Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lancet toets nou bloed saam met Franse firma

Die Suid-Afrikaanse patoloë Lancet Laboratories het ’n gesamentlike onderneming met ’n Franse maatskappy, Cerba HealthCare, op die been gebring om laboratoriums in 11 Afrika-lande te bedryf.

Lancet en Cerba het ’n lang geskiedenis van samewerking in Afrika. Foto: Pixabay

Cerba en Lancet het Donderdag in ’n gesamentlike verklaring aangekondig die onderneming sal as Cerba Lancet Africa bekend staan.

Dit kom daarop neer dat Cerba ’n belang in Lancet se bestaande bedrywighede koop.

Die ooreenkoms sluit pertinent Lancet se bedrywighede in Suid-Afrika uit.

Geen besonderhede oor die geldwaarde van die vennootskap is bekend gemaak nie, maar Bloomberg berig Cerba het nagenoeg R1,7 miljard vir ’n 51%-belang in die onderneming belê, volgens iemand met kennis van die transaksie.

Volgens die verklaring op Cerba se webwerf werk die twee firmas al meer as 20 jaar lank saam. Hulle doen saam kliniese toetse deur ’n Johannesburgse maatskappy bekend as Barc RSA.

Cerba Lancet Africa het nou ’n netwerk van 100 geakkrediteerde laboratoriums en meer as 1 400 werknemers en 1,3 miljoen pasiënte. Die onderneming se omset het in 2018 ’n omset van byna R640 miljoen gehad.

Luidens die verklaring vul die twee firmas se mediese kundigheid en kennis van die verskillende lande se mediese gemeenskappe mekaar aan. Albei vennote wil leiers in Afrika word.

“Ons gemeenskaplike doelwit is om mediese dienste te ontwikkel in streke waar ons reeds teenwoordig is en om na ander lande uit te brei. Saam met ons vennoot Lancet Laboratories beplan ons ook ’n ambisieuse beleggingsprogram om innoverende dienste in kliniese patologie te verskaf wat die behoeftes van pasiënte, medici en gesondheidsorganisasies vervul, saam met ondernemings op die vasteland,” sê Jérôme Thill, adjunkhoof van Cerba HealthCare.

Peter Cole, uitvoerende hoof van Lancet Laboratories, beaam dat die twee maatskappye se kundigheid die gesamentlike onderneming sterk maak. “Ons is verheug om met Cerba in vennootskap te tree en sien daarna uit om ons pogings saam uit te brei en te werk om die gesondheid van Afrika se burgers te verbeter.”

Cerba het meer as 500 laboratoriums en 50 tegniese geriewe in Europa, hoofsaaklik in Frankryk, België en Luxemburg. Die groep het ook na dieresorg uitgebrei met Cerba Vet. Die groep het meer as 6 300 werknemers.

Lancet bestaan al langer as 70 jaar en doen sake in 15 Afrika-lande, die meeste van hulle in Suider-Afrika insluitend Botswana, Zimbabwe, Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Volgens Bloomberg sal Cerba Lancet Africa teen 2024 na vyf Franssprekende Afrika-lande uitbrei.

Cerba word deur Kanada se Public Sector Pension Investment Board en Partners Group van Switserland besit.

Lancet word as ’n vennootskap bedryf waarin patoloë self die aandeelhouers is. Meer as 80 patoloë behoort aan die groep, volgens Lancet se webwerf.

Meer oor:  Patoloog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.