Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Leër mandjies, beurtkrag knou apteke

Suid-Afrikaners sit al hoe minder items in hul mandjie wanneer hulle winkel toe gaan.

Die apteekgroep Dis-Chem sê die makro-ekonomiese omgewing ondersteun ondernemings glad nie en daarbenewens het beurtkrag ook ’n groot negatiewe impak op mense se koopgedrag.

Dis-Chem
Dis-Chem sê beurtkrag verander mense se koopgewoontes.

Ondanks dié probleme het Dis-Chem se inkomste in die 22 weke tot 2 Februarie met 10% tot R10,3 miljard gestyg.

Beleggers was egter nie juis beïndruk nie en die groep se aandeelprys het in ’n stadium selfs met 6,4% tot R22,47 gedaal.

Ivan Saltzman, Dis-Chem se stigter en uitvoerende hoof, sê danksy die groep se laeprysstrategie, promosies en die wye keuse wat hy aan verbruikers bied, kan hy steeds genoeg voete lok.

Dis-Chem trek ook voordeel uit die konsolidasie van die apteekbedryf, met al hoe meer onafhanklike apteke wat uitgekoop word.

Kleinhandel

Verkope net in Dis-Chem-winkels het met 9,2% tot R9,4 miljard gestyg en Dis-Chem sê hy hou aan om markaandeel in verskeie kategorieë te wen.

Verkope in winkels wat ook in dieselfde 22 weke van die vorige boekjaar oop was en dus vergelykbaar is, het met net 2,1% gestyg en Dis-Chem se pryse het gemiddeld met net 1,2% gestyg. Dit beteken verkope word deur nuwe winkels aangedryf.

Die groep het 12 nuwe winkels in die tydperk bygekry en dié winkels presteer “bo verwagting, wat ons metode vir die keuse van liggings bevestig”.

Dis-Chem verwelkom die feit dat die enkeluitgangsprys van medisyne, soos deur die regering vasgestel, vanjaar met 4,53% gaan styg. Dis teenoor stygings van minder as 2% in vorige jare.

Groothandel

Dis-Chem se inkomste uit groothandelverkope aan sy eie en ander apteke het met 18,3% tot R7,1 miljard gestyg. Hiervan is intergroepverkope R6,2 miljard.

Verkope aan sy eie apteke was 18,2% hoër en verkope aan The Local Choice (TLC) en onafhanklike apteke het met onderskeidelik 20,7% en 14,9% gegroei. TLC is ’n Dis-Chem-franchise.

Dis-Chem gaan sy resultate vir die boekjaar tot einde Februarie op 20 Mei uitreik.

Meer oor:  Dis-Chem  |  Apteke  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.