Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kuberaanval op Transnet dalk uit SA beplan

Die kuberaanval op Transnet se rekenaarstelsel wat die land se hawens die afgelope week verlam het, is ’n daad van kuberoorlogvoering, sê ’n kenner van dié verskynsel.

’n Lugfoto van die Kaapstadse hawe. Die oplaai en aflaai van vraghouers is vertraag en die hawe het ’n week se bedrywighede verloor weens die kuberaanval op Transnet.

Noëlle van der Waag-Cowling van die Sekerheidsinstituut vir Bestuur en Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) het op ’n webinaar van die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool oor die aanval gepraat.

Transnet se rekenaarstelsel is Donderdag 22 Julie om 13:00 binnegedring en personeel kon nie eens e-pos stuur nie.

Transnet het Vrydagmiddag gesê die force majeure wat op 22 Julie ingestel is, sal môre (Maandag) opgehef word.

Nathan-Ross Adams, ’n prokureur by Michalsons, het aan Rapport gesê ’n kuberaanval word internasionaal erken as iets waarvoor ’n maatskappy ’n force majeure kan verklaar.

“ ’n Force majeure kan verklaar word wanneer iets onvoorsiens gebeur en ’n maatskappy kan nie sy kontraktuele verpligtinge nakom nie.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversenders (Saaff) is die hantering van tot 170 000 vraghouers vertraag weens die onlangse onrus en die haweverlamming. Die opeenhoping in die hawens sal nog geruime tyd neem om te ontknoop, sê die woordvoerder, Rossouw Botha.

LEES OOK: Vrees neem toe dat kos op hawens sal bederf

Volgens Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, ondersoek sitrusuitvoerders die moontlikheid om hul vrugte eerder deur die Walvisbaai- of Maputo-hawe uit te voer as die gekweste Durban-hawe.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA), het Vrydag in sy nuusbrief gesê hulle vergader daagliks met Transnet en teen Donderdag was die IT-stelsel weer ten volle in bedryf.

Transnet se haweterminusse moes oorslaan na ’n handstelsel en hoewel vraghouers aan kliënte beskikbaar gestel kon word, moes die ingevoerde houers by gebrek aan die rekenaarstelsel te voet in die hawe opgespoor word voor die kliënt dit kon verwyder.

Teen Vrydagoggend was die meeste hawens weer aanlyn.

Tog het die Suid-Afrikaanse vleisverwerkersvereniging (Sampa) en die Suid-Afrikaanse vereniging van vleisinvoerders (Amie) gewaarsku die vernietiging van koelgeriewe tydens die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en probleme in die hawens kan lei tot tekorte aan vleis wat veral arm Suid-Afrikaners eet, soos polonie en hoender.

LEES OOK: Branderplanke raak min oor hawe-krisis

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede, het gesê die Kaapstad-hawe het meer as ’n week se werkverrigting verloor. Meer as 10 000 vraghouers (wat op skepe gelaai moes word) is vertraag en twee vragskepe het reeds by die hawe verbygevaar. Drie vragskepe wat reeds gelaai moes gewees het, wag nog vir vasmeerplek terwyl nog ses verder weg geanker lê.

Gyselaanval

Transnet het teen druktyd nie verklaar of die kuberaanval ’n gyselaanval was soos wat algemeen vermoed is nie.

Bloomberg het vroeër berig Transnet is bes moontlik aangeval met die sogenaamde Death Kitty-gyselware van kubermisdadigers in Oos-Europa en Rusland.

Adam Meyers, visepresident van CrowdStrike, ’n kuberveiligheidsgroep, het gesê die losprysnota wat die aanvallers vir Transnet gelos het, is glo baie soortgelyk aan gyselwareweergawes wat bekend staan as Death Kitty, Hello Kitty en Five Hands.

Transnet het nie die bewerings bevestig nie.

Ryan Mer, besturende direkteur van Eftsure Africa, sê die “mark” vir gyselaanvallers het in die pandemietyd aansienlik gegroei soos wat aanlyn bedrywighede toegeneem het.

Die groot verskil hier is dat ons van ’n sistemiese kuberaanval praat. Dit bring ’n sistemiese verlamming mee op nasionale of streeksvlak met die gepaardgaande uitkringeffek
Noëlle van der Waag-Cowling

Die omvang en kompleksiteit van die aanval op Transnet dui volgens Steven Ambrose, besturende direkteur van die databestuursgroep Atvance Intellect, op die werk van ’n internasionale groep wat in sulke aanvalle wêreldwyd spesialiseer.

Hy meen die goed gekoördineerde aanval was geoutomatiseer en voorbereidings daarvoor het lankal begin. Die onstabiliteit in KwaZulu-Natal “het moontlik die gaping gelaat” om die aanval uit te voer.

Organisasies moet volgens Ambrose deurlopend werk om hulself teen sulke aanvalle te beveilig en dit verg buitengewoon gespesialiseerde, kundige personeel. Sulke kundiges is wêreldwyd in aanvraag en die werksomgewing in Suid-Afrika se staatsondernemings lok hulle nie.

Willem Jacobs, bedryfshoof van die mynbougroep Barrick Gold Corporation vir Afrika en die Midde-Ooste, het beklemtoon dat weinig die afgelope twee dekades by Suid-Afrika se staatsondernemings gedoen is om stelsels te vernuwe. Daar is ’n gebrek aan voldoende beskerming teen kuberaanvalle en staatsondernemings het volgens hom baie kundigheid op dié gebied verloor.

Van der Waag-Cowling sê groepe wat sulke aanvalle uitvoer, tree dikwels namens ander state of derde partye op. Die moontlikheid dat die aanval van binne Suid-Afrika aangevoor is, is volgens haar nog nie uitgesluit nie.

Kenners meen dat Transnet gevra is om ’n losprys te betaal om sy IT-stelsel te bevry; Transnet het nie self bekend gemaak watter soort kuberaanval dit was nie. Foto: Unsplash

Sy sê die aanval is meer as net ’n kuberaanval op ’n onderneming, “want dit skaad die strategiese stabiliteit en veiligheid van mense. Dit is meer as net kubermisdaad.”

Hoewel gesondheidsorginstellings, City Power in Johannesburg en die Burgerlugvaartowerheid al deurgeloop het, is die aanval op Transnet volgens haar in ’n ander klas.

“Die groot verskil hier is dat ons van ’n sistemiese kuberaanval praat. Dit bring ’n sistemiese verlamming mee op nasionale of streeksvlak met die gepaardgaande uitkringeffek, byvoorbeeld onstabiliteit in die gemeenskap, ekonomiese skade en onsekerheid oor die beskikbaarheid van voedsel.”

In die Transnet-geval word dit vererger omdat die aanval op ’n massiewe, enkele kwesbare punt plaasgevind het, want Transnet het die monopolie oor houervragdienste in die hawens.

Gyselaanvalle het wêreldwyd toegeneem. Nadat van die VSA se staatsinstellings en infrastruktuur onlangs daardeur verlam is, het pres. Joe Biden gewaarsku dit kan tot ’n volskaalse oorlog lei.

Stephen Osler van Nclose sê dis onwaarskynlik dat die Transnet-gyselaanval polities gemotiveer is. “Hierdie soort aanvallers se hoofmotief is wins.”

Anna Collard, besturende direkteur by KnowBe4 Africa, sê die gyselaanvallers sien hulself deur en deur as ’n sakeonderneming. “Hulle verwys na hul slagoffers as ‘vennote’ en die losprys as ‘wins’. En groot, ingewikkelde maatskappye soos Transnet is vir hulle kroonwild.”

Volgens Sonja Carstens, woordvoerder van die United National Transport Union, die grootste vakbond binne Transnet, het Transnet se personeel regdeur verlede naweek gewerk sodat die 54 000 werknemers se salarisse Maandag in hul rekeninge was.

Carstens sê personeel het in die vlak 4-inperking tuis gewerk en elkeen se rekenaar sal nou eers deursoek moet word vir skadelike sagteware om te verseker dat die probleme heeltemal uitgeskakel is.

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Vragskepe  |  Infrastruktuur  |  Kuberkrakers  |  Logistiek  |  Vragvervoer  |  Transnet-Kuberaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.