Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kospakkies, sente al wat Denel se mense nou kry

Geen hofsaak is aangehoor om Denel te dwing om ná meer as twee maande salarisse te betaal nie, want beslaglegging op sy bates sou die enigste uitweg gewees het.

Denel se kantoor in Pretoria. Foto: Reuters

Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, sê Vrydag dit sou wees soos om hul “eie vensters stukkend te gooi” as hulle beslag gelê het op die wapentuigvervaardiger se bates.

Denel skuld sy meer as 3 000 werknemers al twee maande se salarisse.

Sy salarisrekening beloop sowat R150 miljoen per maand en nog net enkele klein betalings van ’n paar honderd tot ’n paar duisend rand is sedert April al aan werknemers gemaak.

Solidariteit sou op 30 Junie saam met die vakbond Uasa ’n dringende saak in die arbeidshof in Johannesburg teen Denel gebring het om hom te dwing om salarisse te betaal.

Maar volgens Botha het Denel se regspan ter elfder ure hulle gekontak en gepleit dat daar geen punt is om ’n regstryd te begin nie.

“Hulle het vir ons doodeenvoudig gesê daar is nie geld nie en ’n regstryd sou niks meebring nie,” sê Botha.

Ons lede is daai tipe lojale mense wat steeds werk toe gaan ten spyte daarvan dat hulle nie betaal word nie.
Johan Botha van Solidariteit

“Dis nie dat ons nie wil betaal nie, ons kán nie betaal nie,” het Denel aan Solidariteit gesê.

Volgens Botha sou dit dus beteken het ’n hofsaak sou die staatsonderneming lamgelê het, want as daar op sowat R300 miljoen se bates beslag gelê moes word, sou daar niks oorgebly het van die onderneming nie en werkers sou nêrens gehad het om na terug te keer nie.

Solidariteit, wat byna 900 werkers by Denel verteenwoordig, het saam met Uasa ingestem tot Denel se versoek vir ’n fasiliteringsproses deur middel van die departement van openbare ondernemings.

Hierdie proses is nog aan die gang en sal tot 14 Julie duur.

Intussen werk Solidariteit se lede steeds, maar word nie betaal nie.

“Dis ’n uiters benarde situasie,” sê Botha.

Solidariteit het begin om kospakkies uit te deel aan sy lede wat by Denel werk, net om hulle aan die lewe te probeer hou.

Volgens die vakbond is talle nou al so platsak dat hulle by vriende moes gaan woon om naby aan die werk te wees, omdat hulle nie meer kan bekostig om petrol te koop om by die werk te kom van hul eie huise af nie.

Danie du Toit, uitvoerende groephoof van Denel. Foto: LinkedIn

“Ons lede is daai tipe lojale mense wat steeds werk toe gaan ten spyte daarvan dat hulle nie betaal word nie.”

Solidariteit sê die punt is om die onderneming te probeer red sodat sy lede nog werk het wanneer die kontantvloeikrisis as gevolg van die inperking en pandemie eers opgeklaar word.

“Projekte bly aan die gang en om dit nou te staak sou drastiese gevolge hê vir Denel.”

Botha verduidelik dat wapentuigvervaardigers werk kry as gevolg van hul reputasie. As daar ’n staking moes wees of iets ernstiger, sou klante doodeenvoudig iemand anders kies om hul wapens te vervaardig.

Denel se klante in die Midde-Ooste het juis ná 2019 se gesloer met salarisse kontak gemaak met Danie du Toit, uitvoerende hoof, om te vra of dit produksie sou beïnvloed.

“Hierdie mense aanvaar nie verskonings nie,” sê Botha. “Hulle soek hul wapens, en hulle soek dit betyds."

Geen regeringshulp

Intussen sê ’n onberispelike bron wat naamloos wil bly die probleem is eintlik dat die departement van openbare ondernemings nie Denel bystaan nie. “Daar is baie griewe oor die manier waarop die regering vir Denel hanteer.”

Denel, die enigste staatsonderneming wat gekies het om self te begin privatiseer en op groot skaal mense af te lê as deel van ’n omkeerplan wat al sedert 2019 op die been gebring is, het verlede jaar net R1,8 miljard van die reddingsboei van R2,8 miljard ontvang waarvoor hy aansoek gedoen het.

Denel het aangevoer dié betreklike klein bedrag vergeleke met ander staatsondernemings se versoeke, was die kleinste bedrag wat hy sou nodig hê om sy kontantvloeikrisis op te klaar.

Geen ondersteuning is verder deur die regering aangebied nie.

Volgens die bron is daar baie wrywing tussen die direksie, bestuur en die regering, met min ondersteuning vir die regrukplan wat op die oog af baie sin maak.

Intussen word daar van werknemers verwag om geduldig te wees.

“Dis maklik om te sê ‘buig agteroor’, maar ons is reeds op ons knieë,” sê Botha.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.