Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Koop op eie risiko kaartjies vir SAL-vlugte

Met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat Dinsdag 19 binnelandse en buitelandse vlugte gekanselleer het, draai die reisbedryf toenemend sy rug op die lugdiens.

Die aanlyn reisagent Flight Centre sê hy het in November 2019 al besluit om nie meer SAL-vliegkaartjies te verkoop nie.

Diegene wat dit wel wou koop, is gevra om ’n vrywaringsvorm te teken.

“Die besluit om nie meer SAL-kaartjies te verkoop nie, is geneem omdat die agentskap se reisversekeringsverskaffer nie meer bereid is om die SAL te dek onder sy reisverskaffersinsolvensievoordeel nie weens die twyfel oor die langtermynvolhoubaarheid van die lugdiens,” sê Flight Centre in ’n verklaring.

Daleen Lombard, kliëntediensbestuurder van World’s Ultimate Travels in Suid-Afrika, sê dié agentskap verkoop ook nie meer SAL-vliegkaartjies nie omdat dit “te riskant” is.

“Ons het die risiko geloop om ’n klomp geld te verloor, so op die oomblik gebruik ons nie die SAL nie,” sê sy.

Celeste Muir, bemarkingsbestuurder van Thompsons Holidays, sê hoewel die agentskap nie ’n verbod op die verkoop van SAL-kaartjies geplaas het nie, is kliënte “huiwerig” om die nasionale lugdiens te gebruik.

“Kliënte vra nie eens om die SAL te gebruik nie. As hulle dit wel wil gebruik, doen hulle dit op hul eie risiko,” sê sy.

’n Konsultant van STA Travel sê die maatskappy wil nie kommentaar lewer op die sake van die SAL nie, maar ook hulle het besluit om nie meer SAL-kaartjies te verkoop nie.

Die SAL sê die kansellasie van vlugte is deel van die sakereddingsproses om kontant te beskerm, maar is ook deel van die hersiening en konsolidasie van vlugte in reaksie op die swakker vraag daarna. Hy werk saam met ander lugdienste om passasiers elders te akkommodeer.

Die SAL wag op ’n reddingsboei van R2 miljard van die staat om te keer dat hy ondergaan.

* Die vakbond Solidariteit sê die vlugkansellasies is ’n regstreekse gevolg van die regering wat nie sy kant in die ooreenkoms oor sakeredding bring nie. 

Mango, vennootlugdienste help met vlugte

Passasiers wat geraak word deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se kansellering van sekere van sy vlugte word aangeraai om die SAL se sosialemediakanale dop te hou vir nuus.

Mense moet @flysaa of @flysaa_ care­ op Twitter volg, of flysaa volg op Facebook, of die lugdiens se webwerf by flysaa.com raadpleeg, sê die SAL in ’n verklaring.

Dit lyk asof die SAL sy passasiers by ander lugdienste akkommodeer. 

Wat die tien gekanselleerde binnelandse vlugte betref, gaan die laekostefiliaal Mango die passasiers huisves en vir die twee internasionale vlugte tussen Johannesburg en München in Duitsland sal vennootlugdienste in die Star Alliance-lugdiensalliansie uithelp, het die SAL laat weet. 

Die SAL sal ook sekere passasiers op sy vlugte na Frankfurt en Londen huisves.

Die SAL het Maandag nog aangedui alle bedrywighede sal soos normaal voortgaan ongeag die feit dat hy nie teen Sondag die R2 miljard van die regering kon kry wat hy dringend nodig het ingevolge ’n ooreenkoms oor sy sakeredding nie.

Vera Nagtegaal, hoof van die prysvergelykingswebwerf Hippo.co.za, beveel aan mense moet hul reisversekering nagaan om te kyk of hulle gedek is vir kansellasies deur die SAL.

Wanneer vliegkaartjies met ’n kredietkaart betaal is, het die bank dikwels ’n basiese vorm van reisversekering daarby ingesluit, sê Nagtegaal.

Versekeraars soos Santam en Hollard het in November gewaarsku hulle dek nie meer vliegkaartjies van die SAL vir wanneer die lugdiens weens bankrotskap nie meer kan vlieg nie. 

Dit was voordat die regering besluit het om die SAL in sakeredding te plaas.

Kansellasies

Binnelandse vlugte: 


*  Johannesburg na Kaapstad: 


SA303 - 21 en 24 Januarie


SA307 - 21 Januarie


*  Kaapstad na Johannesburg: 


SA316 - 21 en 24 Januarie


SA322 - 21 Januarie


*  Johannesburg na Durban: 


SA527 - 21 en 24 Januarie


SA543 - 21, 22 en 23 Januarie


SA571 - 21 Januarie


* Durban na Johannesburg: 


SA534 - 21,22 en 23 Januarie


SA550 - 21, 22 en 23 Januarie


SA578 - 21 Januarie


Internasionale vlugte: 


* Johannesburg na München: 


SA264 - 21, 22, 23 en 24 Januarie


* München na Johannesburg: 


A265 - 21, 22, 23 en 24 Januarie



Meer oor:  Sakeredding  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.