Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Koop van sigarette is steeds verbode, maar...

Die absolute verbod op die koop van enige tabakproduk hetsy by ’n supermark of enige ander winkel geld steeds, het ’n woordvoerder van die departement van handel en nywerheid Woensdag aan Netwerk24 bevestig.

Daar is geen planne om die regulasie daaroor te wysig nie, sê die woordvoerder.

Die koop van sigarette tydens die staat van inperking is verbode. Foto: Unsplash

Die land se twee grootste supermarkgroepe, Shoprite en Pick n Pay, sê ook albei hulle verkoop nie sigarette nie.

Sigarette, los tabak en selfs die vloeistof wat in e-sigarette gebruik word, is nie noodsaaklike items nie en kan dus nie tydens die staat van inperking aangeskaf word nie, is verlede week in die Staatskoerant afgekondig - en geen bygewerkte regulasies weerspreek dit nie.

En tog hou die Wes-Kaapse regering Woensdag in ’n e-pos vol jy mág sigarette koop, mits jy dit saam met jou kruideniersware koop. 

’n Woordvoerder van die regering het egter aan Netwerk24 verduidelik hulle ontvang leiding van die plaaslike polisiediens rakende watter van die regulasies hulle opdwing. En die koop van sigarette saam met ander kruideniersware is nie een daarvan nie.

Dit beteken nie dat winkels in die Wes-Kaap sigarette mag verkoop nie, net dat die polisie diegene wat wel sigarette aanskaf, nie sal straf nie.

Winkels in die Wes-Kaap is wel ook onderhewig aan nasionale regulasies wat betref die verkoop van tabakprodukte, wat beteken hulle mag dit nie verkoop nie.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Sondag ook laat blyk dat sigarette saam met ander kruideniersware gekoop mag word, al word dit nie as ’n noodsaaklike item in die Staatskoerant gelys nie.

Hy het egter ’n dag later van deuntjie verander en gesê dit mag nié gekoop word nie.

“Daar hoef geen verwarring daaroor te heers nie. Sover ek weet, word sigarette nie as noodsaaklike items beskou nie,” het Naidoo Maandag gesê.

’n Woordvoerder van Pick n Pay sê hulle verkoop nié sigarette tydens die staat van inperking nie, selfs nie wanneer mense kos koop nie. Die winkelgroep is nie ingelig oor enige verslapping in die regulasies nie.

’n Woordvoerder van Shoprite het ook gesê hulle volg die regering se regulasies, naamlik dat die verkoop van alkohol en sigarette “ten strengste verbied” is tydens die inperking. Geen kasregister by Shoprite of Checkers mag dit verkoop nie.

Suid-Afrikaners wat dus in die volgende twee weke ’n dampie wil maak, sal of by mekaar ’n sigaret moet skaai of daarsonder moet klaarkom...

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Inperking  |  Sigarette  |  Tabak  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.