Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kopsere wink vir pilmakers ná goeie jare

Ná jare van stabiele en voorspelbare groei vir die plaaslike farmaseutiese bedryf, lê daar nou ’n tyd van groot veranderinge voor.

Ontwrigting wag op die farmaseutiese bedryf soos verbruikers asook tegnologie grootskaalse verandering ondergaan.

Erik Roos, uitvoerende hoof van die farmaseutiese maatskappy Pharma Dynamics, sê die landskap waarin farmaseutiese maatskappye bedrywig is, is besig om grootskaalse veranderinge te ondergaan.

Hy het veral twee groot veranderinge uitgelig wat die bedryf ontwrig.

1. Regerings en mediese skemas gaan groter druk op farmaseutiese maatskappye begin uitoefen om hul pryse te verlaag.

2. Die verskuiwing van reaktiewe na voorkomende gesondheidsorg.

Waarde vir geld

“Namate bevolkings groei, neem die vraag na gesondheidsorg toe en daarom kyk regerings en mediese skemas na die koste daarvan en vereis hulle groter deursigtigheid oor medisynepryse,” sê Roos.

Volgens hom wil mediese skemas, hospitale en pasiënte nie meer vir gesondheidsprodukte, dienste en prosedures betaal sonder waarborge nie. “Hulle wil hê sekere uitkomste moet bereik word.”

In Amerika het sekere farmaseutiese maatskappye “waarde-vir-geld”-kontrakte met mediese versekeraars onderteken wat verseker dat laasgenoemde ’n afslag of rabat ontvang as die pasiënt se simptome of gesondheidsrisiko’s nie tot ’n aanvaarbare vlak verminder het nie. Die omgekeerde geld indien die medisyne die uitkomste aansienlik verbeter.

Nuwe tegnologie

Roos verwys ook na tegnologiese vooruitgang wat die bedryf verander.

“Wetenskaplike vooruitgang het navorsers in staat gestel om ’n beter begrip van genetika te kry en oor die pasiënt se potensiaal om ’n siekte op te doen, asook op watter behandeling die pasiënt goed sal reageer.

“Dit beteken dat medisyne nou aangepas kan word vir spesifieke pasiënte eerder as om van dieselfde behandeling vir almal gebruik te maak soos in die verlede die geval was.”

Hy sê farmaseutiese maatskappye besef al hoe meer dit is belangrik om met tegnologiegroepe in vennootskap te tree om hulle op siektes toe te spits.

“In die komende jare sal ons meer gesondheidsmaatskappye sien wat toestelle, programmatuur en medisyne kombineer, wat dokters en navorsers se vermoë sal verbeter om pasiënte te behandel en hulle waar te neem om te bepaal hoe effektief die medisyne is.”

Voorkoming is beter as genesing

Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel is, soos elders in die wêreld, grootliks reaktief van aard omdat daar gewag word vir iemand om siek te word voordat behandeling verskaf word. Volgens Roos is daar die afgelope jare ’n verskuiwing gesien na voorkomende sorg. Hy meen egter Suid-Afrika se gesondheidstelsel is nog swak toegerus om siektes te voorkom.

Hy sê die enigste manier om chroniese siektes, wat weens mense se leefstyl ontstaan, effektief te bestuur, is om ’n aansporingsprogram in die openbare gesondheidsektor bekend te stel wat mense sal aanmoedig om beter na hul gesondheid om te sien.

Baie van die siektes is weens stres, swak eetgewoontes, geen oefening, rook en te veel drink.

“Om die aanvang van siektes soos hoë bloeddruk, hartsiektes en diabetes te bekamp is die heilige graal van ’n volhoubare gesondheidsorgstelsel,” sê hy.

Hy meen proaktiewe sorg moet insluit om met behulp van algoritmes te bepaal wie moontlik van die siektes kan ontwikkel, en dan voorkomend op te tree lank voordat die siektes manifesteer.

Nieoordraagbare siektes kos Suid-Afrika na raming R15 miljard per jaar en dit plaas ’n groot las op die gesondheidstelsel.

Slimmer verbruikers

Hy meen nog ’n neiging is dat pasiënte beter verbruikers word.

“Namate die koste toeneem, is pasiënte minder bereid om ondoeltreffendheid en vertragings te verdra, en hulle soek buite ’n dokter se spreekkamer ook na mediese advies.

“Baie mense soek op die internet en op apps na advies waar hulle enige tyd van die dag met geregistreerde dokters kan skakel.”

Hy meen toenemende mededinging in die gesondheidsorgsektor gaan onvermydelik wees en dit gaan uiteindelik meer mag aan die pasiënt gee.

Generiese medisyne

Die wiel het die afgelope tyd gedraai vir generiese medisyne in Suid-Afrika. Volgens Roos beloop die verkope van generiese medisyne wat oor die toonbank verkoop word, nou R1 miljard meer as handelsnaamprodukte wat nog op die patent van die oorspronklike ontwikkelaar is. Sowat 53 miljoen eenhede meer generiese produkte as handelsnaamprodukte word in Suid-Afrika verkoop.

Die generiese bedryf betree egter nou ’n era ná die groot produkbekendstellings van die afgelope jare waar daar minder geleenthede gaan wees om van eenvoudige handelsnaamprodukte generiese medisyne te maak.

Dit sal veroorsaak dat die farmaseutiese bedryf na meer gevorderde medisyne verskuif.

Nasionale Gesondheidsversekering

Nog groot veranderings wat hy voorspel. hou met die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) verband. Die wetsontwerp oor die NGV stel dit in die vooruitsig dat die regering namens pasiënte van die openbare en private sektor gesondheidsdienste kan aankoop. Roos meen dit gaan vereis dat die verskaffing van gesondheidsorg heeltemal moet verander.

Meer oor:  Mediese Fondse  |  Mediese Sorg  |  Pasiënte  |  Medisyne  |  Hospitaalgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.