Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Koos Bekker: ‘Regering beperk beleggings in SA’
Koos Bekker, voorsitter van Naspers. Foto: Lerato Maduna

Suid-Afrika se Mededingingskommissie kniehalter investering in Suid-Afrika, het Koos Bekker, voorsitter van Naspers se direksie, Vrydag gewaarsku.

Bekker het vir die tweede opeenvolgende jaar op Naspers se jaarvergadering gesê beleidsonsekerheid ontmoedig beleggings in Suid-Afrika.

“Die wêreldekonomie is sleg en waarskynlik besig om te versleg. Daar is geen punt om te kla daaroor nie. Dis soos die krieketreeks om die As – jy vat die kolfblad soos hy is en speel dit.

“Dis egter kommerwekkend dat veral Suid-Afrika swak vaar en dis weens beleidsonsekerheid. As jy ’n onderneming het en vir die volgende tien jaar wil beplan, het jy beleidsekerheid nodig.”

Bob van Dijk, uitvoerende hoof, sê Naspers “wil sy dollars terugbring om in Suid-Afrika te belê”, maar die mededingingsowerhede plaas perke op wat moontlik is.

Bekker het toe bygevoeg die owerhede, wat mededinging probeer aanmoedig, vertraag eintlik beleggings juis omdat hulle nie die wêreldprentjie sien nie. Naspers kan nie in grootte beperk word en steeds mededingend wees teen reuse soos Google, Amazon en Facebook nie.

Bekker het beklemtoon Naspers doen wat hy kan om Suid-Afrika se probleme aan te pak, insluitend deur Naspers Labs, wat jeugwerkloosheid probeer takel, en Naspers Foundry, wat in tegnologie-beginnerondernemings belê.

’n Jaar gelede het Bekker byna dieselfde gesê: “Suid-Afrika is uit pas met die meeste ontluikende markte. Dis vir ons baie belangrik dat die regering beleid opklaar – dit helder uitstippel sodat mense belê."

Van Dijk, uitvoerende hoof, het ook in antwoord op ’n vraag gesê Naspers bly verbind tot Suid-Afrika. Die maatskappy het in Oktober verlede jaar op pres. Cyril Ramaphosa se beleggingsberaad belowe die groep sal R3,4 miljard oor die volgende drie jaar in bestaande ondernemings belê. Daarby is Naspers Foundry ’n fonds van R1,4 miljard wat slegs in Suid-Afrikaanse tegnologiefirmas gaan belê. Sy eerste belegging, van R30 miljoen, is onlangs in SweepSouth gedoen en daar is ’n plan vir nog baie beleggings.

Naspers het onlangs ’n uitvoerende hoof vir Suid-Afrika aangestel. Phuthi Mahanyele-Dabengwa sal juis vir Naspers Foundry verantwoordelik wees. (Sy is nie verantwoordelik vir Media24, waarvan Ishmet Davidson die uitvoerende hoof is, nie.)

“Daar is groot talent in Suid-Afrika, mense wat goeie idees het en ontwikkel. Daarby is daar ’n enorme mark en slimfoonpenetrasie brei geweldig vinnig uit.”

Van Dijk sê hulle het ’n wêreldsiening van investering.

Mahanyele-Dabengwa sê daar is baie min kapitaal vir tegnologiefirmas in Suid-Afrika beskikbaar.

Sy sê SweepSouth betrek die mees verwaarloosde sektor in die land – dié van huiswerkers. Hulle sien ongelooflike potensiaal in die app vir mense wat eenmalig ’n huiswerker nodig het of wie se gereelde werknemer afwesig is.

Sy wou nie uitwei oor watter ander beleggings Foundry oorweeg nie.

Mahanyele-Dabengwa het later in ’n voorlegging gesê Naspers het ook R75 miljoen beskikbaar vir beleggings in klein en mediumgrootte ondernemings, ’n inisiatief van die CEO Initiative.

Nagenoeg 1 000 jong mense het al deur die vaardigheidsontwikkelingsprogram Naspers Lab werk gekry. Die program is tans in Kaapstad werksaam, maar gaan eersdaags na Johannesburg uitgebrei word.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Naspers  |  Koos Bekker  |  Bob Van Dijk  |  Maatskappye  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.