Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lank leef die bioskoop: 4DX gee nuwe asem

Ná jare van dalende bywoningsyfers, reken rolprentteaters hulle het dalk ’n keerpunt bereik.

Incredibles 2 was een van verlede jaar se groot suksesse in Suid-Afrikaanse rolprentteaters. Foto: ©2017 Disney Pixar

In 2017 en 2018 het die kaartjieverkope by fliekteaters stabiel gebly op nagenoeg 19,9 miljoen.

Hoewel dit laer is as 2016 se 20,8 miljoen, is daar ’n stygende tendens en kan die syfer teen 2022 tot 21 miljoen styg, sê die konsultantegroep PwC.

In 2011 was bywoning meer as 25 miljoen, maar dit het stelselmatig afgeneem tot sowat 21 miljoen fliekgangers per jaar in die tydperk 2014 tot 2016.

Ryan Williams, besturende direkteur van Ster-Kinekor, het in Januarie aan die aanlyn publikasie The Media Online gesê bywoningsyfers het van 2016 tot 2017 met 7% gedaal, maar het verlede jaar herstel.

Die getal fliekgangers het van Augustus tot Oktober verlede jaar met 7% gestyg vergeleke met die ooreenstemmende tyd in 2017.

Vir Nu Metro, Movies@, EPIC Cinema en ander onafhanklike rolprentteaters was bywoning in Oktober 2018 21% hoër op ’n jaargrondslag, het Popcorn Cinema Advertising aan The Media Online gesê.

flieks

Popcorn hanteer advertensieverkope vir die groot skerm en in die foyers van dié teaters, en verteenwoordig meer as 240 rolprentskerms landwyd.

Nitesh Matai, besturende direkteur van Nu Metro Cinemas, sê afslag op fliekkaartjies, multisensoriese teaters met omringklank, bewegende sitplekke, wind- en watereffekte wat jy kan voel, en BBP-behandeling waar jy fliek kyk in ’n gemakstoel en ’n à la carte-ete geniet, help om mense na die flieks terug te lok.

Volgens hom is afslag op fliekkaartjies vir lede van lojaliteitsprogramme soos Absa Rewards, Sanlam Reality en Momentum Multiply, van die mees gebruikte voordele van dié programme.

Chadwick Boseman as T'Challa in die superhero-fliek Black Panther. Foto: ©Marvel Studios 2018

Bekroonde treffers soos Black Panther, Avengers: Infinity War en Incredibles 2, het ook verlede jaar mense gelok, sê Matai.

Wêreldwyd het Black Panther ’n bruto inkomste van meer as $1,3 miljard verdien en talle loketrekords laat spat. Dit is onder meer die superheld-fliek met die hoogste verdienste nog in Amerika.

Nu Metro verwag rolprente waarvoor fliekgangers vanjaar hul lippe sal aflek, is Avengers: End-game, The Lion King, Toy Story 4, Aladdin en Frozen 2.

Daar is ook groot afwagting vir die vervolg van die komiese plaaslike film Keeping up with the Kandasamys – die Suid-Afrikaanse film met die hoogste verdienste in 2017. Die vervolg, Kandasamys: The Wedding, sal na verwagting teen Pase in teaters draai.

Volgens PwC se vooruitskatting vir die media- en vermaakbedryf van 2018 tot 2022, het loket-inkomste in 2017 met 1,8% tot R1,2 miljard gestyg teenoor die vorige jaar. Teen 2022 kan dit R1,4 miljard wees.

Verbeterings aan rolprentteaters stel fliekmaatskappye in staat om voortdurend kaartjiepryse te verhoog, sê PwC. Lokettreffers wat in 3D-, 4DX-, D-Box- of Imax-formaat vertoon word, maak tot 65% van 2017 se totale inkomste vir rolprentteaters uit, sê PwC.

Volgens MyBroadband wissel Nu Metro se kaartjiepryse vir 4DX tussen R69 en R175, en dié van Ster-Kinekor tussen R52 en R186.

Luidens PwC se verslag kan die Suid-Afrikaanse filmbedryf se totale inkomste teen 2022 op R2,1 miljard (2017: R1,8 miljard) staan. Dit sluit loketverkope en advertensie-inkomste in.

Advertensie-inkomste kan van R560 miljoen in 2017 tot ’n geskatte R708 miljoen teen 2022 styg om 33% van rolprentteaters se inkomste uit te maak.

Meer oor:  Ster-Kinekor  |  Nu Metro  |  Reklame  |  Rolprentbedryf  |  Flieks  |  Rolprente  |  Advertensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.