Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Leer by Duitsers en stel werkers aan in direksies
Augustus 2016: Mynwerkers sing op die koppie by Marikana ter herdenking van die slagting in 2012 toe nege mense dood is na ’n staking waarin werkers van die Lonmin-myn in Noordwes hoër salarisse geëis het. Foto: Felix Dlangamandla

Met verlede jaar se onderhandelinge oor die Mynbouhandves het vakbonde hulle beywer vir werknemerverteenwoordiging in maatskappydireksies, en ’n klousule wat daarvoor voorsiening sou maak, is in die konsephandves ingevoeg. Dié klousule is ter elfder ure op aandrang van die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) geskrap.

Dit dui op die robuuste aard van arbeidsverhoudinge – maar ook gebrekkige samewerking en vertroue. Die departement van minerale bronne was self ongemaklik met die klousule weens die fidusiêre verpligtinge wat dit op werknemerverteen­woordigers sou plaas.

Vroeër vanjaar, op die Afrika-mynbou-indaba, het pres. Cyril Ramaphosa mynhuise uitgedaag om die moed van hul oortuiging te hê om werknemers sitting in hul direksies te gee. In reaksie het Mxolisi Mgojo, MRSA-president, op die Mineraleraad se algemene jaarvergadering in Mei beaam dat ’n volwasse verhouding tussen werkgewers en vakbonde eers gevestig moet word voordat werknemerverteenwoordiging oorweeg kan word.

Duitsland is die wêreldleier op die gebied van werknemerverteenwoordiging in direksies en die Duitse ambassade in Suid-Afrika, in samewerking met die Gordon-instituut vir sakewetenskap (Gibs), het verlede maand vir Reiner Hoffmann, voorsitter van die Duitse vakbondkonfederasie, en Peter Clever, raadslid van die konfederasie van Duitse werkgewersverenigings, genooi om Suid-Afrikaanse vakbond- en sakeleiers toe te spreek oor die Duitse stelsel van medeseggenskap (“co-determination”).

Hoffman sê die Duitsers het ná die Tweede Wêreldoorlog besef die verdeeldheid in vakbond- en werkgewergeledere, en tussen vakbonde en werkgewers, het die geleentheid geskep vir ? Nazi-regime om sonder weerstand te ontstaan. Verdeeldheid het gekeer dat werkgewers en werknemers as ’n verenigde front weerstand teen die regering kon bied. Ná die oorlog was vakbonde dus onder een vakbond-konfederasie verenig en werkgewers onder een werkgewersorganisasie.

Volgens Clever het Duitse werkgewers en vakbonde ook destyds besef dat arbeidsvrede en verhoogde produktiwiteit noodsaaklik was vir ekonomiese groei. In praktyk het dit beteken dat ooreenkomste tussen werkgewers en vakbonde albei partye se belange in ag neem. ’n Wen-wen-ooreenkoms het arbeidsvrede tot gevolg.

Hierdie volwassenheid het die weg gebaan vir die demokratisering van die werkplek. Toesighoudende rade met gelyke verteenwoordiging tussen werknemers en aandeelhouers is in werkplekke gevestig, terwyl werknemers ’n verdere sê gekry het deur werksrade. En politici meng minder by werksplekke in!

Gideon du Plessis

Die raakpunt tussen die hedendaagse Suid-Afrikaanse ekonomie en die Duitse ekonomie ná die Tweede Wêreldoorlog is dat ons ekonomie ook op sy knieë is. Benewens goeie regering is arbeidsvrede, eenheid in die werkplek en verhoogde produktiwiteit nodig vir ekonomiese herlewing.

Martin Schäfer, die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, het gewaarsku dat arbeidsverhoudinge ’n hindernis sal wees vir ekonomiese groei as dit geken word aan wantroue en ideologiese oorlogvoering – wat kenmerkend die geval in Suid-Afrika is. As daar vertroue, verantwoordelikheid en duidelike reëls is, soos in Duitsland, sal dit tot ekonomiese groei lei. Suid-Afrika is ver agter Duitsland wat betref die implementering van medeseggenskap. Maar by die Gibs-gesprek het Sipho Pityana, president van Business Unity South Africa (Busa), gesê dat AngloGold Ashanti ’n afname in mynsterftes beleef het nadat James Motlatsi, stigter en eerste president van die National Union of Mineworkers (NUM), in die direksie aangestel is.

Motlatsi het direksielede oortuig om werknemerbelange voor winste te stel.

Ons moet egter nog heelwat uitdagings oorkom voordat werknemers verteenwoordiging in maatskappydireksies sal kry. Benewens ’n wysiging aan die Maatskappywet, word ’n sterker verbintenis van werkgewers, werknemers en vakbonde benodig om die onderlinge wedywering te versag. ’n Progressiewe werkgewer wat voorsiening maak vir werknemerverteenwoordiging in sy direksie, kan met so ’n dapper stap moontlik werkplekvolwassenheid versnel.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit

Meer oor:  Solidariteit  |  Vakbonde  |  Werkers  |  Arbeidsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.