Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
KYK: Kaap staan tou vir 1ste Krispy Kreme-oliebol
10-09-2019 NETWERK24 NUUS Krispy Creme open in die
Die Krispy Kreme in die Waterfront is ook ’n bakkery en Kapenaars sal dus hier oliebolle uit die oond uit kan kry. Foto: Jaco Marais

Die eerste Krispy Kreme in die Wes-Kaap, ’n vlagskipwinkel in die V&A Waterfront, het vandag geopen, vyf jaar nadat Gautengers hul tande in ’n “oorspronklike geglasuurde oliebol” kon slaan.

Kapenaars in hul honderde het die maatskappy se uitnodiging aangegryp om oornag voor die deure te kampeer vir die opening om 07:00, met gelukspryse van gratis oliebolle as aansporing.

Die Waterfront-winkel is ook ’n bakkery, wat beteken dit gaan mettertyd die ander takke in die Wes-Kaap van oliebolle voorsien. Kapenaars sal dus ook in dié tak oliebolle letterlik warm uit die oond kan geniet.

10-09-2019 NETWERK24 NUUS Krispy Creme open in die
Honderde Kapenaars het oornag tou gestaan vir die groot opening van die Krispy Creme by die V&A Waterfront in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Volgens Gerry Thomas, besturende direkteur van Krispy Kreme in Suid-Afrika, gaan Krispy Kreme-oliebolle in die Wes-Kaap uiteindelik ook in Pick n Pay-winkels en Engen-vulstasies verskaf word.

Krispy Kreme is een van verskeie Amerikaanse handelsname wat die afgelope jare deur plaaslike maatskappye, met gemengde resultate, ingevoer is.

Taste Holdings het die meesterlisensie vir Starbucks en Domino’s Pizza bekom, maar die koste van dié handelsname het Taste diep in die rooi gestuur.

Taste het die opening van nuwe Starbucks-takke opgeskort totdat sake verbeter en het vir eers net 12 takke, almal in die noorde van die land. Kapenaars kon nog nie op eie bodem dié Amerikaanse koffies proe nie.

10-09-2019 NETWERK24 NUUS Krispy Creme open in die
Krispy Kreme gaan ook aan Pick n Pay en Engen oliebolle verskaf. Foto: Jaco Marais

Grand Parade Investments (GPI) het probeer voortbou op sy sukses met Burger King deur Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins se meesterlisensie te koop, maar het in Februarie vanjaar dié winkels gelikwideer omdat dit geld gebloei het. Dit was minder as twee en ’n half jaar sedert die eerste Dunkin’-tak in Oktober 2016 geopen is.

Een van die redes vir Dunkin’ en Baskin se mislukking was die geweldige streng vereistes van die moedermaatskappy van Dunkin’ en Baskin-Robbins, maar ook twyfelagtige bestuursbesluite met die bekendstelling daarvan.

Baskin-Robbins is gedwing om 34 geure roomys op ’n keer aan te hou, insluitend geure wat uiteindelik in die asdrom beland het, soos groentee.

GPI het ook lank bevrore oliebolle al die pad van Spanje af vir Dunkin’ ingevlieg totdat hy eers veel later ’n bakkery op dreef gekry het.

Die Dunkin’-drama het uiteindelik tot groot skuiwe op GPI se direksie gelei, met onder andere Hassen Adams wat sy rol as uitvoerende direkteur prysgegee het.

Krispy Kreme Suid-Afrika het ook nie aan al sy mikpunte vir die eerste vyf jaar voldoen nie, maar groei bestendig.

10-09-2019 NETWERK24 NUUS Krispy Creme open in die
Vars gebak en genoeg om jou mond te laat water, maar die groot vraag is of genoeg Kapenaars hier sal kom aanklop. Foto: Jaco Marais

Die meesterlisensie word besit deur KK Dougnuts, ’n gesamentlike onderneming tussen Fournews, wat ook onder meer News Cafe, Moyo en Illy, en John & Gerry’s Brands besit.

Met die aankondiging begin 2015 dat Krispy Kreme Suid-Afrika toe kom, is die mikpunt van 31 takke binne vyf jaar gestel. Die Kaapse tak is slegs die 17de Krispy Kreme in die land.

Die eerste Krispy Kreme het op 25 November 2015 in The Zone in Rosebank, Johannesburg oopgemaak en die ander takke in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Volgens Thomas het Krispy Kreme nou 450 werknemers, baie na aan die mikpunt van 500 binne vyf jaar wat in 2015 gestel is.

Krispy Kreme het wel in Suid-Afrika groter vryheid om produkte te ontwikkel en van die Amerikaanse voorskrifte af te wyk. ’n Melktert- en Bar One-oliebol is spesiaal vir Suid-Afrika ontwikkel en koffie van bone uit Afrika word plaaslik gemeng.

Krispy Kreme bestaan al sedert 1937 en is in 24 lande oor die wêreld.

Meer oor:  Krispy Kremeq  |  Starbucks  |  Taste Holdings  |  Gerry Thomas  |  Oliebolle  |  Koffiewinkels  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.