Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Konstruksie: Wat van ’n 2de HOP-program?
Die konstruksiebedryf is onder druk weens trae ekonomiese groei.

Die regering moet dringend aansporings oorweeg vir die hele bou- en konstruksiebedryf, byvoorbeeld deur die Heropbou-en-ontwikkeling-behuisingskema te laat herleef.

Die land se duisende bankrot munisipaliteite moet ook reggeruk word sodat hulle voorwaardelike toelaes vir die ontwikkeling van infrastruktuur kan ontvang.

Dié voorstelle sal die beleërde konstruksiebedryf ’n broodnodige hupstoot gee, sê dr. Roelof Botha, die ekonoom wat Afrimat se konstruksie-indeks saamstel. Botha sê op lang termyn onderpresteer die bedryf teenoor die ekonomie as geheel, al speel dit ’n deurslaggewende rol om infrastruktuur, behuising en nuwe produksievermoë in die ekonomie te skep.

In die eerste kwartaal het die indeks egter beter as die algehele ekonomie gevaar gemeet teenoor dieselfde kwartaal van 2018.

Die Afrimat-indeks vir die eerste kwartaal van 2019 is Donderdagoggend uitgereik. Groei in die bedryf beloop 1,2%, volgens die indeks. Daarteenoor het die bruto binnelandse produk met 0% gegroei.

Ná sewe agtereenvolgende kwartale waarin die indeks se gemiddelde waarde oor vier kwartale gedaal het, het dit in die eerste kwartaal effens gestyg.

Die indeks is nou 9,1% hoër as agt jaar gelede, teenoor die totale styging van 12,2% in die bruto binnelandse produk in dieselfde tydperk. Dit wys daarop dat die bedryf op lang termyn swakker as die ekonomie as geheel vaar, sê Botha.

Andries van Heerden, uitvoerende hoof van Afrimat, sê hulle sien wel tekens van “groen lote” in die bedryf, hoewel dit op die oomblik tot kleiner projekte in KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap beperk is, “met merkbare verbetering veral in die Oos-Vrystaat”.

Hy sê dis te vroeg om te sê of dit volgehou gaan word.

Stand van konstruksiefirmas

Die indeks kom terwyl al die land se genoteerde konstruksiefirmas onder druk verkeer.

Aveng en Stefanutti Stocks is besig met herstrukturering; Basil Read en Group Five is in sakeredding; en Raubex en Wilson Bayly-Holmes-Ovcon (WBHO) se wins het ook in hul jongste syfers gedaal.

Afrimat, wat boumateriale verskaf, het wel onlangs stewige groei in sy omset en wesensverdienste aangemeld.

Meer oor die indeks

Die indeks meet die vlakke van bedrywighede in die hele bou- en konstruksiebedryf.

Teenoor die vorige kwartaal was die onderafdelings van die indeks wat die beste gevaar het die waarde van bouplanne wat goedgekeur is en die waarde van geboue wat voltooi is.

Teenoor ’n jaar gelede was die beste presteerders die waarde van voltooide geboue, asook die waarde van boumateriale wat verkoop is.

Al ses die ander aanwysers, wat insluit kleinhandelverkope by selfdoenwinkels, salarisse en lone, indiensneming en die waarde van bouplanne wat goedgekeur is, het op ’n jaargrondslag gedaal.

Die skerpste daling, van 6,4%, was in indiensneming. Die sektor het in die eerste kwartaal 92 000 minder werknemers gehad as ’n jaar gelede, volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingsindeks.

Botha sê die dalings in die eerste kwartaal is nie ongewoon nie. Konstruksie tel gewoonlik in die tweede helfte van elke jaar op, “wat gevolg word deur ’n daling in die eerste kwartaal van die daaropvolgende jaar”.

Uitdagings vir konstruksie

Die vyf grootste uitdagings vir die konstruksiebedryf is volgens Botha:

  • Druk op die fiskus: Die trae groei in belastinginkomste en bestedingsperke ten einde nie staatskuld verder te laat styg nie, beteken die staat bestee weinig aan groot infrastruktuurprojekte.
  • Relatief hoë rentekoerse: Botha blameer die “weiering” van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee om die rentekoers te verlaag. “Suid-Afrika se reële repokoers is 450 basispunte hoër as die gemiddelde reële bankkoers van die eurogebied. Hoë plaaslike rentekoerse onderdruk konstruksiebedrywighede deur ’n styging in die reële koste van kapitaal met meer as 100% sedert die aftrede van Gill Marcus, vorige president van die Reserwebank.”
  • Onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding: “Dit het ’n voorspelbare huiwerigheid onder eiendomsontwikkelaars en ander beleggers meegebring.”
  • Verkiesing: Botha sê in aanloop tot Mei se verkiesing is baie staatsinstellings en staatsdepartemente, op al drie regeringsvlakke, lamgelê weens onsekerheid en “politisering”.
  • Misdaad: Hoë vlakke van misdaad en intimidasie – die werk van die sogenaamde konstruksiemafia – wek steeds kommer.

Botha is optimisties dat die konstruksiebedryf van nou af gaan verbeter en in 2020 momentum gaan opbou. “Pres. Cyril Ramaphosa het dit baie duidelik gemaak dat hoër ekonomiese groei en werkskepping, benewens die stryd teen korrupsie, die oorheersende prioriteit van sy ampstermyn gaan wees.”

Konstruksie – en die ekonomie – sal voordeel trek as die aanbevelings van die Nasionale Ontwikkelingsplan in werking gestel word, “veral die klem op die skep van nuwe infrastruktuur en die teiken van sektore met hoë groeipotensiaal”.

Goeie nuus

Botha sê die onlangse aankondiging dat Transnet binnekort ’n tender gaan uitreik vir die oprigting en bedryf van ’n groot nuwe binnelandse houereindpunt ter waarde van R2,5 miljard, is baie goeie nuus vir die bedryf, veral in Gauteng.

Die eindpunt gaan naby Vosloorus in Ekurhuleni gebou word en die Tambo Springs Intermodal Terminal genoem word.

Die Gautengse regering gaan ook R6,5 miljard bestee om die paaie daarom te verbeter.

Die projek is ’n openbare-private vennootskap.

Botha sê projekte soos dié in ander metropole en die vermindering van rompslomp kan ’n herlewing in konstruksie meebring.

Meer oor:  Transnet  |  Konstruksiebedryf  |  Hop-Huise  |  Infrastruktuur  |  Afrimat-Indeks  |  Hop-Program  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.