Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Konstruksie plaas hoop op infrastruktuur-plan

Die konstruksiemaatskappye Raubex en Stefanutti Stocks is versigtig optimisties oor die infrastruktuurprojekte wat die staat onlangs aangekondig het, maar sê geen kontrakte is nog toegeken nie.

Die konstruksiebedryf het stilgestaan tydens die eerste vyf weke van die inperking, maar is nou weer grootliks op dreef. Foto: Unsplash

Die frustrasie met staatsdepartemente wat sloer om vir werk te betaal, sowel as Eskom se dispuut oor meer as R1 miljard se werk wat by die Kusile-kragstasie gedoen is, maak Stefanutti Stocks boonop diep bekommerd.

Dié groep se direksie het ’n herstruktureringsplan goedgekeur wat oor die volgende paar jaar tot werkverliese in die sektor gaan bydra.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het 45 000 minder mense in die eerste kwartaal van 2020 in konstruksie gewerk as ’n jaar gelede.

“Die kontrakgeleenthede wat op tender gesit is in die Suid-Afrikaanse konstruksiesektor bly bemoedigend, maar teen 29 Mei 2020 (toe Raubex sy boekjaarresultate uitgereik het), was daar nog geen wesentlike toekennings nie. Die tydsberekening van toekennings is oënskynlik deur die Covid-19-inperking vertraag,” sê Raubex in ’n handelsverklaring.

Raubex sê hy hoop die regering se klem op ’n infrastruktuurbouprogram om die ekonomie ná die Covid-19-pandemie ’n hupstoot te gee, “sal help om die Suid-Afrikaanse ekonomie op mediumtermyn te stimuleer.”

Patricia de Lille, minister van openbare ondernemings en infrastruktuur, het verlede week 18 strategiese infrastruktuurprojekte en 50 subprojekte in die Staatskoerant afgekondig. Raubex beskryf dit as bemoedigend, maar sê hy sal die toekenning van tenders fyn dophou in die tydperk wat voorlê.

Die twee maatskappye het Donderdag die kollig laat val op die impak wat die streng fases van die staat van inperking, die tam ekonomie en vertragings met betalings op hul sake gehad het.

  

Raubex: Wins daal met 80%

Raubex, wat hoofsaaklik in Suider-Afrika werk en grootliks paaie bou en uitgrawings vir mynboumaatskappye doen, het in ’n handelsverklaring gesê sy verdienste en wesensverdienste per aandeel vir die ses maande tot einde Augustus gaan minstens 80% laer wees as in dieselfde halfjaar van 2019.

Die groep gaan nietemin steeds ’n wesensverdienste behaal en nie ’n verlies nie.

Al Raubex se Suid-Afrikaanse bedrywighede is in die eerste vyf weke van die inperking, van 27 Maart tot einde April, tot stilstand gedwing. In Mei kon sekere konstruksiebedrywighede hervat word en Raubex sê die meerderheid van sy bedrywighede is hierby ingesluit. Werk is geleidelik ingefaseer en het teen einde Julie “normale vlakke” behaal.

Ook in die ander Afrika-lande waarin Raubex bedrywighede het, het inperkings gegeld, maar Raubex se bedrywighede in Wes-Australië is nie wesentlik deur die pandemie geraak nie.

Voor die pandemie het Raubex ’n sterk balansstaat gehad. Sy kontant was op 29 Februarie R1,01 miljard en sy skuld R797,8 miljoen. Die maatskappy het streng beheer oor uitgawes toegepas en sy kontant het teen einde Junie tot R1,16 miljard gegroei. Sy skuld is net effens hoër op R807,8 miljoen.

  

Stefanutti Stocks: Verlies styg met 863%

Stefanutti Stocks, wat onder meer in Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate sake doen, het in sy boekjaar tot einde Februarie ’n bedryfsverlies van R1,033 miljard gely. Dis 554% méér as die verlies verlede jaar.

Sy totale verlies vir die jaar was R1,072 miljard, 863% meer as verlede jaar.

Die groep se kontrakinkomste het met 13% tot R8,586 miljard gedaal.

Russell Crawford, uitvoerende hoof, sê in ’n verklaring oor die groep se resultate die maatskappy is erg geknou toe Eskom eensydig betalings gestaak het vir werk wat die groep in vennootskap met Basil Read aan die Kusile-kragstasie doen.

Eskom voer aan die vennootskap het sowat R1 miljard te veel gevra vir werk wat gedoen is, iets wat sowel Stefanutti as Basil Read betwis. Stefanutti moes nietemin in die boekjaar voorsiening maak vir R263 miljoen wat moontlik nie invorderbaar gaan wees nie, en maak in die nuwe boekjaar voorsiening vir nóg R462 miljoen.

Stefanutti spog met ’n stewige bestelboek van R8,5 miljard, maar nagenoeg die helfte (R4,2 miljard) is vir werk buite Suid-Afrika.

Die groep sê die voortslepende vertragings met betalings van kliënte – grootliks staatsdepartemente – dra by tot die swak marktoestande wat konstruksie beleef.

Die groep se kontant het van R881 miljoen ’n jaar gelede tot R741 miljoen einde Februarie 2020 gedaal.

Die groep se herstruktureringsplan, waaraan sedert November 2019 gewerk word, is nou deur die direksie goedgekeur. Dit besluit neem nou ook die impak van die pandemie op sy sake in ag.

Dit sluit in dat finansiering van nagenoeg R1,256 miljard bekom sal moet word en niekernbates verkoop gaan word.

Die plan gaan afleggings insluit, maar die groep kondig nog nie aan hoeveel mense se poste geraak gaan word nie.

Die herstruktureringsplan gaan oor die volgende twee jaar, tot Februarie 2022, in werking gestel word.

Stefanutti Stocks sê hawe-opgraderings in Durban en Kaapstad het die groep se afdeling vir mariene en siviele ingenieurswese geleenthede gegee en daar is ook geleenthede in water- en vervoerinfrastruktuur in Suid-Afrika, Eswatini en Botswana.

Stefanutti is ook steeds optimisties dat die regering se voorgestelde infrastruktuurprogram geleenthede sal oplewer.

Die groep sê daar is ook geleenthede in die private sektor met die bou van pakhuise en fabrieke veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Wêreldwye onsekerheid oor die olieprys het geleenthede in olie-en-gas-ontwikkelings gekniehalter.

“Die impak van die pandemie op ekonomiese groei raak die vraag vir hulpbronne negatief, wat investering in oppervlak-mynbou-infrastruktuur beperk het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.