Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Konstruksie by onderste draaipunt verby?

Daar is tekens dat die konstruksiebedryf sy onderste draaipunt bereik het, sê Andries van Heerden, uitvoerende hoof van die gediversifiseerde mynbougroep Afrimat.

Heelwat bouprojekte is die afgelope ruk goedgekeur, maar bouwerk het nog nie in alle erns begin nie.

Afrimat lewer betonprodukte en aggregate aan die konstruksiebedryf. Aggregate is, soos sement, ’n sleutelproduk in konstruksie en Afrimat is dus in ’n posisie om die temperatuur van die bedryf te meet.

Met die bekendmaking Donderdag van Afrimat se resultate vir die jaar tot einde Februarie, het Van Heerden gesê konstruksiemateriaal lewer sowat 40% van Afrimat se wins. Hy sê daar is veral in KwaZulu-Natal, waar die konstruksiebedryf onder geweldige druk was, tekens van lewe.

“In Gauteng is daar nog min aktiwiteit, maar daar is wel tekens van groei,” sê hy.

Afrimat se konstruksiemateriale in die Wes-Kaap het ondanks die moeilike markomstandighede sy man gestaan.

Van Heerden sê daar is heelwat eiendomsontwikkelaars wat reeds verlede jaar die nodige goedkeurings gekry het, maar gewag het vir die verkiesing voordat hulle die beleggingskrane oopdraai. “Van die fundamentele probleme wat die ekonomie geskaad het, is reeds getakel,” sê hy.

Hy verwag dat verwikkelinge in die volgende paar dae ’n verdere positiewe bydrae kan lewer om bouers uit die wegspringblokke te kry.

Volgens Van Heerden het die struktuur van die konstruksiebedryf egter verander. Waar die groot, genoteerde konstruksiegroepe voorheen Afrimat se klantelys oorheers het, is dit nou die ongenoteerde, middelslagfirmas wat die groot kopers is.

Dit volg nadat voormalige konstruksiereuse soos Murray & Roberts hulself geherposisioneer het buite die konstruksiemark en Basil Read en Group Five in sakeredding geplaas is.

Nico Pienaar, direkteur van Aspasa, die bedryfsliggaam vir aggregaat- en sandprodusente, stem saam dat ’n oplewing ophande is. Hy sê hoewel dit nog nie in die verkoopsyfers van sy lede te sien is nie, is die sentiment beter nadat Gwede Mantashe oorgeneem het as minister van minerale bronne.

“Ons weet nie of ons hom weer gaan kry nie, maar as ons iemand soos hy kry (as minister) sal ons bly wees, want Gwede het mynbou verstaan,” het Pienaar dié week gesê.

Hy sê met die verkiesing agter die rug sal provinsiale regerings na verwagting weer die beursies oopmaak vir padbouprojekte, wat die konstruksiebedryf sal help.

Werk aan nasionale paaie is egter steeds baie skaars omdat die Nasionale Padagentskap (Sanral) weinig kontrakte toeken, sê hy.

Die groep se omset vir die jaar tot einde Februarie het met byna 25% gestyg tot R3 miljard en die wesensverdienste per aandeel was byna 30% hoër op 234,1c. ’n Slotdividend van 62c is aangekondig.

Afrimat se aandeelprys het Vrydagoggend byna 5% hoër verhandel teen R32,50. Tot dusver vanjaar het dit met byna 11% gestyg.

Meer oor:  Group Five  |  Afrimat  |  Murray & Roberts  |  Basil Read  |  Sanral  |  Konstruksie  |  Infrastruktuur  |  Sement  |  Paaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.