Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
KPMG-vennoot ‘leef lekker danksy VBS’

Die KPMG-vennoot wat na bewering VBS Mutual Bank se boeke help kook het, het glo benewens miljoene rande kontant basies ’n Range Rover Evoque, Land Rover Discovery, Mercedes-Benz en verskeie paaiemente op ’n huis van meer as R7 miljoen in Fourways, Johannesburg, “verniet” by die bank of by die bank se aandeelhouers gekry.

Volgens adv. Terry Motau se forensiese verslag oor die plundery by die bank het Nhlanhla Kelvin Sipho Malaba nagenoeg R34 miljoen se kontantbetalings van VBS ontvang. Malaba was KPMG se hoofouditeur vir VBS.

Dit sluit nie die lenings vir minstens drie voertuie en die huis in nie, en ook nie oortrokke geriewe wat aan hom toegestaan – en wat hy ruim benut het – nie.

KPMG se kantore in Londen, Brittanje. Die Suid-Afrikaanse filiaal loop deur onder verskeie skandale. Foto: Bloomberg

Toe VBS in Maart onder kuratele geplaas is, het Malaba en sy gesin nagenoeg R21,2 miljoen in oortrokke rekeninge geskuld, lui die verslag.

Motau sê Malaba se leefstyl was ver bo die vermoë van sy salaris, wat tussen R120 000 en R130 000 per maand beloop het. Net die rente op al sy skuld beloop R290 000 per maand.

Die debietorders vir die voertuie is byna almal teruggeskryf en VBS het nooit stappe vir invordering gedoen nie. Spesiale voorwaardes wat eintlik net vir VBS-personeel en -aandeelhouers bedoel is, is boonop aan hom toegestaan.

Malaba het aan Motau beweer hy weet glad nie waarom VBS nié stappe gedoen het vir die invordering van die skuld nie.

Vir die Malaba-woonhuis van R7 322 484,30, wat in 2016 gekoop is, is twee paaiemente betaal en ’n eenmalige betaling van R341 000 gedoen. VBS het nie veel gedoen om die skuld in te vorder nie. Die rekening is later op datum gebring toe ’n entiteit genaamd Khavho Enterprises R250 000 inbetaal het.

Malaba sê hy weet glad nie wie Khavho is nie en hy het nie eens die betaling agtergekom nie. “Ek vind dit hoogs onwaarskynlik,” skryf Motau.

Motau sê Khavho en ander entiteite wat geld aan Malaba se ondernemings betaal het, is deur Vele Investments, VBS se grootste aandeelhouer, ingespan om geld by die bank te plunder.

Hoewel die geld nooit regstreeks in Malaba se eie bankrekening inbetaal is nie, is sy kontakbesonderhede deurgaans gebruik vir die leningsaansoeke.

Ihaawu Lesizwe, ’n maatskappy van sy vrou, Jacqueline, is gebruik om verskeie motors, ’n huis en ’n oortrekkingsgerief te finansier, en Betanologix was ’n maatskappy waarvan Dumi Tshuma se vrou (naam onbekend) en Jacqueline Malaba die direkteure was. Dit het ’n oortrokke gerief gehad.

Tshuma was Malaba se kollega by KPMG. Albei het in Maart by KPMG bedank toe die VBS-bom bars.

Malaba het onder druk aan Motau toegegee dat die geld wat geleen is, eintlik vir hom bedoel was.

Al Malaba se besteding was darem nie aan luukses nie – hy het ook byna R1,5 miljoen vir MBA-studies aan Oxford-universiteit betaal . . .

KPMG het Donderdag in ’n verklaring gesê hy sal die verslag oor VBS Mutual Bank bestudeer “om te kyk of daar meer is wat ons kan doen”.

Die lenings aan Malaba, ’n geoktrooieerde rekenmeester, is nie aan KPMG verklaar nie en kom neer op ’n belangebotsing.

Hy het vir die bank ’n ongekwalifiseerde oudit gegee vir sy 2017-jaarstate “selfs al het hy geweet die state is verkeerd”, luidens die verslag. Hy het glo ook vir die Reserwebank gejok daaroor.

Luidens die verslag het Malaba talle ouditklerke se kommer oor verlore kontant afgemaak as onnodig. Die klerke het agtergekom dat nagenoeg R700 miljoen kontant nie opgespoor kan word nie.

Wiseman Nkuhlu, voorsitter van KPMG se direksie, sê hulle kan “geen gedrag duld wat die gehalte en integriteit van ons werk kompromitteer nie”.

“Ek is vol vertroue dat die omvattende remediërende veranderinge wat die firma reeds ingestel het, ons in staat sal stel om openbare en kliëntevertroue in KPMG te herbou, wat ons sal help om die sakesektor en gemeenskap van Suid-Afrika te dien.”

KPMG bloei kliënte sedert hy nie net met die VBS-skandaal nie, maar ook met staatskaping en die verrotting by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verbind is.

KPMG het in Maart ’n ondersoek oor sy werk by VBS laat doen deur die regsfirma Bowmans. KPMG het nog nie vrae oor die vordering met dié ondersoek beantwoord nie.

Malaba was ses jaar lank die hoofouditeur van KPMG by VBS.

Meer oor:  Vbs Mutual Bank  |  Terry Motau  |  Bedrog  |  Banke  |  Korrupsie  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.