Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lake Charles ruk Sasol se sak

Die petrochemiese reus Sasol se Lake Charles-projek in die VSA het sy sak behoorlik geskud.

Sasol
Sasol se Lake Charles-projek onder konstruksie in die VSA. Foto: Sasol Amerika

Die maatskappy sê Donderdagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, dat hy verwag sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) gaan vir die boekjaar tot einde Junie met tussen 4% en 14% tot R51,5 miljard daal.

Dit is ongeag ’n styging van sowat 19% in die randwaarde van ’n vat Brent-ruolie.

“Dit is hoofsaaklik as gevolg van die negatiewe ebitda-bydrae deur die Lake Charles-projek en die invloed van sagter chemiese marges,” sê Sasol in die verklaring.

Sasol het in Mei aangekondig die chemiese aanleg by Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana gaan hom $1 miljard méér kos as wat voorheen voorspel is.

Dié aanleg gaan nou waarskynlik tussen $12,6 miljard en $12,9 miljard kos. Sasol het oorspronklik gesê dit sou $8,9 miljard kos.

LEES OOK: Dís hoekom Sasol-aanleg $1 mjd. meer gaan kos

Sasol sê hy vorder egter nou goed met konstruksie van die aanleg.

Dit was teen einde Junie sowat 98% voltooi.

Aktiwiteite wat betref ingenieurswese en verkryging is nou byna afgehandel.

Hy het ook reeds met die inbedryfstelling van die etaankraker begin. Die hoop is dat hy einde Julie “of kort daarna” etaan sal begin lewer.

Sasol sê hy is steeds “onder druk” om die laedigtheid poliëtileen-eenheid te voltooi.

Daar was oorspronklik verwag dié eenheid sou in Maart klaar wees. Sasol het egter in Februarie reeds gewaarsku dit sal eers in Augustus klaar wee. Nou verwag hy dit gaan hom nóg vier tot ses weke langer neem om werk af te handel.

Ander dele van die aanleg is ook glo tussen vier en agt weke agter skedule.

Ondersoek

Toe Sasol in Mei aangekondig het hy ervaar probleme met die aanleg en dat hy die koste daarvan moet aanpas, het hy gesê hy gaan ’n interne ondersoek doen om vas te stel hoe die probleme ontstaan het.

Paul Victor, Sasol se finansiële hoof, het in Mei aan Netwerk24 bevestig die ondersoek het reeds begin.

LEES OOK: Sasol: Koppe rol reeds oor duurder Lake Charles

Sasol sê in die handelsverklaring hy verwag om die ondersoek teen Augustus vanjaar af te handel.

Hy het onafhanklike kenners daarby betrek.

Resultate

Wat betref finansiële resultate sê Sasol, dat ongeag die bykomende uitgawes by Lake Charles, verwag hy dat sy wesensverdienste per aandeel met tussen 7% en 17% tot R32,10 kan styg. Dit is teenoor die vorige boekjaar.

Verdienste per aandeel gaan egter met tussen 46% en 56% daal teenoor die vorige boekjaar. In 2018 was die basiese wesens verdienste R14,26 per aandeel.

Dit is egter nie net in Amerika waar Sasol die wind van voor kry nie.

’n Waardevermindering van R3,3 miljard vir sy ammonia-bedrywighede in Suider-Afrika en van R1,9 miljard vir sy skaliegasbedrywighede in Kanada, is ook ingereken.

Sasol maak sy jaarresultate op 19 Augustus bekend.

Sy aandeelprys het Donderdagoggend teen R328,94 op die JSE begin verhandel.

Meer oor:  Sasol  |  Louisiana  |  Lake Charles  |  Chemikalieë  |  Olie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.