Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kos verkoop flink, maar PnP se wins erg geknou

Die verkope van kos en kruideniersware by Pick n Pay het die afgelope ses maande met byna 10% gestyg, maar die groep se wins is afgerem weens die perke op die verkope van drank, sigarette en klere.

Kosverkope het Pick n Pay die afgelope ses maande gehelp, maar sy wins is laer.

Pick n Pay se halfjaar het op 2 Maart begin en byna die hele tydperk was dus in die “ongeëwenaarde toestande van Covid-19”, met die ramptoestand wat op 15 Maart afgekondig is en die inperking wat op 27 Maart begin het.

Die maatskappy sê in ’n handelsverklaring hy het in dié tyd twee doelwitte nagestreef: om kos aan Suid-Afrikaners te verskaf op ’n veilige en betroubare manier, en om te vorder met die langtermynplan om ’n “soepeler, ratser en moderner onderneming, ingestel op die behoeftes van ons klante”, te bou.

“Hoewel die groep se verkope en verdienste negatief geraak is deur die pandemie en die maatreëls wat die regering ingestel het om dit in toom te hou, is ons trots op ons prestasie met albei doelwitte in ’n uitdagende tyd.”

Pick n Pay en sy klante het meer as R80 miljoen ingevorder vir die verligting van honger, waardeur 20 miljoen maaltye aan kwesbare gesinne verskaf is.

Só lyk verkope

Die groep se verkope is geraak deur die verbod op drank- en sigaretverkope vir lang tye tydens die inperking, asook deur ’n laer vraag na onder meer klere en huisware.

Die groep se omset was 2,6% hoër as ’n jaar gelede. Vergelykbare verkope – dus in winkels wat ook in dieselfde halfjaar van 2019 oop was – het met net 1% gestyg.

In Suid-Afrika het Pick n Pay se omset met 3,4% gestyg, waarvan vergelykbare verkope net mooi die helfte, 1,7%, verteenwoordig het.

Wins

Die groep se wesensverdienste per aandeel gaan met tot 60% laer wees as verlede jaar en sy verdienste per aandeel met tot 65%.

Pick n Pay reik sy halfjaarresultate op 20 Oktober uit.

Pryse in Pick n Pay het in die jaar met gemiddeld 3,4% gestyg, teenoor die nasionale kosprysinflasie van 4,3%, soos gemeet deur Statistieke Suid-Afrika.

Verkope van kernprodukte – kos, kruideniersware en algemene handelsware – het met 8,7% gestyg (vergelykbaar 6,4%). Net in Suid-Afrika het dit met 9,9% gegroei (vergelykbaar 7,6%). Dié produkte sluit drank, tabak en klere uit.

In volume het die kernprodukte se verkope met 4,2% gestyg.

Drank- en tabakverkope het altesame met 47,5% geval.

Drankverkope was vir 15 uit die 26 weke verbied en is nou nog onderhewig aan perke op handelsdae en -ure. Tabakverkope was meer as 20 weke lank – van 27 Maart tot 17 Augustus – verbode.

Klereverkope, wat in die eerste vyf weke van die inperking verbied was en toe ’n maand lank net winterklere kon insluit, het met 4,2% gedaal.

Die probleem vir kleinhandelaars is dat drank, sigarette en klere juis die produkte is met ’n hoër winsgrens as kos en kruideniersware.

Bykomende koste

Die groep het R150 miljoen se bykomende koste gehad wat met die Covid-19-krisis verband hou. Dit sluit in R80 miljoen se ontsmettingsmiddels en maskers, bonusse van altesame R50 miljoen om waardering te wys aan 50 000 werknemers wat ondanks die risiko’s onder moeilike omstandighede aangehou werk het, en bykomende veiligheids- en kommunikasie-uitgawes.

Pick n Pay het ook sy boekjaar met ’n proses van vrywillige skeidingspakkette begin. R100 miljoen is daarvoor uitbetaal.

Die groep sê dié koste sal aansienlike besparings in die tweede boekjaar meebring.

Die groep het in Januarie gesê hy wil binne twee jaar R1 miljard bespaar.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Vlak 1  |  Inperking  |  Covid-19  |  Kleinhandelaars  |  Staat Van Inperking  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Kospryse  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.