Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Leerlinge skram weg van rekeningkunde

Daar is ’n dramatiese afname in die getal leerlinge wat rekeningkunde as skoolvak neem.

Faith Ngwenya

Dít kan moeilikheid inhou vir die rekenmeestersberoep, sê Faith Ngwenya, tegniese hoof by die Suid-Afrikaanse Instituut van Professionele Rekenmeesters (Saipa).

“Dit beteken daar gaan oor ’n paar jaar minder rekenmeesters in die arbeidsmark wees,” waarsku sy.

Sy sê Saipa merk dié daling al die afgelope paar jaar op en verwys na ’n aanlyn berig waarin Troy Martins, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die terugvoering van ouers en onderwysers is dat leerlinge nie rekenkunde as vak neem nie, omdat hulle nie suiwer wiskunde as vak wil neem nie. Die twee vakke word gewoonlik saam in ’n vakkeuse-pakket aangebied.

“As hulle toegelaat word tot rekeningkunde-grade by die universiteite, moet die studente wat wiskundige geletterdheid geneem het, gewoonlik hul graad in vier jaar in plaas van drie jaar voltooi omdat hulle ’n oorbruggingskursus moet doen.”

Leerlinge wat ’n aanleg vir rekeningkunde toon, moet vroeg-vroeg geïdentifiseer en aangemoedig word om ’n professionele beroep as rekenmeester te volg. Ouers, onderwysers en die breër samelewing moet betrokke raak.

“Ons het meer bewusmakingsprogramme nodig wat hierdie leerlinge help om die regte beroepskeuse so vroeg as moontlik te maak.”

Sy beveel aan dat daar reeds in gr. 9, wanneer daar met rekeningkunde as vak begin word, bewustheid geskep word oor die voordele wat die beroep bied.

Ngwenya bepleit ook groter betrokkenheid in die opleiding van voornemende rekenmeesters deur die sakesektor en die regering.

Dat minder as ’n kwart van staatsinstellings ’n skoon oudit kry, het in ’n groot mate te doen met die tekort aan basiese rekeningkundige vaardighede in die staatsdiens. ’n Gebrek aan vaardighede dra ook daartoe by dat die regering nie by sy begrotings kan hou nie.

In die private sektor is dié professionele lui onontbeerlik. ’n Professionele rekenmeester skep die stelsels en interne beheer waarteen die onderneming gemeet word.

“Sonder voldoende nuwe talent in die rekeningkundige sektor sal allerlei maatskappye en organisasies swaar trek en ’n premie moet betaal om skaars vaardighede te lok.”

Saipa self bied twee programme aan om leerlinge se belangstelling in rekeningkunde aan te wakker.

Die organisasie het vanjaar ’n gidsprogram in Ivory Park, Midrand, aangebied waar matriekleerlinge deur dosente van universiteite in Johannesburg en statistici van Statistieke Suid-Afrika in rekeningkunde en wiskunde onderrig is.

“Die program was so suksesvol dat ons dit in die September-vakansie herhaal en ook na Alexandra uitbrei,” sê Ngwenya.

Die ander bewusmakingsprojek wat al ’n aantal jare aan die gang is, is Saipa se jaarlikse rekeningkunde-olimpiade waar leerlinge op nasionale vlak met mekaar meeding.

“Ons wil graag albei die programme na soveel skole as moontlik neem en uiteindelik selfs tot so laag as gr. 9-vlak uitbrei,” sê Ngwenya.

Meer oor:  Ouditeurs  |  Saipa  |  Ouditfirma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.