Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Konsepplan vir SAL uitgelek

Terwyl binnelandse lugdienste gereedmaak vir ’n stelselmatige hervatting van vlugte tussen Kaapstad, Johannesburg en Durban, het ’n konsepreddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uitgelek.

’n SAL-passasiersvliegtuig pas nadat dit op die Kaapstad Internasionale Lughawe geland het.Foto: Reuters

Die plan, wat aan die DA uitgelek is, wys die sakereddingspraktisyns wil nog R4,6 miljard van die regering hê om die plan te laat werk, en dat sowat 2 200 SAL-werknemers hul werk kan verloor.

Die totale reddingsboei om die plan te laat werk is R21 miljard, wat die R16,4 miljard insluit wat reeds in Februarie se begroting aangekondig is om al die historiese skuld van die SAL se balansstaat af te vee.

Daar was reeds onderhandelings met drie entiteite wat as strategiese ekwiteitsvennote van die SAL kan optree, blyk dit uit die dokument. Een van dié partye stel egter nie in ’n aandeelbelang in die SAL belang nie, maar stel ’n alliansie-ooreenkoms voor waardeur die SAL groter passasiersvolumes kry danksy insluiting in die betrokke party se netwerk.

Dit blyk dié konsepplan is Sondag met ’n werknemerskomitee van die SAL gedeel as deel van die sakereddingspraktisyns se konsultering met belanghebbers. Dit het daarna in die hande van Alf Lees, DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge, beland wat dit openbaar gemaak het.

Les Matuson en Siviwe Dongwana, sakereddingspraktisyns van die SAL, het Maandag beklemtoon dit is nog net ’n konsepplan. Die vertroulike konsepplan is vir besprekingsdoeleindes met die SAL se krediteure- en werknemerkomitees gedeel Dit was nie bedoel om aan enigiemand anders gegee te word nie, het hulle gesê.Hulle wou dus nie daarop kommentaar lewer nie, want daar moet nog ooreenstemming en kommentaar verkry word van al die belanghebbers.Hulle het aangedui hulle het uitstel gekry tot 8 Junie om die finale plan aan die regering voor te lê.

Hoogtepunte uit die plan:

  • ’n Nuwe beheermaatskappy word voorgestel waarin ’n herstruktureerde SAL, Mango, Airchefs, SAA City Centre en SAL Tegnies gehuisves word.
  • R2 miljard word gevra as nuwe bedryfskapitaal om die lugdiens aan die gang te kry nadat die Covid-19-verwante reisverbod opgehef is.
  • R2 miljard word gevra vir die koste om afleggingspakkette aan werknemers te gee, afhangende van hoeveel werknemers afgelê moet word.
  • Die plan raam dat sowat 48% van die SAL se personeel afgelê sal moet word. Dit sal die SAL se personeelkorps met sowat 2 200 tot net meer as 2 500 laat krimp.
  • Die risiko’s vir die sukses van die reddingsplan sluit in presies hoe die lugdiensmark herstel ná die Covid-19-pandemie.
  • Die plan verwag ’n verlies van R8,1 miljard in die eerste jaar vir die nuwe SAL, wat krimp na R7,5 miljard in die tweede jaar en R4,3 miljard in die derde jaar.
  • Die plan sit uiteen hoe die nuwe SAL sy lenings aan die groot banke asook die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika oor die volgende paar jaar kan terugbetaal.
  • As die SAL gelikwideer moes word teen einde Oktober verlede jaar, sou krediteure niks kry nie, volgens berekeninge van die ouditgroep PwC.

Hoewel die sakeredders waarsku dat ’n likwidasie die personeel en krediteure van die SAL in ’n slegter posisie sal plaas, meen Lees steeds die reddingsplan behoort nie ernstig oorweeg te word nie. Hy meen steeds die enigste geloofwaardige opsie is om vir likwidasie aansoek te doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.