Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Koronavirus knou fabrieke wêreldwyd

Hyundai is die eerste motorvervaardiger buite China wat produksie moes opskort weens die 2019-koronavirus (2019-nCoV).

Hyundai moes vandeesweek in sy tuisland, Suid-Korea, produksie staak weens ’n tekort aan onderdele vanuit China.

Die spesifieke tekort is van ’n bedrading-komponent wat gewoonlik van ’n fabriek in China kom, maar wat toe is nadat ’n werker daar gediagnoseer is met die koronavirus.

Hyundai hoop om teen 11 of 12 Februarie produksie te kan hervat, het ’n woordvoerder van die Hyundai-vakbond gesê.

Hyundai se grootste aanleg in Suid-Korea is in Oelsan, en is ook die grootste geïntegreerde motorvervaardigingsaanleg ter wêreld. Dié aanleg vervaardig op sy eie sowat 1,6 miljoen voertuie per jaar, of meer as 4 300 per dag.

Die opskorting van produksie kom ook te midde van ’n tydperk waar Hyundai eintlik sy produksie wil versnel, veral vir sy nuwe reeks sportmodelle en ’n opgekikkerde ontwerp van sy gewilde Sonata-reeks.

Die getal bevestigde gevalle van mense wat die koronavirus opgedoen het, het van 17 384 tot 20 438 Dinsdag gestyg, terwyl minstens 151 gevalle in 23 ander lande, insluitend Amerika, Brittanje, Frankryk, Duitsland, Thailand, Japan en Hongkong, aangemeld is.

Hyundai word geraak deur die koronavirus omdat hy onderdele uit China invoer.

Die amptelike dodetal staan nou al op meer as 420 terwyl fabrieke en nywerhede landwyd in China begin om hul deure te sluit soos die virus versprei.

China is die wêreld se grootste vervaardiger van motors en motoronderdele.

“(Hyundai) is besig om verskillende maatreëls te hersien om die ontwrigting van sy bedrywighede te beperk, insluitend om alternatiewe verskaffers in ander streke te soek,” het Hyundai in ’n e-posverklaring gesê.

“Hyundai sal die verwikkelinge in China noukeurig dophou en alle nodige maatreëls tref om die vinnige normalisering van sy bedrywighede te verseker.”

Die uitbreking van die koronavirus sal na verwagting vanjaar ’n herstel in China se motormark beperk.

IHS Markit, wat vroeër ’n inkrimping van 10% in die produksie van die eerste kwartaal voorspel het, sien nou ’n scenario waarin die koronavirus vinnig oor China versprei en ’n golf van sluitings van aanlegte tot gevolg het wat tot middel-Maart kan duur en produksie met meer as 1,7 miljoen motors verminder. Dit sal dan die verwagte inkrimping tot 32% opstoot.

Hoewel konkrete beramings oor die finansiële koste van die uitbreking van die koronavirus steeds skaars is, is dit duidelik dat die finale koste baie groter gaan wees as die 2003-Ears-epidemie, toe China se motormark net ’n sesde van die grootte was wat hy vandag is.

Maatskappye soos Tesla, Volkswagen en Toyota het gewaarsku dat hulle ook ontwrigtings verwag.

– Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Hyundai  |  Suid-Korea  |  China  |  Koronavirus  |  Motorvervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.