Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kyk aan wie verkoop Markus Jooste sy spogplaas

Die spogplaas Jonkersdrift naby Stellenbosch waar Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die ineengestorte Steinhoff, vir amper 16 jaar ’n woning gehad het, het nuwe eienaars.

Jooste het in 2003 saam twee ander Steinhoff-direkteure ’n eiendom buite Stellenbosch gekoop wat hulle Jonkersdrift genoem het.

Seker die laaste foto waarop Johan van Zyl (heel regs agter) saam met Markus Jooste (voor regs) verskyn het. Dit was met die notering van Steinhoff Africa Retail (Star), wat nou Pepkor is. Van Zyl was toe ook ’n direkteur van Steinhoff. Foto: Skermgreep

Netwerk24 het van twee bronne, wat anoniem wil bly, verneem dat Johan van Zyl, wat ’n lid was van Steinhoff Internasionaal se toesighoudende direksie maar wat beter bekend is as die voormalige uitvoerende hoof en voorsitter van Sanlam en tans ’n uitvoerende hoof van African Rainbow Capital, nou een van die kopers is.

Die ander koper is Willem Roos, beter bekend as die stigter en voormalige uitvoerende hoof van Outsurance en tans tot begin Maart die uitvoerende hoof van die selfoonoperateur Rain, volgens die bronne.

Johan van Zyl, voormalige uitvoerende hoof van Sanlam en voormalige direkteur van Steinhoff.

Talle navrae is aan Van Zyl en Roos gestuur. Die eienaarskap is nie ontken nie maar hulle wou nie kommentaar lewer nie.

Hulle het by monde van hul woordvoerder, Ainsley Moos, reageer: “Buiten dr. Van Zyl en mnr. Roos se professionele lewens is hulle betrokke by beleggings in hul private lewens wat oor verskeie bateklasse heen strek. Hoewel hulle altyd beskikbaar is om kommentaar te lewer oor die maatskappye wat hulle in hul professionele lewe dien, lewer hulle nie kommentaar oor hul persoonlike sake nie.”

Van Zyl en Roos is wel die enigste direkteure van die onderneming Stoney Meadows Investments 11 wat nou drie van die vier plase besit wat Jooste-hulle voorheen deur ’n maatskappy gehou het.

Willem Roos, medestigter van OUTsurance.

Stoney Meadows se geregistreerde adres is Jonkersdrift.

Die plase is voorheen deur ’n maatskappy, Uhambo Properties Investments, besit waarvan Jooste ’n direkteur was tot met sy onverwagse bedanking einde 2017 toe Steinhoff in duie gestort het.

Frikkie Nel, wat lank die finansiële direkteur van die Suid-Afrikaanse Steinhoff International was, het voorheen gesê hy en Jooste, asook Danie van der Merwe het in 2003 die plase gekoop en dit Jonkersdrift gedoop. Dit was voorheen as Mount Happy bekend.

Van der Merwe het as uitvoerende hoof van Steinhoff gedien ná Jooste weg is en Nel was nog ’n geruime tyd daarna in diens van Steinhoff.

k

Hoewel die plaas vir veiligheidsdoeleindes net een ingang het, het die plase verskillende titelaktes.

Die bronne beweer Van Zyl besit nou Van der Merwe se plaas en Roos Jooste se plaas, maar nie een van hulle twee het dit bevestig of wou verduidelik hoe dinge nou inmekaar steek nie.

Die geskiedkundige plaas en plaashuis waar Van der Merwe gewoon het, is voorheen deur die bekende voorsitter van Sanlam, wyle Marinus Daling, besit. Hy is in 2002 oorlede.

Nel se plaas het in Uhambo agtergebly. Hy het ook nie op navrae reageer nie en het nie sy selfoon beantwoord nie.

Navrae is aan Jooste via sy prokureur Callie Albertyn gestuur, maar hy het ook nie reageer nie. Jooste reageer al sedert einde 2017 nie op medianavrae nie.

Twee van die wonings op Jonkersdrift. Foto: Adrian de Kock

Die drie plase is in 2003 teen R25,6 miljoen gekoop. Twee van die plase en ’n derde kleiner aanliggende plaas is in Februarie 2019 teen R150 miljoen aan Stoney Meadows verkoop.

Die aangehegde kaart toon die drie plase wat verkoop is as onderskeidelik A, B en C.

Die plaas waar Jooste gebly het, word as C aangedui. Dit was ’n plaas van 52,5 hektaar.

Van der Merwe het op die plaas gebly wat as A aangedui is. Die plaas wat as B aangedui is, is later aangekoop deur Uhambo.

Plaas 1441, wat as C aangedui word op die kaart. Dit is die gedeelte waarop Markus Jooste die afgelope jare gewoon het.
Die porsie 4 van Mount Happy wat agtergebly het in Uhambo Property Investments waarvan Frikkie Nel die enigste direkteur nou oor is. Nel se woning is op dié stuk grond.
Plaas 1440, wat as A aangedui word op die kaart. Dit is die gedeelte waarop die geskiedkundige plaashuis is waar wyle Marinus Daling van Sanlam gewoon het. Danie van der Merwe, wat waargeneem het as uitvoerende hoof ná Steinhoff se ineenstorting, het die afgelope jare daar gewoon.

Netwerk24 het in 2018 berig hoe Van der Merwe, wat toe vure moes doodslaan by Steinhoff in sy pos as waarnemende uitvoerende hoof, amper ’n klipgooi van Jooste gewoon het.

LEES OOK: Steinhoff brand wyl base knus langs Markus woon

Jooste, Van der Merwe en Nel het in 2003 direkteure van Uhambo geword nadat die eiendom bekom is.

Nadat Jooste in Desember 2017 by Steinhoff weg is, het hy ook as direkteur van Uhambo bedank en sy skoonseun Stefan Potgieter is as daarna as direkteur aangestel.

Die maatskappy se rekords toon Potgieter het in Mei 2019, dieselfde dag as Van der Merwe, bedank, sowat twee maande nadat die eiendom verkoop is.

Meer oor:  Steinhoff  |  African Rainbow Capital  |  Johan Van Zyl  |  Markus Jooste  |  Plase  |  Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.