Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘La-di-da’-sentrums gooi hul arms oop vir Pep

Luukse winkelsentrums wat voorheen hul neuse vir ’n afslag-klerewinkel opgetrek het, is nou alte gretig om ’n Pep of Ackermans te hê om die kopers terug te lok.

Al hoe meer Ackermans-winkels wat net vroueklere verkoop, word geopen.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor, sê die afgelope ruk het geleenthede vir die groep beskikbaar geraak wat vroeër nie bestaan het nie. Daar is ’n “merkbare verandering in sentiment” onder die verhuurders.

Een voorbeeld is die Pep in die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad, wat in Oktober verlede jaar geopen is en binne maande een van die groep se grootste winkels geword het.

Dis ’n wen-wen-situasie vir winkelsentrums waarvan die aantal kopers nog nie tot die vlakke van voor die Covid-19-pandemie herstel het nie omdat baie mense steeds bang is om die virus op te doen.

Die pandemie het ook mense se behoeftes verander – daar is steeds ’n groter vraag na gemaklike drag as na kantoor- of uitgaanklere, terwyl die vraag na huishoudelike toestelle en elektronika ook nog baie hoog is by mense wat meer gereeld van die huis af werk.

Lourens meen ’n hibriede model sal voortduur waarin mense steeds van die huis af werk en dit afwissel deur kantoor toe te gaan. Dit beteken mense sal aanhou belê in hul leefruimte en sal aanhou om billike klere en tekkies te koop.

Aan die ander kant verkeer baie verbruikers onder groter druk weens afleggings as gevolg van die inperkings, wat veral Pepkor markaandeel laat wen het.

Volgens die konsultantefirma GfK het Tekkie Town byvoorbeeld 3,31 persentasiepunte se markaandeel gewen.

In die kategorie klere, skoene en huisware het die groep volgens die Retailers’ Liaison Committee 2,96 persentasiepunte se markaandeel gewen. Die groep het ook 4,22 persentasiepunte markaandeel vir selfone gewen, volgens GfK.

Pep het onlangs sy voorkoms en embleem effens verander.

Danksy dié tendense het die Pepkor-groep ’n skitterende halfjaar agter die rug, met groei van 8,1% in sy inkomste tot R36,5 miljard. Dit is vir die ses maande tot einde Maart en word dus vergelyk met die ses maande tot einde Maart 2020 – dus grootliks die tyd (daar was inderdaad so ’n tyd) vóór die Covid-19-pandemie.

Lourens sê een van die belangrikste prestasies van die afgelope ses maande is dat hulle hul skuld met R8 miljard – van R14,1 miljard tot R6,1 miljard – kon verminder. Dit was danksy sterk kontantskepping en konserwatiewe kredietverlening. Nagenoeg 93% van Pepkor se omset is uit kontantverkope.

Hulde

Lourens bestempel die Pepkor-werknemers wat in oproepsentrums en winkels werk as die maatskappy se helde aangesien hulle byna heeltyd blootgestel is aan infeksie, nie soseer in die winkels self nie, maar ook op pad werk toe in openbare vervoer.

Die groep, wat meer as 50 000 werknemers het, het 33 werknemers aan Covid-19 afgestaan.

Paxi groei

Die afleweringsdiens Paxi, waardeur pakkies van Pep tot Pep gestuur kan word, behartig nou meer as 9 100 pakkies per dag en het die afgelope ses maande 1,7 miljoen pakkies behartig.

Hoewel dit nie ’n kernonderneming in terme van inkomste is nie, sê Lourens, is dit opmerklik hoe baie klein ondernemings die diens gebruik om produkte by hul klante te kry.

Hy is nie uitermate bekommerd oor die hofsaak wat die Poskantoor teen koeriermaatskappye aanhangig gemaak het om sy wetlike monopolie op pakkies van minder as 1 kg af te dwing nie. “Ek glo gesonde verstand sal seëvier. Dit sal fataal vir die hele koerierbedryf en baie negatief vir verbruikers wees.”

Verskillende segmente se prestasie

Pepkor doen verslag in vier segmente – een daarvan, boumateriale, waarskynlik vir die laaste keer gegewe dat The Building Company (Buco) onlangs aan Cashbuild verkoop is. Dit is nog aan goedkeuring deur die Mededingingskommissie onderhewig.

In syfers

Pepkor se syfers vir die ses maande tot einde Maart lyk as volg:

  • Inkomste het met 8,1% tot R36,5 miljard gestyg.
  • Wesensverdienste het met 50,6% tot 68,8c per aandeel gestyg.
  • Bedryfswins voor kapitaalitems het met 18,5% tot R4,6 miljard gestyg.
  • Die groep het sy skuld met R8 miljard tot R6,1 miljard verminder.
  • Geen tussentydse dividend is uitgekeer nie.

Klere, skoene en algemene handelsware

Dié afdeling sluit welbekende handelsname soos Pep, Ackermans, Refinery, Tekkie Town en Shoe City in en verteenwoordig byna 73% van die groep se inkomste.

Verkope het met 8,1% tot R26,3 miljard en die bedryfswins met 15,7% tot R4,1 miljard gestyg.

Die groep sê verkope van babaprodukte en huisware, asook van slimfone is aan die toeneem.

Die verkope van vroueklere in Ackermans was veral goed. Groei van 16,2% is behaal. Die groep het nou 28 Ackermans Woman-winkels.

In die Speciality-afdeling, wat Tekkie Town insluit, het die verkope met 16,6% opgeskiet – as John Craig uitgelaat word.

Meubels, toestelle en elektronika

Die verkope van Bradlows, Russels, Incredible Connection en HiFi Corp het met altesame 12,8% tot R5,7 miljard, en die bedryfswins met 15,4% tot R209 miljoen gestyg.

Finansiële tegnologie

Die inkomste van die afdeling wat die mikrolener Capfin en die betaalpunt-verskaffer Flash insluit, het met 3,1% tot R4,5 miljard, en bedryfswins met 68,8% tot R336 miljoen gestyg.

Omdat minder krediet toegestaan is en die rentekoers verlede jaar gedaal het, het Capfin nou met 214 000 rekeninge meer as 100 000 minder rekeninge – teenoor 333 000 verlede jaar dié tyd – op sy boeke. Die kredietboek is ook op R1,9 miljard sowat R700 000 minder.

Nagenoeg 196 000 spazawinkels en straatverkopers gebruik nou Flash se tegnologie.

Boumateriale

Buco se verkope het met 9,6% tot R4,2 miljard gestyg en bedryfswins voor kapitaalitems het met 59,5% tot R177 miljoen opgeskiet. Buco word egter as ’n beëindigde onderneming aangedui.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor.
Vooruitsigte

Die tweede helfte van Pepkor se boekjaar gaan waarskynlik selfs sterker groei toon aangesien dit vergelyk sal word met die ses maande wat die aanvanklike streng inperking van April 2020 sal insluit.

Lourens meen egter nie die syfers sal té skeefgetrek wees nie omdat mense winkels toe gestroom het vir wintersklere nadat vlak 5 verlig is.

Lourens verwag nie dat Suid-Afrika weer streng ingeperk gaan word nie, selfs al is daar ’n derde vlaag van infeksies.

Nuwe winkels

Die groep het in die ses maande 108 nuwe winkels geopen, maar het meer winkels toegemaak. Dit was grootliks weens die verkoop van John Craig (111 winkels). Die groep het nou 5 293 winkels. Pepkor beoog om oor die volgende ses maande nog nagenoeg 100 winkels te open. Dit sal hoofsaaklik Pep en Ackermans, die groep se winskoeie, wees.

Meer oor:  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Inperking  |  Winkelsentrums  |  Covid-19  |  Kleinhandelaars  |  Klerekleinhandel  |  Winkels  |  Kleinhandel  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.