Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Minder passasiers knou SAL
Die SAL se internasionale kaartjieverkope het in die jaar met 11% gedaal tot R1,425 miljard

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het gemik vir ’n verlies van R2,7 miljard vir die boekjaar tot einde Maart, maar uiteindelik ’n verlies van R5,673 miljard gely.

Dit blyk uit die aanbieding wat Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, Woensdag aan die parlement se staande komitee oor finansies sou voorlê.

Die nasionale tesourie het Woensdagmiddag ingestem om die aanbieding openbaar te maak nadat die SAL vroeër die dag geweier het om dit met die komitee te bespreek as die vergadering oop sou wees vir die publiek en die media.

Dit volg op ’n verskil onder komiteelede oor of die vergadering met die SAL oop of geslote moes wees.

Die lugdiens het in sy vierde kwartaal (Januarie tot Maart vanjaar) ’n verlies van R1,8 miljard gely weens laer passasiersgetalle as wat vooruitgeskat is en laer inkomste weens wisselkoersskommelinge en die rand se versterking teenoor die dollar.

Vir die volle boekjaar was passasiersgetalle laer as die vorige jaar, en die gemiddelde vliegkaartjiepryse was laer weens groter mededinging en negatiewe sentiment jeens die SAL. Bedryfskoste het gestyg weens duurder brandstof, en instandhoudingskoste oorskry die begroting.

Jarana het vroeër te kenne gegee die SAL sal nie regkom as die negatiewe mediaberiggewing voortduur wat ’n negatiewe beeld van die lugdiens skep nie.

Die SAL se internasionale kaartjieverkope het in die jaar met 11% gedaal tot R1,425 miljard, streekverkope is 6% laer op R394 miljoen, en binnelandse verkope is 21% laer op R1,094 miljard. Die laekostefiliaal Mango en die SAL se vragafdeling het wel goed gevaar. Instandhoudingskoste is 26% meer as die begroting op R1,033 miljard vir die jaar.

Die SAL sê korttermynaanpassings wat help om verliese te keer is onder meer die skuif van vier van sy smalrompvliegtuie na Mango wat laer kostestrukture het.

Alf Lees en David Maynier, DA-woordvoerders oor finansies, het dit Woensdagaand verwelkom dat Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies, besluit het om wel die SAL se aanbieding oor sy vierde kwartaal bekend te maak.

Hulle meen Thandi Tobias, waarnemende voorsitter van die staande komitee oor finansies, het eensydig opgetree toe sy besluit het om die vergadering Woensdagoggend te stop. Blykbaar is personeellede van die komitee gevra om die sekuriteit in te roep om op die dokumente beslag te lê wat voor die vergadering aan komiteelede uitgedeel is.

Die tesourie het later die SAL-aanbieding aan die media uitgestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.