Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
KPMG wen weer kliënte terug

Die ouditmaatskappy KPMG het ’n verslag uitgereik om te wys hoe hy die afgelope 18 maande gevorder het om sy reputasie te herstel en korporatiewe bestuur te verbeter.

kpmg
Prof. Wiseman Nkuhlu

Dit kom nadat KPMG betrek is by ’n paar omstrede transaksies wat verband hou met staatskaping en die omstrede Gupta-familie.

KPMG was die ouditeurs van die Gupta-beheerde maatskappy Linkway Trading deur wie staatsgeld beweeg het van die Vrede-melkery in die Vrystaat via ’n bankrekening in die Midde-Ooste om vir die Guptas se familietroue in Sun City te betaal. KPMG was die opsteller van die verslag in opdrag van Tom Moyane, afgedankte kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), oor die geheime ondersoekeenheid by die SAID. KPMG was die ouditeur van VBS Mutual Bank, die onderlinge bank waar grootskaalse bedrog van meer as R1 miljard gepleeg is deur van die direkteure en waar ’n hele paar munisipaliteite geld belê het. Die Reserwebank het verlede jaar ingegryp en die bank in kuratele geplaas.

Sy pogings om sy reputasie te herstel werp reeds vrugte af, het KPMG gesê, want hy is weer toegelaat tot die sakeorganisasie Sakeleierskap Suid-Afrika, talle bestaande kliënte wat bande met KPMG gebreek het, het hom heraangestel, en die groep het nuwe kliënte gewerf.

kpmg
KPMG se kantore in Johannesburg.

Prof. Wiseman Nkuhlu, voorsitter van KPMG in Suid-Afrika, het by die bekendstelling van die verslag gesê KPMG is vandag ’n ander firma as wat hy was. “Verreikende veranderings is aangebring in korporatiewe bestuur, leierskap, risikobestuur, kliëntbetrokkenheid en oudit-gehaltebeheer.”

Van die veranderings sluit in:

  • Die aanstel van ’n nuwe uitvoerende hoof, Ignatius Sehoole, wat in Mei begin, nuwe onafhanklike nie-uitvoerende direkteure en beter direksietoesig oor gehalte en risiko.
  • Die herevaluering van die kliëntportefeulje, en die beëindiging van verhoudinge wat nie ooreenstem met KPMG se sakemodel en risikoberamingskriteria nie. Strenger prosedures word ingestel wanneer nuwe kliënte oorweeg word.
  • ’n Komitee vir openbare belang en etiek is vroeg in 2018 gestig om seker te maak etiek en die openbare belang bly boaan KPMG se agenda. Dié komitee word deur ’n onafhanklike persoon gelei en Ansie Ramalho het dié rol aanvaar.
  • Die tariewe van R47,8 miljoen wat KPMG verdien het uit werk vir Gupta-verwante maatskappye word geskenk aan onderwys- en teenkorrupsie-inisiatiewe en organisasies.
  • Die R23 miljoen wat KPMG verdien het uit die opstel van die omstrede verslag oor die “onwettige” geheime ondersoekeenheid by die SAID in opdrag van Moyane is reeds aan die SAID terugbetaal.
  • ’n Ouditgehalte-plan word in werking gestel om ouditgehalte te verbeter.
Meer oor:  Vbs  |  Kpmg  |  Guptas  |  Staatskaping  |  Ouditfirma  |  Oudit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.