Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Krisis by Durban-hawe: Tekort aan polonie dreig!

Suid-Afrikaners hoef nie meer bekommerd te wees oor die beskikbaarheid van vars hoender op die winkelrakke nie.

Polonie kan dalk skaars raak indien die opeenhoping van vraghouers by Durban se hawe nie binnekort aangespreek word nie.

Produkte soos Weense worsies en polonie, waarvoor ingevoerde verwerkte hoenderprodukte benodig word, gaan wel dalk in sommige dele van die land skaars raak.

Die logistieke probleme om meer as 20 000 ton ingevoerde hoender vanaf Durban se hawe te versprei het Donderdag nóg ’n knou gekry.

Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) het Dinsdag gewaarsku dat ingevoerde hoenderprodukte op vragskepe nie in die hawe afgelaai of verder vervoer kan word nie.

Daarna het kuberkrakers op Transnet toegeslaan en sy nasionale IT-stelsel só verlam dat sy hawe- en treinstelsels “met die hand” bedryf word, volgens ’n skrywe wat Transnet aan sy kliënte gestuur het.

Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, sê die kuberaanval vererger die stand van sake nou drasties en dinge lyk nie goed nie.

Hy sê toegang tot die hawe is beperk en daar is geen manier waarop hy dit kan besoek om vas te stel hoeveel vraghouers van die skepe afgelaai word nie.

Volgens hom is daar 149 000 vraghouers met verkoelingsgeriewe wat tans in Durban se hawe wag om vervoer te word. Dit is ongeveer 20 000 ton vleisprodukte wat wag om verwerk te word.

“Ons het ’n hengse opeenhoping van verkoelde vraghouers en die probleem gaan tot by die verbruiker strek as die regering nie vinnig ’n plan maak nie,” waarsku hy.

Wanneer die verkoelde vraghouers van vragskepe afgelaai word, moet dit eers na verkoelde pakkamers gestuur word waar die produkte getoets word voordat dit verder na kosvervaardigers versprei word.

Die hele proses is nou in gedrang en het volgens Matthew weer omtrent tot stilstand gekom.

“Ons het ruimte vir 40 000 palette in Durban verloor weens die onluste, maar kon ruimte vir 35 000 palette in Johannesburg kry. Die probleem is dat ons die houers nie uit die hawe kan kry om dit te vervoer nie.”

Matthew sê die gevaar is dus nie dat die gevriesde hoenderprodukte kan vrot word nie, maar dat vervaardigers wat dit gebruik om byvoorbeeld polonie te maak binnekort uit roumateriaal gaan raak.

Hy vrees verder dat ’n massiewe opeenhoping van vrag gaan volg omdat nog voorraad op vragskepe met Durban as hul eindbestemming reeds ter see is.

“Ons kan nie net die vragskepe herlei na ander hawens nie. Sodra ’n vrag die land van uitvoer se hawe verlaat, is dit onmoontlik en vragte sal slegs herlei kan word as die regering ingryp.”

Hy sê gebeur selfs dít, gaan al hul probleme nie op ’n einde wees nie, want Kaapstad en Gqeberha se hawens het self beperkte bergingsgeriewe.

Hy benadruk die opeenhoping van verkoelde vraghouers raak ook die uitvoerbedryf, wat dit weer inspan om vrugte en ander produkte uit te voer.

“Ons kan nie die vraghouers aflaai nie, dus kan die uitvoerders dit nie gebruik nie. Die opeenhoping het ’n groot uitkringeffek en ons raak besorg oor voedselsekerheid.”

Veral sitrusboere is nou besig met uitvoer.

Matthew sê dit is nou regtig tyd dat die regering inspring en met effektiewe oplossings vorendag kom om die vloei van die vrag uit Durban se hawe te versnel.

“Ons het nog geen terugvoering vanaf die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ontvang nie.”

Verskaffing van plaaslike hoender en rys weer op dreef

Intussen het Astral Foods Vrydag aan Netwerk24 bevestig dat die onluste en plundering sy bedrywighede en plase in KwaZulu-Natal sowat R16 miljoen se skade berokken het.

Sy vervaardigingsaanleg, Mountain Valley in Camperdown in KwaZulu-Natal, wat verlede week gestroop en geplunder is, is weer volstoom aan die gang, hoewel dit twee weke gaan neem om die verliese op te maak.

Plunderaars het van Astral Foods se plase ingeval, hoenders gesteel, geboue en toerusting vernietig en een van die plaasbestuurders se huise afgebrand.

Van Mountain Valley se voorraad wat ten tyde van die onluste in ’n derde party se pakkamer in Hammarsdale gestoor was, is ook vernietig.

Gary Arnold, besturende direkteur van Astral se landbou-afdeling, sê hulle kon sedert die N3 verlede week oopgemaak het, die aflewerings aan hul kliënte hervat.

“Ons het ook direkte aflewerings aan sekere winkels gemaak omdat heelparty verspreidingsentrums in KwaZulu-Natal gesluit was,” sê Arnold.

Astral Foods se bedrywighede in Gauteng was teen einde verlede week weer volstoom aan die gang.

Tiger Brands het ook Vrydag laat weet dat hy genoeg rys het om aan Suid-Afrikaners te voorsien. Dit is net sekere sjokoladeprodukte waarvan daar dalk nog tekorte sal wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.