Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Lening net tydelike prop vir sinkende Denel - DA

Die ongeïdentifiseerde lener wat geld aan Denel gee om die oorblywende 15% van sy werknemers se salarisse vir Junie te betaal, is net ’n tydelike pleister vir ’n entiteit op die rand van ineenstorting.

Natasha Mazzone, DA-LP en woordvoerder van openbare ondernemings. Foto: Melinda Stuurman

Só sê Natasha Mazzone, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings.

Sy meen die noodlening aan Denel wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Dinsdagaand in sy repliek op die staatsrede aangekondig het, is nie ’n “kom-gratis-uit-die-tronk-kaart” nie, dis bloot ’n tydelike verligting vir ’n staatsonderneming wat op die rand van die afgrond is.

Denel het Woensdagoggend bevestig werknemers sal die 15% van hul salaris wat hulle nié op betaaldag gekry het nie, Vrydag ontvang.

LEES OOK: Denel bevestig: Werkers kry Vrydag res van salaris

Denel word soos ander staatsondernemings geteister deur verskeie probleme, wat uit jare se staatskaping, wanbestuur en korrupsie spruit, het Mazzone Woensdag in ’n verklaring gesê.

Die DA versoek ’n omvattende hersiening van alle staatsondernemings, en gaan ’n brief aan Gordhan skryf om te vra dat beslissend by disfunksionele staatsondernemings opgetree word.

Ons kan nie bekostig om met die status quo voort te gaan waar ’n regering miljarde rande bestee om staatsondernemings te red pleks van om geld te bestee op werkskeppingsinisiatiewe en dienslewering nie.
Natasha Mazzone van die DA

“Suid-Afrika het honderde staatsentiteite, waarvan baie of heeltemal disfunksioneel is, bankrot is, of bloot geen doelwit dien behalwe om enkele persone met konneksies te verryk nie.

“Baie van die honderde staatsondernemings doen dieselfde werk en behoort eenvoudig in die eerste plek nie te bestaan nie. Hulle suig geld uit die staatskas en hou ’n groot bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in.

“Die regering het al miljarde rande deur reddingsboeie of waarborge op onproduktiewe en ondoeltreffende staatsondernemings gewaag.”

Volgens Mazzone is dit nie nou die tyd om geld na die probleem te gooi nie, maar om die vet uit te sny. “Ons kan nie bekostig om met die status quo voort te gaan waar ’n regering miljarde rande bestee om staatsondernemings te red pleks van om geld te bestee op werkskeppingsinisiatiewe en dienslewering nie.”

Staatsondernemings het sterk leierskap, behoorlike toesig deur die parlement, en werkende stelsels vir verantwoordbaarheid nodig sodat die gehalte van korporatiewe bestuur verbeter kan word. Dit sal meer banke aanmoedig om daarin te belê sodat staatsondernemings vir alle Suid-Afrikaners werk.

“Ons moet die voortgesette misbruik van staatsondernemings vir politieke gewin staak. Die DA is bereid om met die ANC-regering saam te werk om ’n hersiening van al die staatsondernemings te doen sodat dit winsgewend en werkskeppend kan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.