Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Konstruksie, mynbou bly Cyril wil ‘mafia’ vasvat

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy “misdadige groepe wat geld van konstruksie- en ander ondernemings afpers” wil vasvat, is wyd verwelkom.

Konstruksiemaatskappye sukkel al ’n geruime tyd met sogenaamde “mafias” wat op persele opdaag en aandring op betaling.Foto: Argief

“Gespesialiseerde eenhede – wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die nasionale vervolgingsgesag bymekaarbring – het die mandaat om hierdie misdaad van ekonomiese ontwrigting te bekamp,” het hy gesê.

Hy het egter nie meer inligting gegee oor wat die omvang van die projek gaan wees nie.

Kaizer Nyatsumba, uitvoerende hoof van die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suider-Afrika (Seifsa), sê in ’n verklaring hulle is veral bly om te hoor die sogenaamde konstruksie-mafia gaan vasgevat word.

Geweld op boupersele – veral waar paaie gebou word – is lank reeds ’n groot probleem in die land.

Die Suid-Afrikaanse Federasie van Siviele Ingenieurskontrakteurs (Safcec) het reeds in Maart verlede jaar ’n brief aan Ramaphosa gestuur waarin hy kla dat R25,5 miljard se bouprojekte teen daardie tyd reeds onder dié “mafias” deurgeloop het.

Dit was juis konstruksie-mafias se optrede by die Mtentu-brugprojek van R1,65 miljard in die Oos-Kaap wat daartoe gelei het dat die konstruksiemaatskappye Aveng en Strabag International op 4 Februarie 2019 force majeure verklaar het weens geweld en dreigemente van geweld deur lede van die plaaslike gemeenskap.

Hul onttrekking aan die kontrak het tot ’n hofsaak met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) uitgeloop.

Safcec sê “gewapende bendes” het ook gelei tot die opskorting van bouwerk aan ’n oliebergingsprojek van R2,4 miljard by Saldanha.

Mynbou

Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê in ’n verklaring na die staatsrede dat hy ook dié aankondiging van die president verwelkom.

Hy sê hy hoop en vertrou dat dit die mynbousektor insluit. Hier is ’n groot probleem met sindikate wat onwettige myners steun om nie net met hul bedrywighede in verlate myne voort te gaan nie, maar om selfs aktiewe myne te infiltreer.

Sibanye-Stillwater, wat goud- en platinummyne bedryf, het in 2018 1 400 onwettige myners in sy goudmyne in hegtenis geneem.

Nash Lutchman, Sibanye-Stillwater se hoof van beskermingsdienste, het voorheen gesê sindikate sal miljoene rande betaal om toegang vir onwettige mynwerkers tot operasionele myne in Suid-Afrika te kry.

Hy sê sover vasgestel kon word, was die omkoopprys in 2017 reeds minstens R20 000 om ’n onwettige mynwerker toegang tot een van hul myne te gee. ’n Verdere R20 000 is dan weer betaal om die werker later weer ongesiens na die oppervlak te bring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.