê geen insette vanaf belanghebbendes mag voor die finale publikasiedatum openbaar gemaak word nie.

Hy sê al het die periode vir amptelike kommentaar gesluit, bly die kommissie met die Groot Vier in gesprek totdat die verslag afgehandel word.

Die kommissie het aanvanklik bevind dat die Groot Vier só magtig is dat die owerheid moet ingryp om ’n balans te probeer daarstel sodat onafhanklike en spesialiswinkels, ontluikende kleinhandelaars en veral spazawinkels kan oorleef.

Kleinhandelaars soos OBC Chicken and Meat het die verslag verwelkom.

Volgens OBC is die praktyke van die groot spelers in die kruidenierswaremark besig om te lei tot die ondergang van klein spelers en enige ontluikende mededingers.

Al vier die groot supermarkgroepe het in reaksie op die voorlopige verslag bloot gesê hulle is bewus van die voorstelle daarin, en gaan in gesprek bly met die kommissie.

As die voorstelle van die kommissie sonder enige uitdaging sou voortgaan, sou dié supermarkte hul bedrywighede en praktyke beduidend moet aanpas.

James Hodge, hoofekenoom van die Mededingingskommissie, het in Mei gebieg dat supermarkte se wins waarskynlik wel deur hul voorlopige voorstelle geknou sou word.

Meer oor:  Spar  |  Woolworths  |  Mededingingskommissie  |  Pick N Pay  |  Shoprite  |  Kruideniersware  |  Kleinhandel  |  Winkelsentrums  |  Supermarkte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.