Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Koronavirus knou SA firma ook

Die koronavirus (Covid19) is ’n golf wat rimpelinge deur die hele wêreldekonomie stuur – en niemand weet nog hoe groot die impak gaan wees of wanneer dit gaan eindig nie.

Bidcorp
Bidcorp sê toerisme word deur die koronavirus geknou en dit beïnvloed sy bedrywighede in die kos- en hotelbedryf. Foto: Bidcorp

Bernard Berson, uitvoerende hoof van die top-40-maatskappy Bidcorp, sê hulle beleef reeds die impak van die virus in veral China en Hongkong, maar ook in Australië, Maleisië en Singapoer.

Bidcorp se belangrikste filiaal is Bidfood, wat kos aan hoofsaaklik restaurante en hotelle wêreldwyd aflewer. Die onderneming is dus uiters afhanklik daarvan dat mense gaan uiteet en reis.

Berson sê Chinese toerisme na Australasië, Bidcorp se grootste mark, het nie net verlangsaam nie, dit het gestop.

Bernard Berson, Bid Corp

Aan die positiewe kant sê hy die virus gaan geleenthede vir verkrygings skep. Hulle hoor reeds van mededingers in China en Hongkong wat dalk nie gaan oorleef nie. In Hongkong volg die virus boonop op die ses maande lange, gewelddadige pro-demokrasie-betogings wat dié eiland se ekonomie lamgelê het.

Daarby gaan mense aan “kajuitkoors” ly as die vrese oor die virus uiteindelik bedaar en sal restaurante se verkope – en dus Bidcorp se syfers – optel.

Berson sê die koronavirus is maar die laaste in ’n hele rits internasionale probleme wat die groep se syfers in die ses maande tot einde Desember, die eerste helfte van die groep se boekjaar, getref het. Dit sluit in onsekerheid onder Britse verbruikers weens Brexit, die veldbrande in Australië, betogings in Chili en die swak ekonomie in verskeie lande, insluitende Suid-Afrika.

Hy beskryf dit egter as “korttermyn-blieps” en sê Bidcorp is goed geplaas om voordeel te trek soos probleme uitgesorteer word.

In syfers

Bidcorp se resultate uit voortgesette bedrywighede vir die halfjaar tot einde Desember 2019 vergeleke met dieselfde ses maande in 2018:

  • Wesensverdienste per aandeel styg met 4% tot 728,3c
  • Basiese verdienste styg met 3,8% tot 725,4c
  • Netto inkomste styg met 3,2% tot R68,2 miljard
  • Handelswins styg met 9,2% tot R3,6 miljard
  • Bruto winsgrens styg met 0,3 van ’n persentasiepunt tot 23,8%
  • ’n Tussentydse dividend van 331c per aandeel is verklaar

Berson beskryf die resultate as “veerkragtig” te midde van die onstuimige omgewing. Baie van Bidcorp se ondernemings kan as “volwasse” ondernemings beskryf word, wat beteken hulle groei nie meer so vinnig nie.

Berson sê die “algehele prentjie is een van bestendige groei deur ’n veerkragtige, goed bestuurde onderneming”. “Ons is vervelig; vervelig is goed,” het hy op ’n aanbieding aan beleggers in Kaapstad gesê.

Daar was enkele “eie doele” en probleemgebiede, insluitende probleme met die onderneming Bidfresh in Brittanje en verliese wat in Spanje en Duitsland gely is. Nuwe bestuurspanne en ander remediërende stappe is reeds in dié lande ingestel.

Bidcorp het nagenoeg 27 000 werknemers wêreldwyd. In Suid-Afrika is die grootste onderneming Bidfood, gevolg deur Crown Food Group, wat bestanddele aan die vleisbedryf en speserye verskaf.

Die groep se aandeelprys het in ’n stadium met 1,22% gedaal, maar was teen middagete net 0,34% laer vir die dag op R312,90. Dit kom egter ná ’n daling van 0,9% Dinsdag, toe die groep sy handelsverklaring uitgereik het.

Bidcorp is in 2016 uit Bidvest ontknoop.

    Meer oor:  Bidcorp  |  Kosvervaardigers  |  Kos  |  Voedsel  |  Logistiek
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.