Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
KYK: Steinhoff bring reuse-eis teen verdagte groep

Die Steinhoff-groep gaan nog siviele eise bring teen “ander individue” wat by die ongerymdhede met sy boeke betrokke was.

Dis benewens die eis wat onlangs teen Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, gebring is om salarisse en bonusse terug te betaal.

Louis du Preez, wat van einde Desember verlede jaar die uitvoerende hoof van Steinhoff is. Foto: Adrian de Kock

Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, het Dinsdag op die eerste voorlegging aan beleggers sedert die opspraakwekkende gebeure van Desember 2017 gesê ’n eis is in Oostenryk teen die maatskappy Top Global ingestel.

Die bedrag wat ter sprake is, hou met ’n leningseis van nagenoeg R5,1 miljard (300 miljoen) verband wat die maatskappy glo aan sy filiaal Steinhoff Europe skuld.

Volgens hom is Top Global verwant aan sekere van die individue wat in die parlement uitgewys is. Dit is met verwysing na die agt hoofverdagtes wat uit die forensiese ondersoek na sy boeke vorendag gekom het en wat vanjaar in die parlement deur Steinhoff geëien is.

Dit het ingesluit Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof.

Die eis is in die handelshof in Wene gebring.

Du Preez sê nog eise gaan teen ander derde partye en entiteite ingestel word.

Hy sê hy kry amper daagliks twee vrae: Wanneer die forensiese verslag oor die ongerymdhede met Steinhoff se boeke bekend gemaak gaan word, en wanneer Jooste gearresteer gaan word.

“Steinhoff glo dis deel van sy korporatiewe bestuur om stappe te doen teen diegene wat ons glo verantwoordelik was vir die dinge in die verlede en dat hulle op siviele en strafregtelike grondslag verantwoordelik gehou moet word.

“Oor die strafregtelike stappe wil ek dit duidelik stel dat die groep met die owerhede in Suid-Afrika saamwerk.”

Met alle litigasie is die ‘wanneer’ net so belangrik soos die ‘hoe’.
Louis du Preez van Steinhoff

Hy sê aan siviele kant het die groep reeds stappe gedoen en dit is nie die einde van die pad nie. “Verdere optrede sal kom. Maar met alle litigasie is die ‘wanneer’ net so belangrik soos die ‘hoe’. Dit is strategiese kwessies wat die litigasiekomitee (van die direksie) voortdurend bespreek.”

Of daar bewyse is dat die vorige bestuur of derde partye hulself verryk het, sê hy hy glo die reguleerders sal “aankondigings daaroor maak en stappe doen as hulle gereed is”.

Volgens Du Preez het Steinhoff reeds in dié verband die siviele regsgeding teen Jooste en La Grange gebring om die bonusse en salarisse wat hulle die afgelope dekade verdien het, terug te eis.

Die “spesifieke eise teen ander individue” wat oorweeg word, spruit uit verdere ondersoeke wat Steinhoff doen na die forensiese verslag oor die ongerymdhede met sy boeke wat van PwC gekry is.

Hy verduidelik hoekom Steinhoff besluit het om die verslag se inhoud vertroulik te hou. “Dit beskerm nie net die groep teen die wesenlike regsgedinge teen hom nie, maar gaan help met die regsgedinge wat die groep bring. Die inligting moet beskerm word sodat die groep dit in uitwaartse litigasie kan gebruik.”

Volgens hom is daar besef nadat die verslag ontvang is en die bevindings bekyk is, dat verdere werk nodig is en verdere ondersoeke vind nou plaas.

“Die doel daarvan is om moontlike verdere eise teen derde partye en entiteite te ondersoek,” sê Du Preez.

Steinhoff het Dinsdag die eerste keer sedert Desember 2017 se opspraakwekkende gebeure by die groep ’n aanbieding aan beleggers gehou. Die aanbieding is in Kaapstad gehou en tesame met die uitsending op die web het meer as 300 beleggers ingeluister. Van links is Heather Sonn, voorsitter, prof. Alex Watson, een van die nuwe nie-uitvoerende direkteure wat ná die gebeure aangestel is, Philip Dieperink, wat waarneem as finansiële hoof, en Theo de Klerk, bedryfshoof. Foto: Adrian de Kock
Meer oor:  Steinhoff  |  Ben La Grange  |  Markus Jooste  |  Louis Du Preez  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.